05 Dec 2008

Die DA kaap my kultuurerfenis




Media Verklaring
Paardekraal Verkenners
5 Desember 2008

Die DA kaap my kultuurerfenis



Na aanleiding van die berig wat in die 5de Desember 2008 se uitgawe van die Krugersdorp nuus verskyn het; "Kakebeenwa kom in Krugersdorp aan", net die volgende regstelling.

Die DA het NIE die Bloedrivier 170 herdenking by Paardekraal gereël nie. Hulle het ook nie die kakebeenwa "begelei" nie. Inteendeel, het hulle niks daarmee te doen gehad nie, die lede van die DA wat wel daar was, was daar in hulle persoonlike hoedanighede en het aan geen van die organiseerders te kenne gegee dat hulle DA raadslede is nie. Die persepsie wat die DA met die berug geskep het, dat hulle betrokke was by die dag of dat hulle die dag gereël het of die kakebeenwa "begelei" het, is van alle waarheid ontneem en is opsetlike agteraf misleiding. Die Feit dat die DA elders in die land die kultuur erfenis van die Afrikaner vertrap, soos die straatname wat hulle in die Kaap verander het, maar nou hierdie Afrikaner kultuur-dag wil kaap vir hulle eie gewin, laat 'n wrang smaak in die mond en is soos 'n dolk in enige Afrikaner hart. Dit is duidelik dat hulle geen amptelike beleid het oor kultuur sake nie en maar in elke stad of dorp vir die gehoor speel. Die Paardekraal Verkenners gaan egter nie toelaat dat die DA die Afrikaner se kultuur erfenis as 'n politieke speelbal gebruik nie, veral nie in Krugersdorp nie en veral nie as dit aksies is wat gereël en gefinansier is deur die Paardekraal Verkenners nie!

Dennis Pretorius van die DA wat klaarblyklik ook die oggend voor die optog by Paardekraal was, het blykbaar ook vinnig verdwyn toe die volks-vlae wat in die optog gebruik is te voorskyn gebring is. Dit is dieselfde Dennis Pretorius wat betrokke is by die publisiteit vereniging en tien teen een betrokke was by die verandering van die naam van Krugersdorp publisiteit vereniging na Mogale tourism. Is dit hoeveel die DA omgee vir die kultuurerfenis van Krugersdorp? Is dit hoeveel die DA omgee vir die kultuurerfenis van die Afrikaner? Weereens 'n bewys dat hulle vir die gehoor speel, behalwe as hulle toere doen binne die stadsraad. Dit is tog immers die stadsraad se naam wat na die mitiese figuur Mogale vernoem is, nie die dorp nie. Krugersdorp bly Krugersdorp! Indien Mogale tourism dan wel toere doen binne die stadsraad, dan stel ek voor dat hulle sommer die mense wat by die stadsraad werk ook op daardie toer neem en hulle wys waar die telefone is, sodat die belastingbetalers van Krugersdorp se oproepe beantwoord kan word.

Dit is ook nie die eerste keer dat raadslede van die DA kultuur-aksies in Krugersdorp kaap nie. Verlede jaar was daar 'n aksie om die konsentrasiekamp-kerkhof skoon te maak en het 'n DA raadslid ook in die media voorgegee of dit 'n DA aksie was. Laakbaar!

Ek rig 'n vriendelike waarskuwing aan die DA om nie verder die Afrikaner se kultuurerfenis te misbruik vir goedkoop politiek nie. Ek besef daar is 'n verkiesing binnekort, maar dit is oneties om in die media die persepsie te skep dat die DA hierdie kultuurdae reël wanneer die waarheid is, dat die DA niks met die reëlings te doen gehad het nie en bloot op die spreekwoordelike wa gespring het toe hy verby gekom het. As die DA dan werklik iets gevoel het vir die Afrikaner se kultuurerfenis, dan sou hulle al lankal self 'n kultuurdag of iets dergeliks gereël het. Maar hulle het nie en sal seker ook nooit nie. Dit is mos makliker om by die agterdeur in te glip van iemand anders se reëlings en dan in die media in die kollig te dans.

Die arrogansie en agterbaksheid van hierdie DA raadslede is verstommend en aangesien hulle nie vertrou kan word met die waarheid nie, het die Paardekraal Verkenners geen ander keuse as om enige DA raadslid as persona non grata te verklaar, by ENIGE kultuur byeenkoms gereël deur die Paardekraal Verkenners.

Verder verwag die Paardekraal Verkenners 'n amptelike publieke verskoning van die DA, om te verskyn in dieselfde koerante waarin die DA die leuens verkondig het. Dit word verder verwag dat hierdie verskoning sal verskyn binne 30 dae vanaf datum van hierdie skrywe.

Die uwe,

Ben Geldenhuys
Paardekraal Verkenners