19 Jan 2008
Les van die geskiedenis
Die Afrikanervolk het in sy betreklik kort bestaan in Afrika deur geweldige beproewings gegaan. Telkens het hy op die rand van ‘n afgrond beweeg as gevolg van die aanslae op sy bestaan. Maar dit is ‘n opvallende feit van die geskiedenis dat die Afrikanervolk, selfs in sy vroeë wordingsjare, die vermoë gehad het om by die eise van die stryd aan te pas en sy nederlae in oorwinning te omskep.
Die reeks gebeurtenisse in Natal in 1838, waarin eers Retief en sy manne vermoor is, daarna die menseslagting by Bloukrans, Moordspruit en Weenen plaasgevind het, toe die strafkommando van Potgieter, Maritz en Uys ‘n nederlaag toegedien is, was van so ‘n aard dat dit mense tot die grens van wanhoop gedryf het. Maar uit dié rampspoed het ‘n ander gevegsmetode ontwikkel. In plaas van die vyand te perd tegemoet te gaan, het Andries Pretorius die vyand vanuit die walaer uitgelok tot die geveg en sodoende die oorwinning by Bloedrivier behaal, wat die hele gang van die geskiedenis van Suid-Afrika bepaal het en tegelyk die Afrikanervolk in die middelpunt van die historiese ontwikkeling van Suid-Afrika geplaas het. Uit die smart en wanhoop van daardie angsvolle jaar het die wordende Afrikanervolk met geloof en geroepenheid verrys om hierdie land te bewoon, te bewerk en as vaderland te bewaak.
In die Engelse Oorlog kon die Boere nie met getalle teen die Britse magte opweeg nie, maar het vinnig aangepas en die oorlog voortgesit deur guerillametodes, wat die Afrikanervolk se groot helde opgelewer het. Verslaan, nie deur die militêre oormag nie, maar deur die gruwelike vergryp teen beskaafdheid wat Kitchener beoefen het met die verwoesting van plase, die doodmaak van diere en die onmenslike blootstelling van vrouens en kinders in konsentrasiekampe, was die bitterheid teen die Britse grypsug diep en die verlies onbeskryflik groot.
Ander middels
Maar uit die verslaentheid en vernedering is die stryd met ander middels opgeneem. Veral rondom die Afrikaanse taal het genl. Hertzog die Afrikanervolk opgevorder tot herwinning van hulle selfrespek; en stap vir stap deur die politieke stryd is die militêre nederlaag gewreek, al het dit 22 jaar geduur van 1902 tot 1924.
In dié era was die Rebellie van 1914 nog ‘n donker vlak in die pynlike gang van die geskiedenis van daardie tyd. Die mislukte gewapende protes het die lewens gekos van die uitnemende genl. De la Rey en die knap genl. Beyers. Daarnaas was die bemindste man uit die Engelse Oorlog, genl. De Wet, ‘n gevangene in die Fort in Johannesburg. Genl. Maritz en ander het uit die land gevlug om gevangeneming te vermy. En die jagters van hierdie Boerehelde was Louis Botha en Jan Smuts, mede-krygers teen Brittanje, wat teen hulle volk en krygmakkers gedraai het in diens van Brittanje.
Uit hierdie mislukte en neerdrukkende poging om met geweld die vryheid van Britse oorheersing te herwin, het die aanpassing gekom om Botha en Smuts by die stembus te verslaan. En onder die leiding van genl. Hertzog het dit geslaag.
In die engtes waarin die Afrikanervolk weer in 1990 gedwing is deur die politieke verraad van leiers van die party wat die draer van Afrikanernasionalisme moes gewees het, sal die stryd gaandeweg moontlik met middels gevoer moet word wat aangepas is by die eise van die tyd. En besinnig daaroor is dringend nodig.
Hoe dit gedoen sal word, is belangrik, maar belangriker is die wil tot stryd, die weiering om oor te gee, die gehegtheid aan ‘n ideaal van vryheid in ‘n vaderland waarvoor alles gegee word wanneer daartoe geroep word.
Afrikanernasionalisme en die Nuwe Suid-Afrika
Jaap Marais (1922-2000)