04 Jan 2008

AKSIE – BESKERM ONS MONUMENTE


Gedurende die afgelope jare het Boere-Afrikaners kennis geneem van die aanslag op die kultuurgoedere van ons volk. Benewens die feit dat die Afrikaanse taal vertrap en verneder word, is daar ook die neiging om ons monumente te vernietig of minstens te skend tot haas die onherkenbare.

In die lig hiervan is ’n aksie begin om ons monumente te beveilig. Natuurlik kan ons nie sewe dae in elke week gaan wagstaan nie, en al sou dit so kon wees, kan die moontlikheid nie uitgesluit word dat die wagte om die lewe gebring word deur vandale, boewe en rowers nie.

Aksie Beskerm ons Monumente” het dus ’n ander benadering.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het die Engelse die eerste Taalmonument wat opgerig is te Burgersdorp in Oos-Kaapland, van die voetstuk verwyder en begrawe in die omgewing van Stutterheim. As dit nie was vir die foto’s wat iemand bewaar het nie, sou hierdie monument waarskynlik vir altyd verlore gewees het vir die nageslag. Met die hulp van foto’s is ’n replika van die oorspronklike gedurende die dertigerjare onthul. In die veertigerjare is die oorspronklike monument gevind en terug gebring na Burgersdorp, en alhoewel dit erg beskadig is, weer opgerig. Dit verklaar ook waarom daar twee Taalmonumente op die plein in Burgersdorp staan.

Om seker te maak dat ons kultuurgoedere vir die nageslag behoue bly, sal dit goed wees as ons luisteraars en volksgenote meedoen aan hierdie projek.

Die projek:
Neem soveel foto’s as moontlik, uit verskillende kante van monumente en ander gedenkwaardighede in u omgewing. Waar name en datums op die konstruksie bestaan, kan dit van nader geneem word om leesbaarheid te vergemaklik.

Foto’s wat met ’n digitale kamera geneem is, en op laserskyf oorgedra word, is sekerlik die mees praktiese en koste effektiewe metode. Gewone foto’s in kleur, is egter ewe bruikbaar.

Die Volkseie Museumraad sal die foto’s in veilige bewaring hou.

Skakel met Prof. Hendrik van de Wateren.
Telefoon: 014-717 3264
Posbus 3717, Nylstroom 0510

Hierdeur verseker ons dat “die erwe van ons vaders, vir ons kinders erwe bly”.