26 Oct 2009

Neem uit die geskiedenis die goeie, en besluit reg


President Paul Kruger het ons, sy nasate, die opdrag gegee om uit die geskiedenis die goeie te neem en daarop ‘n toekoms te bou.

Helaas gebeur dit nog te veel dat ons eerder verkies om die slegte uit die geskiedenis te neem, en dan dit as rede voor te hou waarom ons niks moet doen.

Tans word daar baie aandag gegee aan die herdenking van die Reddingsdaadkongres sewentig jaar gelede. En inderdaad moet Solidariteit gelukgewens word met hierdie inisiatief, want ook ons jonger geslag word weer op hoogte gebring met wat kan gebeur as ‘n volk besiel word met ‘n visie. Ja, ook ‘n ekonomiese visie van bevryding, selfonderhoud en uiteindelike ekonomiese vryheid.

Ons het al die opkoms van ‘n volksekonomie gesien in die talle volkseie ondernemings; ‘n groep volkseie sakelui saam in die Oranje Sake-Instituut; die vestiging van ‘n Volksbank, Oranjekas; en die bevordering van volkseie onderwys deur die BCVO en tuisonderwys.

Tog kry ons die idee dat selfs van ons eie mense en instellings nog nie werklik oortuig is in die krag van eendrag nie. Ons sien nog te veel spreekwoordelike wiele wat herontwerp word. Maar ons beleef ook dat ons nog nie die vertroue het dat ons volk weer bereid sal wees om sy offers te bring nie, en dan gebeur daar intussen dinge wat juis die volk se vertroue ondermyn.

Die Bybel het ons al die beginsel geleer dat geen twee here gedien kan word nie. Hierdie waarheid sal ons ook in ons volkslewe, ons volksekonomie en in die algemeen moet besef en begin uitleef, want slegs op daardie beginsel sal die volk ook weer sy dikwels geskokte vertroue herstel.

As ons besluit op ‘n volksekonomie, is dit ‘n volksekonomie. Dan is daar geen kompromis moontlik met die vyand se ekonomie nie. Ons kan nie aanspraak maak op volkskap en volkondersteuning, maar intussen agterlangs een of ander vorm van ondersteuning van die ANC-bestel ontvang by wyse van skenkings of subsidies nie, wel wetende dat die klomp Kommuniste een of ander tyd hulle pond vleis in ruil daarvoor kom opeis. Ons kan ook nie ter wille van ‘n goedkeurende knik van die vyand, toelaat dat ons weer begin deur ons eie instellings met “net een of twee” volksvreemdes te belas nie, want dit kom neer op ekonomiese integrasie, kultuurintegrasie, en uiteindelik fisieke integrasie. Dit is juis met daardie “een of twee” dat ons sportbeleid die weg vir algehele oorgawe gebaan het. Ons moet uit die verlede die slegte neem, en seker maak ons bewandel nie weer daardie weg nie.

Bowenal moet ons eerlik wees. As ons volkseie is, is ons honderd persent volkseie, nie 99,9 persent nie. Ons moet wys dat ons vertrou kan word, en daardeur kan ons weer by ‘n ontnugterde volk vertroue skep. Vergeet van slim “strategieë”, want ons vyand is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Eerlikheid en eerbaarheid sal die weg van die toekoms moet wees. En ons hier by die Verkenners is bereid om heel eerste die hand in eie boesem te steek om seker te maak dat ons die pad reguit en eerlik stap, tot by algehele volksvryheid.

Geskryf deur 'n Verkenner