28 Mar 2011

Verkenners 21





Op 9 Oktober 2010 het die Verkenners Beweging van Suid-Afrika hulle 21ste verjaarsdag gevier. Hierdie vieringe het saam met die tradisionele Paul Kruger fees geval wat gewoonlik gedurende Oktober deur die Paardekraal verkenners aangebied word.


Dit was voorwaar 'n trotse oomblik vir die Paardekraal Verkenner pos om hierdie geleentheid aan te bied. Verkenners van heinde en verre het al van Vrydag 8 Oktober hulle karavane en tente staan gemaak onder die heerlike koelte bome van die Paardekraal terrein.


Die dag het weer 'n propvol program gebied. Alle aktiwiteite is dan ook deur Verkenners self aangebied.


Die Verkenners het 'n optog vanaf die monument na die Paul Kruger standbeeld onderneem, elk met 'n volksvlag oor die skouer. By die standbeeld is Oom Paul in sy amp serp getooi, nadat hy weer ingehuldig is as President. So kon hy sy verjaarsdag tegemoet gaan in 'n amptelike hoedanigheid.


Ons was bevoorreg om die eerste Verkenner President en stigterslid, Oom Steve Stydom, as spreker vir die geleentheid te he. Hy het die geskiedenis van die ontstaan vertel met 'n traan in die oog. Alle Verkenners het die praatjie interessant gevind.


Daar is ook 'n veiling gehou, en artikels wat onder die hammer gekom het, was 'n Vierkleur koek met die Verkenners se wapen daarop. Daar was ook twee bottels mampoer wat van 'n spesiale uitgawe van die vyfde kongres van die Verkenners oorgebly het. Dit is goedgustiglik geskenk vir hierdie spesiale geleentheid.


Na die feesprogram is daar 'n regte Verkenners Cantus gehou. Dit is ongelukkig kort geknip deur 'n hoeveldse donderstorm.


Die Sondag was dit den einde niet. Daar is 'n kerkdiens gehou vir almal wat gekamp het, of wat die diens wou bywoon. Daarna is daar aan boeretroos en verjaarsdagkoek gesmul.

Paardekraal Monument Naambord



Net voor die fees wat die 17de Julie 2010 by die monument aangebied is, het die Paardekraal Verkenners in samewerking met die Oranje sakekamer en Camdix wapens 'n splinternuwe naambord vir Paardekraal opgerig.


Dit is lekker om met sulke ywerige werkers soos die Paardekraal verkenners geasosieer te word.

Republikeinse Volksvergadering herdenking



"Die tyd het aangebreek dat die volk van Suid-Afrika hom moet klaarmaak om die stigting van 'n vrye Republiek van Suid-Afrika, afgeskei van die Britse kroon en Ryk, te eis." Met hierdie woorde het dr. N.J. van der merwe in Julie 1940 die Afrikanervolk opgeroep tot 'n groot volksvergadering om die noodsaaklikheid van die stigting van 'n Republiek te beklemtoon en stappe te doen ten einde langs konstitunele weg daadwerklik op te tree vir die verwesenliking van hierdie groot doel. Die Paardekraal Verkenners het onder die vaandel van die Afrikanerfront die taak aangepak om die sewentigste herdenking van hierdie vergadering te vier met 'n fees op die Paardekraal Monument terrein. Die fees het dan ook plaasgevind op die 17de Julie 2010. Daar was soos in die verelede verskeie stalletjies waar besoekers heerlike eetgoed en snuisterye kon bekom. Die dag het bestaan uit die nou gebruiklike vlag optog wat kleur aan die dag verleen het. Een van die hoogtepunte van die dag, was die sprekers. Prokureer Paul Kruger van die Volksraadsverkiesingskommisie het meer lig gewerp op die pad vorrentoe met die nuwe vryheidseis waarmee die Afrikaner vandag te doen het. Die voertuig na vryheid in ons huidige omstandighede is dan ook die VVK. Mnr. Andries Breytenbach, voorsitter van die Afrikanerfront het hierna aan die woord gekom. 'n Pragtige boodskap is ook deur hom gelewer met instemmende kommentaar en waarderende applous deur die persone teenwoordig. Die seremoniemeester vir die dag was die bekende Mnr. Henk van der Graaf van radio Pretoria. By hierdie geleentheid is daar ook weer met 'n klipstappeling begin. Soos die meeste weet, of behoort te weet, het Paardekraal monument sy ontstaan as gevolg van 'n klipstapeling. Hierdie nuwe klipstapel is begin as simbool van elkeen wat hom wil verbind aan die vryheidstryd wat tans aan die gang is. Hierdie klipstapeling sal dan met elke fees geleentheid op Paardekraal aangevul word. Daar is hierdie naweek ook heerlik gekamp by die terrein. Die feestelikhede het ook al die 16de begin met die eerste Cantus wat by Paardekraal gehou is. Dit was voorwaar n geleentheid om te onthou.