29 Apr 2008

Vergewe en Vergeet


Daar het ‘n doringboompie

vlak by die pad gestaan,

waar lange ossespanne

met sware vragte gaan.



En eendag kom daarlanges

‘n ossewa verby,

wat met sy sware wiele

dwars-oor die boompie ry.



“Jy het mos, doringstruikie,

my ander dag gekrap;

en daarom het my wiele

jou kroontjie plat getrap.”



Die ossewa verdwyn weer

agter ‘n heuweltop,

en langsaam buig die boompie

sy stammetjie weer op.



Sy skoonheid was geskonde;

sy bassies was geskeur;

op een plek was die stammetjie

so amper middeldeur.



Maar tog het daardie boompie

weer stadig reggekom,

want oor sy wonde druppel

die salf van eie gom.



Ook het die loop van jare

die wonde weggewis –

net een plek bly ‘n teken

wat onuitwisbaar is.



Die wonde word gesond weer

as jare kom en gaan,

maar daardie merk word groter

en groei maar aldeur aan.


Totius

Vryheidsdag


Terwyl die reenboognasie hierdie week die onwettige verkiesing van 1994 herdenk het, is dit ironies dat hulle dit "Vryheidsdag" noem. Op hierdie dag in 1994 het die Afrikaner sy vryheid verloor, nie net sy politiese vryheid nie, maar ook sy vryheid van burgerskap.

'n Regering bied aan sy burgers sekuriteit, opleiding en die geleentheid om te werk of om 'n besigheid te bedryf. Die Afrikaner is nie meer veilig in hierdie land nie, dit is immers die onveiligste land in die wereld. Die staatskool bestel het verval tot amper die swakste in die wereld en Afrikaanse skole word een na die ander verengels. Die Afrikaner is ook die geleentheid ontneem om te werk en besigheid te doen in hierdie land, deur die rassistiese wetgewing byname "Affirmative action" en swart ekonomiese bemagtiging.

As mens in ag neem dat die verkiesing van 1994 onwettig was, aldus Advokaat Paul Kruger, 'n kenner in die volke-reg wat 'n studie gedoen het daaroor. Kan die Afrikaner "Vryheidsdag" vier?

Die Afrikaner is egter bekend daarvoor dat hy nie onder gekry word nie. Die geskiedenis is 'n bewys daarvan. Na die tweede vryheidsoorlog het hulle plase in verwoesting gele, na die Engelse se verskroeide aarde beleid. Ook kon die Afrikaner nie werk kry nie, omdat hulle nie die Engelse taal kon praat nie.

Die Afrikaner het nie gaan le nie en teen 1938 met die herdenking van die Groottrek, was dit nie arm-Afrikaners wat die ossewaens in Pretoria ingewag het nie, maar stads-Afrikaners, met eie skole, eie koerante en eie besighede.

'n Mens kan argumenteer dat die onreg wat aan die Afrikaner gedoen is, die Afrikaner gedwing het om op te staan.

Dit gebeur vandag weer. Hoe dan anders? As die eens magtigste empire in die wereld nie die Afrikaner kon breek nie, hoe sal 'n terroriste bende hierde volk breek?

Terwyl die reenboognasie besig is om te verval in ellende, is die Afrikaner aan die opstaan. Die mite dat die Afrikaner nie kan saam staan nie, is ook die nek in geslaan met die stigting van die Afrikanerfront waar reeds 23 Afrikanerorganisasies aangesluit het. DIe CVO skole, ten spyte van aanvalle deur die regime, beur voort en groei van krag tot krag om ons kinders 'n Christelike eerstewereldse opvoeding te bied. Die AVKB vul hierby aan deur vir die Afrikaner kinders kampe aan te bied waar hulle weer vrylik Afrikanerkinders kan wees.

Die erfenis van die Afrikaner, word ten midde van al die probleme ook na omgesien. In 1940 plaas die Ossewa brandwag 'n hoeksteen by Majuba wat lees dat Majuba bewaar moet word vir die Afrikaner. Aan hierdie wens het die Afrikaner ook uiting gegee. Radio Pretoria, die Radio met grense, het ten midde van aanslae en alle pogings om haar stem te stil, gegroei tot die enigste stem van die Afrikaner. Die nuwe toring gaan die Radio se stem en dus die stem van die vryheidsversigting van die Afrikaner nog verder uitdrae.

Hierdie volk sal nie weer opstaan nie, hierdie volk het reeds opgestaan.

27 Apr 2008

Die onbekende President


Martinus Wessel Pretorius (1819 - 1901).

MW Pretrius was die seun van die bekende Andries Pretorius, hy is gebore in 1819, wat beteken dat hy 19 was tydens Bloedrivier. Ook was hy die eerste President van die ZAR.

Die bekende wereldstad Pretoria is deur hom ontdek, hy het die stad na sy Pa Andries Pretorius vernoem. So ook is Krugersdorp deur hom ontdek, hier het hy Paul Kruger vernoem. Die dorpie Christiana is na sy dogter vernoem. Daar is geen dorp wat sy naam dra nie, die dorp wat wel na hom vernoem is, Marthinus Wesselstroom, is bekend as Wakkerstroom, alhoewel die amptelike naam nooit verander is nie. Geskiedenis is werklik nie vriendelik met hierdie President nie.

Vergeleke met sy vader en Paul Kruger is hy vandag redelik onbekend. Dit kan tog nie oorlog wees wat Paul Kruger meer bekend gemaak het as vir hom nie. President M.W Pretorius was tog by Bloedriver en betrokke by die eerste vryheidsoorlog. Hy is oorlede in 1901, tydens die ABO. Ook was daar die voorval in 1857 waar hy 'n deel van die Vrystaat op ge-eis het vir Transvaal wat amper tot oorlog tussen die twee republieke gely het. Tog dien hy as President van die Vrystaat tussen die jare 1861-1863.

Was dit Paul Kruger se groot Christelike geloof wat hom meer bekend gemaak het? Ook dit is onwaarskynlik. M.W Pretorius het tog die eerste Predikant vir die ZAR uit Europa laat kom, Ds van der Hoff. van der Hoff is ook die man wat die Vierkleur vlag ontwerp het.

Daar bestaan dus geen ooglopende rede hoekom hy minder bekend is nie, behalwe dat Paul Kruger President was tydens die ABO en daardeur wereld bekend geword het. In volksgeledere behoort hy egter ewe bekend te wees.

21 Apr 2008

Die ontstaan van konsentrasiekampe tydens die ABO


08 Apr 2008

Wielrijders Corps


Reeds voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Danie Theron en sy vriend Koos Jooste,, wat 'n ywerige fietsryer was, die regering van die ZAR versoek om 'n fietsryerskorps op die been te bring. Na 'n resies tussen Pretoria en Krokodilbrug tussen Jooste en ene Martiens wat te perd was, wat Jooste dan ook wen, gee die kommandant-generaal van die ZAR, Piet Joubert toestemming dat die Wielrijders Corps gestig kan word.

Die korps het bestaan uit 100 jong mans wat deur Theron en 'n paar van sy helpers uit die geledere van die burgerlike bevolking asook die van goedgesinde vreemdelinge wat in die Republiek gewoon het, gekies is.

Die doel van die korps was om 'n vinnige rapportdiens tussen die verskillende seksies van die Boere se leërafdelings daar te stel. Theron was oortuig dat die fietsryers vinniger as perderuiters kon beweeg en ook nie so maklik in die veld deur die vyand opgemerk sou word nie. Die korps sou uiteindelik ook dien as 'n inligtingsdiens vir die Boere.

Aan die hoof van die korps het Danie Theron gestaan wat op 13 September 1899 formeel duer die kommandant-generaal in die posisie aangestel is. Theron is bygestaan deur luitenante wat in bevel van elke seksie was. Hy het elkeen persoonlik uitgesoek en aangestel en hulle was aan hom persoonlik verantwoordelik. J P (Koos) Jooste is later bevorder tot onderkaptein van die hele korps.

Elkeen van die manskappe is voorsien met 'n fiets, 'n rewolwer en waar nodig met 'n karabyn. Slegs die betroubaarste manne is tot die korps toegelaat. Die Wielrijders Corps het byvoorbeeld waardevolle werk aan die Swazilandgrens verrig waar hulle die grens gepatrolleer het. Die Engelse se fietsryerkorpse het weer die spoorlyn in die Noordwes-Kaap gepatrolleer.


Reeds voor die oorlog het kolonel George Knox die eerste fietsryerskorpse in Engeland in die leër op die been gebring. Toe die oorlog uitbreek was die City of London Imperial Volunteers en twee bataljons van die Royal Dublin Fusiliers toegerus met fietse. Van die plaaslike regimente het ook van fietse gebruik gemaak byvoorbeeld die Rand Rifles en die Cape Cyclist Corps

Die fietsryers aan Britse kant het ook as skakel tussen die infanterie en die ruitery opgetree. Hulle het telegramme, geld, verslae, rapporte asook die posduiwe vervoer. Majoor BFS Baden-Powell het tot 'n opvoubare fiets gebruik terwyl agt soldate die sogenaamde "War Cycle" beman het. Hulle het 'n spoed van 48 km per uur behaal .

Die fiets het egter nooit die perd as vervoermiddel gedurende die oorlog vervang nie.

Danie Theron


Danie Theron



Toe Danie Theron op 5 September 1900 in die Gatsrand tydens 'n skermutseling met die Engelse sterf het die Boere een van hulle knapste verkenners verloor.

Hy is op 9 Mei 1872 in die Kaapkolonie by Tulbagh gebore. Op tienjarige ouderdom verlaat hy sy ouerhuis om sy halfbroer, Johannes Pretorius wat 'n onderwyser was, na Bethlehem in die Vrystaat te vergesel. In 1888 behaal hy sy skooleindsertifikaat en verower 'n beurs van Kaapland om verder te gaan leer. In 1889 behaal hy sy matrikulasie sertifikaat en kwalifiseer as onderwyser. Voordat hy as ingeskrewe klerk by die prokureur CT Rabie op Pietersburgbegin werk, het hy eers skoolgehou in Kroonstad. Na sy deelname aan die Malaboch-oorlog (1894) kry hy volle burgerskap van die ZAR.

Nadat hy in 1897 as prokureur gekwalifiseer het, begin hy 'n praktyk op Krugersdorp. Sy praktyk floreer. Hy ontmoet Hannie Neethling, die meisie met wie hy van voorneme was om te trou. Sy sterf in Augustus 1898 . Dit is 'n verpletterende slag vir Theron en hy bly ongetroud.

Ontsteld oor 'n artikel wat in The Star verskyn gaan hy na Johannesburg waar hy 'n apologie van die redakteur, W F Moneypenny, eis. Toe hy dit nie kry nie slaan hy Moneypenny en breek Moneypenny se bril in die proses. Op 25 April 1898 word hy skuldig bevind aan aanranding en moet óf twee maande tronk toe gaan óf 'n boete van £20 betaal. Sy boete word egter namens hom betaal deur die mense wat in die hof teenwoordig was.

Op die vooraand van die oorlog oorreed hy die Transvaalse regering om die Wielrijders Rapportgangers Corps te stig om as verkenners en rapportryers in die oorlog op te tree. Voor die oorlog het lede van die korps inligting versamel oor die Britse militêre voorbereidings vir die oorlog. Theron besoek self Kimberley, Mafeking en Bulawayo. In sy hoedanigheid as kaptein van die korps dien Theron op generaal Louis Botha se staf in Natal. Die rapportryerskorps toon gou sy waarde: die dapper, gedissiplineerde manier waarop die lede van die korps hulle pligte doen, kry baie lof, selfs van die burgers wat aanvanklik skepties teenoor die skepping van so 'n korps gestaan het. Hy lewer waardevolle diens by die slag van Spioenkop (15.12.1899) en Colenso (24.01.1900)

Op 24 Februarie 1900 sluit hy aan by die krygsmag van generaal CR de Wet waar hy een van die waaghalsigste van al sy kordaatstukke gedurende die oorlog uitvoer deur 'n boodskap na generaal Piet Cronje wat by Paardeberg vasgekeer was, te bring. Hy het deur die Britse linies gekruip.

Op 5 Maart 1900 stig hy die Theron Verkennerskorps (TVK) wat saamgestel is uit ongeveer 'n honderd jong mans uit verskillende nasionaliteite. Die korps het nie net slegs respek aan albei kante, beide Boer en Brit afgedwing nie maar het hoë standaarde gestel aan sy manskappe. Die korps het ook 'n hoë gevegspeil gehandhaaf. Van die manskappe wat later hulle eie korpse gehad het of hulself in die oorlog onderskei het was Manie Maritz, Wynand Malan, Barnie Enslin, Henri Slegtkamp, Walter Mears en Jack Hindon. Die TVK lewer 'n groot bydrae tot die suksesvolle en uiteenlopende optredes van generaal CR de Wet onder wie hulle hoofsaaklik opgetree het. Hulle was byvoorbeeld die generaal se oë en ore tydens die eerste 'dryfjag' op hom. Die TVK verskaf inligting oor Britse troepebewegings, blaas treinspore op, en bevry selfs by geleentheid krygsgevangenes wat deur die Engelse op Vanwyksrust aangehou is.

Na die oorlog word sy oorskot herbegrawe op die plaas Eikenhof, langs die graf van Hannie Neethling.

Vyftig jaar na sy dood word die Danie Theron-monument op Theronskop waar hy gesneuwel het, onthul.

07 Apr 2008

van Riebeeck gelofte


6 APRIL 1654

Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het,

het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.

Jan van Riebeeck se gebed (1652)



VAN RIEBEECK SE GEBED (1652)

Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader , dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in water mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus ... wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, ... Amen