29 Aug 2009

Die gevaar van kommersialisering van kultuurgoedere


Ons, die erfgename van ’n Christelike Westerse Beskawing, is nog altyd geleer dat ons in twee wêrelde leef, die tydelike en die Ewige. Dít was ook die hoeksteen waarop ons volksplanting plaasgevind het.
Alhoewel nie noodwendig hoogs-geletterd nie, was diégene wat die Ligdraers van hierdie volk was, in ’n diep geloof ge-anker. Dit het aanleiding gegee dat hulle onbevrees die naakte realiteite van die lewe in die gesig kon staar en dit die hoof kon bied.
Dit is hiérdie aanvaarding van ’n harde werklikheid wat op ’n eenduidige wyse ’n unieke wysheid aan die gelowige en geharde voorgeslag gebring het.
Maar toenemend leef ons vandag te midde van ons aardse bestaan wat maar tussen 800 en ’n 1 000 maande onder die son is, in twee verdere verskillende wêrelde. Die een wêreld waarvan daar slegs ’n klein minderheid is, wat geletterd is, en oor die intellektuele middele beskik om onbevange gevolgtrekkings te maak en die meerderheid wat hulle verlaat op die doelbewuste gemanipuleerde foto’s en beelde wat as inligting opgedis word.
Persone wat inligting wat op hierdie manier inneem, kan nie tussen die waarheid en die opgediste leuen onderskei nie. Deur middel van ’n oorvereenvoudigde kinderlike verhaaltrant, heilige verontwaardiging en cliché’s word die nie-denkendes se denke gekaap.
En hierdie verskil sny dieper in as ras, klas, geslag, stedelik of nie-stedelik, geloof of bygeloof en verdeel nie net die volk nie, maar skep enklaves van onoorbrugbare antagonistiese groepe.
Hierdie verskynsel word veral in die politiek gebruik. Vir meer as 20 jaar maskereer politieke propaganda as ideologieë. Vir meer as 20 jaar het sekere predikante politieke ideologieë van die kansel verkondig en het politici pseudo-religieuse toesprake in die raadsale gemaak. Die toesprake het nie onafhanklike waarneming en kritiek geduld nie: die doel was juis om gevoelens van euforie, bemagtiging, welvaart en kollektiewe bevryding aan te wakker.
Natuurlik is alles van die waarheid ontbloot, maar niemand gee om nie, want daar is reeds ’n openbare ekstase geskep wat die individualiteit negeer en die massa in die nirwana van ’n gekkeparadys hou. Enigiets kan nou opgedis word aan diegene wat slegs in die teenwoordige tyd leef en aan permanente amnesia ly.
Dit is die styl en die storie wat van belang is en nie die geskiedenis of realiteit wat die politieke keuse en lewe beïnvloed nie. ’n Gemaklike illusie is aanvaarbaar, want ons verwar dít wat ons voel met dít wat ons weet.
Nieteenstaande die feit dat die geskiedenis en wetenskap die tééndeel vertel, is dit makliker om dieselfde leuens wat al vir 300 jaar, met presies dieselfde gevolge oor die afgelope 300 jaar, te bly vertel. Die broederskap van alle mense, die onskuldige natuurkind, nuwe nasie, gee aan hierdie leuens die gewig asof dit onbetwisbare waarhede is.
Dit voel goed om nie self te dink nie. Die lewe is so eenvoudig. Ons hoef slegs te visualiseer wat ons wil hê, in onsself te glo en ons te verlaat op die verborge kragte in onsself, of in die nuwe nasie, om die wêreld na ons wil te herskep. Dít wat realisties is, kan nie in ons pad staan nie.
In ons post-literêre wêreld waar idees nie meer ontgin kan word nie; is die behoefte slegs aan nuwer en opwindender stimuli.
Nuus, politieke debatte, teater, kuns en boeke word nie op grond van hulle idees beoordeel nie, maar op hulle vermaaklikheidswaarde. Kultuurprodukte wat ons dwing om ons posisie in die maatskappy waarvan ons deel is te ondersoek, word afgemaak as elitist en onverstaanbaar.
Die filosoof Hannah Arendt waarsku dat die bemarking en kommersialisering van kultuurgoedere tot die vertrapping daarvan lei; dat hierdie nuwe stelsel van bemarking ’n nuwe geslag van beroemdes of intellektueles skep, wat ofskoon hulle dikwels belese, berese en goed ingelig is, ’n missie het om toe te sien dat Hamlet so vermaaklik is as Lion King en miskien selfs net so opvoedkundig.
“Culture,” skryf sy, “is being destroyed in order to yield entertainment. There are many authors of the past who have survived centuries of oblivion and neglect, but it is still an open question whether they will be able to survive an entertaining version of what they have to say.”
In hierdie verband is dit interessant om daarvan kennis te neem dat gedurende die agtiende eeu was Voltaire die bekendste naam vandag is dit Micky Mouse.
Die verskuiwing van ’n druk- na beeldgebaseerde samelewing vir die verkryging van inligting, het ons volk meer as enige politieke beweging, getransformeer. ’n Groot segment van ons volk is so opgeslurp in die verbruikerskultuur dat hulle totaal ontwortel is van realiteit. Onderhoude met sepiesterre wat vertel dat die publiek hulle op straat op hulle karakters se name aanspreek en met hulle argumenteer of simpatiseer volgens handeling van die rol wat hulle vertolk, is ’n duidelike voorbeeld van hierdie vervreemding.
Toenemend word kwasi-geskiedkundige films uit Hollywood die lens waarmee historiese gebeure waargeneem word en die storie wat daaraan gekoppel word, die aanvaarde interpretasie van die gebeurtenis.
Soos wat die hele ekonomiese en maatskaplike druk groter word, in dieselfde mate, verminder die soeke na die waarheid en verdwyn die vermoë om hierdie stygende probleme te hanteer. Al die tradisionele werktuie van soeke na waarheid, ondersoeking van feite, nuus en rasionele debat is nuttelose instrumente in ’n wêreld wat die kapasiteit om dit te gebruik, verloor het.
Dit kan verwag word dat soos wat die ekonomie verder gaan knyp met die daaropvolgende probleme, die meeste gaan verkies om in ’n irrasionele fantasie te ontsnap. En om hulle verder oor die lokkende afgrond te help, sal daar die kwaksalwer prediker wees wat kits bekerings verkoop, die beuelblasende guru’s wat aardse skatte beloof, die vermaaklikheidsterre uit die televisie- en sepiewêreld en ons politieke opswepers wat toenemend absurde vorme van lewensontvlugting sal aanbied. En dit sal genoeg wees.
Reeds is die kernwaardes wat ’n volk bymekaar gehou het, ook deur die vermaaklikheidsindustrie oorgeneem. Die vernaamste daarvan is patriotisme. Patriotiese dade wat ’n arm volk wou huldig deur monumente te bou met pennies en tiekies, is nou die vermaaklikheidswêreld se nuwe verhoog waar kultus-kunstenaars hulle sakke met Rande vul.
Oor hierdie kwessie het die baanbreker toneelspelers uit die vorige eeu, die Hanekoms en André Huguenet reeds gedurende die depressiejare van die Dertiger jare gekla:
“Selfs ons wat dit eerlik bedoel het met ons beroepstoneel”, skryf Huguenet, “moes dikwels doen soos ons medingers om nie onder te gaan nie. So het dit gebeur dat daar op een tydstip die skandaligste uitbuiting van sentiment geheers het (’n uitbuiting wat die volk hom egter sonder verset laat welgeval het). Die bedrywige beroepstoneel het soos ’n bende smouse die platteland stofgetrap en gewetenlose ‘toneelspelers’ het met mekaar gewedywer wie die stroperigste en mees sentimentele titels en konserte kon aanbied ... ‘Stemme uit die Graftes’ het geroep na “Bemindes in die Hemel’ en ander ‘Van agter die ou Kraalmuur’ na dié wat ‘Struikel oor my Lyk’ in ‘Bloed op die Ashoop’. .... aan trekpleister- en lokaastitels was daar geen einde nie.”
Die kernwaardes van ’n volk, naamlik: die vermoë tot onafhanklike denke en om onbevange gevolgtekkings te maak; om verskille vreesloos, maar ordentlik uit te spreek, om self-krities te wees, outoriteit te bevraagteken wanneer nodig; bowe alles om historiese feite te verstaan en tussen die waarheid en die leuen te kan onderskei; saam met die begrip dat daar ook ander denke en maniere is wat moreel en sosiaal aanvaarbaar is; is besig om te sterf.
Bets Botha