18 Dec 2007

Paardekraal Geloftefees-naweek 2007


Die Geloftefees-naweek by Paardekraal was die perfekte manier om 'n jaar af te sluit, veral 'n jaar soos hierdie waarin daar soveel dinge aan die gebeur is in die Volksgeledere. Daar is besluit om die naweek by Paardekraal te kamp deur die Paardekraal Verkenners en ook deur Bravoland.

Die meeste van die naweek-kampers het reeds Vrydagmiddag gearriveer en daar is die aand heerlik om die kampvuur gekuier.

Saterdagmore was die groot skoonmaak-aksie, alles moes netjies en skoon gemaak word vir die verrigtinge wat daardie middag reeds begin het. Banke is gewas, rommel opgetel (wat deur volksvreemdes daar gestrooi is) en die badkamers is geskrop.



Die Saterdagmiddag is daar eers vinnig middagete genuttig waarna almal, groot en klein, aan die Boeresport deelgeneem het. Daar is twee spanne gekies, die De Wets en die De la Reys. Dit was hartseer dat een van die spanne, wat hierdie Generaals se name gedra het, moes verloor, maar dit het nie regtig gegaan oor wen of verloor nie.

Daar was windbuks geskiet, tou getrek, sakresies, eier-hardloop en eier-gooi gedoen, voorwaar 'n heerlike dag. Camdix wapenhandelaar het pragtige pryse geborg en dit is deur die Direkteur van Camdix oorhandig na afloop van die dag.


Teen 18hoo het die Boereorkes van Monument-skool begin om lekker musiek te maak, waarna die Volkspele-gulde 'n Volkspele-vertoning gelewer het. Na afloop van hul vertoning het hulle ook mense uit die gehoor "genooi" om saam met hulle te kom "speel". Dit was nogal prettig, veral omdat die meeste van ons nie 'n idee gehad het wat ons doen nie! Tog het hulle ons baie mooi gehelp.



Die Sondagmore is almal vroeg uit die vere, die eerste diens was reeds 06h00, ek weet van 'n paar mense wat maar swaar opgestaan het, want slaap die vorige aand was maar min. Teen 09h00 is die vlae gehys, die Transvaalse Vierkleur aan die noordekant en die Vrystaatse Vierkleur aan die suidekant. Daarna is die 1880-Gelofte gelees en die woorde daarvan maal steeds in my kop, aangesien dit ook vandag waar is. "Als door een dief in de nacht is onze vrije Republiek weggestolen." Prof. Erik Holm, 'n entomoloog van Tukkies, het die feesrede gelewer. Uit 'n bioloog se oogpunt het hy die Afrikaner eers gedisektiseer en toe geklassifiseer. Die slotsom van die saak, was dat jy deel is van die Volk, as jy deel WIL wees van die Volk.



Daarna is die 1838-Gelofte gelees en met die mis wat oor die Monument gerol het, het ek my probeer indink hoe die Voortrekkers moes voel die laaste keer wat hulle dit gehoor het voor die Slag van Bloedrivier. Dr. P.H. Huystek het die Geloftediens waargeneem, hy het vir ons vertel van Noag en hoe swaar dit vir Noag moes gewees het om die enigste mens op aarde was wat die waarheid nagestreef het. Op hierdie stadium het dit begin reen en hoe meer dr. Huystek praat oor die 40 dae en 40 nagte se reen tydens die Sonvloed, hoe harder het dit gereen! Na afloop van die Geloftediens is die vlae gestryk, waarna ons die Stem gesing het.



Gewoonlik sou die Geloftefees nou tot einde geloop het, maar hierdie jaar was anders, hierdie jaar moes iets teruggeplaas word! Op 'n nag in Junie 1901, het die Ingilse soos "een dief in de nacht" gegaan en die klippe onder Monument, wat daar geplaas is tydens die 1880 Gelofte, gesteel. Van hierdie klippe is uit die Vaalrivier gehaal en op die Geloftefees van 16 Desember 2007, is dit weer onder die Monument geplaas. Die 1880 Gelofte en die 1880 belofte, is herbevestig!