14 Oct 2007

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika



Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika kan in die moderne tyd al as een van die “ou” kultuurorganisasies beskryf word.
Die Verkenners het in 1992 tot stand gekom toe ‘n klompie kultuurmanne gesien het dat die Rapportryers swig en agter die “nuwe” Suid-Afrika-lofsangers inswaai. Beginselvaste manne met insig en visie, het die Rapportryers verlaat en die Verkenners opgerig.
Die Verkenners, ‘n organisasie vir die manne van die Boerevolk, werk baie nou saam met Aksie Vrouekrag, die Boerevolk se vroueorganisasie, en die Afrikaner-Volkskultuurbeweging, wat insgelyks weggebreek het uit die Voortrekkers, toe dié die nuwe Suid-Afrika-pad gekies het. Struktureel geskei, maar geestelik een en op dieselfde vlak, streef ons na die een enkele, ononderhandelbare doelwit: die vryheid van ons Boerevolk in sy eie, onafhanklike Vaderland, waarin die Bybel die hoogste gesag is, en waar die God van die Bybel regeer.
Alhoewel dit ‘n politieke strewe is, glo die Verkenners dat die kulturele ondersteuning van lewensnoodsaaklike belang is. Ons optredes sluit baie aksies in: aktivisme, debat, handhawing van ons geskiedenis, beskerming van ons volksimbole, suiwering van ons mooi taal, en ondersteuning van politieke optredes, mits dit ons vryheidsideaal ondersteun. Die Verkenners werk graag saam met ander organisasies, probeer volksverdeeldheid vermy en bestry, mits die beginselbasis vir samewerking reg is
Die Verkenners is landwyd gevestig, met formele poste op baie plekke, en met talle individue feitlik regdeur die land. Die Verkenners het vier provinsiale besture, elk met sy eie leier, en ‘n nasionale Dagbestuur, wat bestaan uit ‘n president, tans Henk van de Graaf, vise-president, ds. Martin Jordaan, sekretaris, Coenraad Rall, jeugleier, Riaan Jansen en bykomende lid, prof. Tobie Louw.
Die Dagbestuur word elke tweede jaar tydens ‘n nasionale kongres aangewys, en die volgende kongres vind plaas in Januarie 2008.
Die Verkenners se webtuiste, http://www.verkenners.org.za/ word tans herontwerp en sal binnekort weer alle jongste inligting bevat.