14 Oct 2007

Paul Kruger weer ingehuldig as President van Transvaal



Die Paul Kruger beeld wat al sedert 1961 in Krugersdorp staan, is getooi in 'n ampserp. Hierdie vereering is aan die eertydse President van die ZAR gedoen deur die Paardekraal Verkenners ter viering van sy 182ste verjaarsdag op die 10de Oktober. Paul Kruger was 'n ware Staatsman en het diep spore getrap nie net in die geskiedenis van Suider-Afrika nie, maar ook in die res van die wereld. Krugersdorp is ook na hom vernoem deur MW Pretorius, op wie se plaas die dorp gestig is.Daar is nog 'n standbeeld in Krugersdorp, die van die mitiese figuur Mogale. Die standbeeld van Mogale staan voor die Stadsaal en is deur die Stadsraad opgerig kort na hulle die stadsraad se naam verander het na Mogale City. Dit is jammer dat 'n wereld bekende Staatsman nou moet mee ding met 'n mitiese figuur vir die naam van die dorp.


Ons glo dat elke gemeenskap binne Krugersdorp het die reg (Artikel 30 & 31 van die Grondwet) om hulle kultuur uit te leef, net soos die Portugeuse gemeenskap onlangs onbeskaamd ook 'n Portugeuse fees gehad het.Net so hoef die Afrikaner ook nie skaam te wees vir sy geskiedenis en kultuur nie.

Dit is ongelukkig ook so dat die ANC besluit het om kultuur en geskiedenis te politiseer, dit kan mens sien met hulle naamsveranderings proses. Dit is niks anders as 'n aanslag op die Afrikaner se geskiedenis nie! Paul Kruger is reeds in 1902 oorlede en het dus niks te doen gehad met Apartheid nie en dus kan die dorpsnaam aan niemand aanstoot gee nie. Geen van die voorstede of straatname in die dorp kan ook aanstoot gee nie, daar is dus geen rede hoekom die belastingbetalers moet betaal vir onnodige naamsveranderings nie. Indien die stadsraad besluit om dit te doen, is dit slegs polities gemotiveerd en dit sal jammer wees as die dorp se ryk geskiedenis moet plek maak vir politiese motiewe.

Soos wat die Verkenners, 'n kultuur organisasie homself toespits op kultuur aangeleenthede, moet die stadsraad homself eerder toespits op die bestuur van die dorp. Elke skoenmaker hou hom by sy leer. Ek glo binne die stadsraad is daar verskeie aangeleenthede wat hulle dringende aandag nodig het, vullisverwydering en die half afgebreekte Jan Lots stadion wat maar twee voorbeelde is. Die stadsraad se prioriteite moet eerder by die dringende aangeleenthede le. Hulle is deur die inwoners verkies om diens te verskaf en om rentmeesters te wees van die dorp, en nie om in te meng in die kultuur en geskiedenis van die inwoners nie.