19 Jan 2008

Pres. Paul Kruger se Testament aan die Volk



Waarde Generaal,

Dit is vir my 'n groot voorreg om ontvangs te kan erken van u kabelgram van 25 Mei en van u brief van die 29ste van dieselfde maand, waarin die groete van die kongres wat gehou is van 23 tot 25 Mei in Pretoia, aan my oorgedra word.

By alle treurigheid en leed, wat my lot is, het hierdie groete my tot dankbaarheid gestem. En ek dank almal van ganser harte wat saamgekom het om te beraadslaag oor die hede en die toekoms, en gedink het aan hulle ou Staatspresident en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie.

Want wie vir hom 'n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom: Soek in die verlede alles wat goed en mooi is wat daarin gevind kan word, vorm daarvolgens u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.

Dit is waar dat baie van wat opgebou is, tans vemietig is, verniel, geval. Tog kan met eenheid van sin en eenheid van krag weer opgerig word wat tans onderploeg is.

Dit stem my eveneens tot dankbaarheid om te sien dat die eenheid, die eendrag by u regeer. Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat in die woorde "verdeel en heers" opgesluit is nie, en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikaanse volk van toepassing sal kan wees nie.

Dan sal ons nasionaliteit en taal bly bestaan en bloei. Wat ek self nog daarvan sal sien of belewe, is in God se hande.

Gebore onder die Engelse vlag, wil ek nie daaronder sterf nie.

Ek het geleer om te berus by die bittere gedagte dat ek as 'n banneling my oë sal moet sluit in die vreemde, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwante en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van die Afrikaanse grond wat ek stellig nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om oop te maak vir die beskawing waar ek 'n eie nasie sien ontwikkel het.

Maar die bitterheid sal versag word solank as wat ek die oortuiging mag bly koester dat die werk wat eenmaal begin is, voorgesit word. Want dan word ek staande gehou deur die hoop en die vewagting dat die einde van die werk goed sal wees. So is dit.

Uit die diepste van my hart groet ek u en die hele volk.

SJP Kruger.