02 Jan 2008

Nuwejaarsboodskap 2008



Ons wil al ons lede en Volksgenote van harte alles van die beste vir 2008 toewens. Mag God ons genadig wees in hierdie jaar. Laat ons in hierdie jaar in die eerste plek streef na ‘n geestelike verdieping en ‘n naderbeweeg God en Sy Gebod. Maar laat ons nie net daaroor teoretiseer nie, maar laat ons dit omsit in praktyk. Kom ons wys ons Hemelse Vader dat ons dit erns maak met Hom deur Sy gebooie werklik uit te leef. Die wêreld raak al hoe vuiler, en ons as volk sal, soos die Bybel dit ook beskryf, steeds skoner moet word. Dit beteken om daadwerklik, doelbewus en doelgerig afstand te neem van die vuiles: die diewe, korruptes, bedrieërs, omkopers, moordenaars en ander gespuis. En laat ons weer die Sabbat in hierdie jaar in ere herstel soos dit hoort. Laat ons ons weerhou van besigheid en sport op die Sabbat. Dan kan 2008 nie minder voorspoedig wees as 2007 nie. Inteendeel.

Maar ons gaan die jaar binne met seker die duidelikste bewys van die mite van ‘n reënboognasie, wat ons nog gesien het sedert 1994. Hoe sal die bewindhebbers ons ooit weer kan oproep tot ‘n enkele nasie en tot versoening as hulle onder hulleself nie eens eenheid kan bereik nie? Die eenheidstaat is weer eens onder druk, met duidelike lyne wat al hoe skerper getrek word. Die ANC-stryd het getoon dat die stryd tussen Xhosa en Zoeloe en Tswana nog nie verby is nie. En ook dat kommunisme nog lank nie dood is nie: dit is lewendig, ten minste besonder sterk in Suid-Afrika, en sy mag en invloed, en noodwendige gevolge, sal in die komende jaar vir ons baie duidelik word, waarskynlik met onaangename gevolge vir ons volk wat in sy wese nasionalisties is.

Volksnasionalisme sal ook in 2008 bly groei soos ons dit met reusespronge sien vorder het in 2007. As die geleenthede wat in 2007 geskep is, opgevolg word, en daar word op verbeter in 2008, sal die jaar vir ons volk baie beteken in die herstel van ons volkstrots, ons eer, ons strydvaardigheid en ons uiteindelike vryheidsoorwinning. Dit sal egter meer insette van elke volksgenot vereis. Maar eendrag maak mag, en as die eenheidstree wat in 2007 gegee is, opgevolg word met ‘n eenheidsdraffie in 2008, sal die begin van die eenheidsmag wat ons volk kan bereik, baie gou sigbaar word.

Maar volksnasionalisme is nie net ‘n akademiese oefening en iets waaroor in hoe kringe gepraat word nie. Volksnasionalisme is ‘n lewenswyse. In ons volk se geval begin dit by die uitbou en hegting van die gesin en familie. Die fisiese uitleef van ons Christelike lewensbeskouing. Die handhawing van ons taal, op enige plek, te eniger tyd. Die vertoon van ons volksimbole, tydig en ontydig, sodat ons as volk geïdentifiseer kan word, en ons identiteit kan verstewig en trots wees daarop. Volknasionalisme beteken handel en sake doen met ons eie mense sodat ons ook ons ekonomiese mag kan konsolideer. Maar laat ons strewe na voorspoed ons weerhou van uitbuiting van ons eie mense. Volksnasionalisme beteken ‘n liefde vir die eie, en ons mense wat nog noodgedwonge vasgevang sit in die staat se strukture, behoort dienslewering teenoor hulle eie mense op besondere vlak te bring. Ondersteun die wat ons ondersteun, en boikot die wat ons en ons saak boikot, ignoreer of verkleineer.

Laat ons op individuele vlak hande vat met mekaar. As daar verskille was in die verlede, laat ons ook dan die Bybelse weg van vergewing volg, die oog rig op ‘n blink toekoms wat ons glo vir ons volk gaan volg. Laat ons in ons samewerking met mekaar toekomsgerig wees, en nie soos Lot se vrou wil omkyk na die verlede nie, want dan sal ons almal nuttelose soutpilare word.

Maar ons moet ook ons volk aan die begin van hierdie jaar oproep tot persoonlike paraatheid en veiligheid. 2007 is afgesluit met ‘n paar gruwelike moorde en slagting op die paaie. Gebruik die geleenthede wat die raamwerk van die wet stel om u te bewapen en te beveilig, hou u oë nie noodwendig op die pad nie maar eerder op die roekelose en onverantwoordelike ander padgebruiker, en maak seker dat ons alles in ons beskeie menslike vermoë doen om ook oor 365 dae terug te kyk op ‘n suksesvolle jaar in ons volksgeskiedenis, waar ons hopenlik gevorder het op ons vryheidspad.

Henk van de Graaf
President

1 Januarie 2008