14 Oct 2007

Geskenk aan ATKV - 31 Mei 2007





'n geraamde Vierkleurvlag is aan die ATKV oorhandig met die volgende aangehegde boodskap:


Binne die Nuwe Suid-Afrika, is daar daagliks aanslae op die Afrikaanse taal en kultuur.

Vir ons as Afrikaners, is dit dus verblydend om te weet dat daar nog ‘n organisasie soos die ATKV is. ‘n Organisasie wat al bykans 77 jaar bestaan en 183 000 lede het.

Die ATKV se doel, as ons dit reg verstaan, is die opbou en beskerming van die Afrikaanse taal en kultuur.

Hierdie jaar is die 150ste herdenking van die Vierkleur vlag. Ons het tot op datum nog nie gesien dat die ATKV hierdie kultuurskat se verjaarsdag herdenk nie. Die enigste rede wat ons kon dink hoekom die ATKV nie betrokke is by die herdenking van die Vierkleur nie, is omdat die ATKV nie bewus is van die 150ste bestaansjaar nie.

Ons het dit dus goed gedink om aan die ATKV, ‘n Vierkleur te oorhandig om die ATKV bewus te maak van die herdenking.

By nadere ondersoek was ons ook geskok om te verneem dat die ATKV jaarliks R50 miljoen Rand spandeer op onder andere “sosio-maatskaplike projekte van agtergeblewe gemeenskappe uit alle rassegroepe.”

Waar pas dit in by ons, as Afrikaners, se taal, kultuur en onderrig? Daar is tog baie organisasies, waarvan die regering een is, wat omsien na die welstand van agtergeblewe gemeenskappe.

Binne die doelstellings van die ATKV, is daar ook heelwat aksies waarby die ATKV nie betrokke raak nie. o.a die taalkwessies by skole, universiteite en die sakewereld. Daar is ook aanslae op ons kultuurerfenis, o.a. die vernietiging van die monument in Standerton en die herdenking van die Vierkleur. Historiese straat- en dorpsname word ook verander sonder dat die ATKV sy 183 000 stemme dik maak.

Alhoewel dit dus prysenswaardig is dat die ATKV betrokke is by sosio-maatskaplike ontwikkeling, stel ons voor dat die ATKV eers moet aandag gee aan die aanslae op ons taal en kultuur, wat hulle primêre funksie is en daarna betrokke raak by sosio-maatskaplike aksies.