13 Nov 2009

Verkenners by Voortrekkermonument belet


Die Verkennersbeweging het vanmiddag ‘n skrywe van mnre. Jan Ehlers Prokureurs ontvang namens sy kliënt, genl. Gert Opperman, van die Voortrekkermonument. Die effek van die skrywe is dat lede van die Verkennersbeweging toegang tot die Voortrekkermonument en talle van sy fasiliteite verbied word, asook by Bloedrivier. ‘n Toegewing is wel gemaak dat die musiekfees more, vir die 154-jarige herdenking van die stigting van Pretoria, bygewoon mag word, maar die voorwaardes is van so ‘n aard, dat selfs dit kan lei tot die arrestasie van lede van die Verkennersbeweging, en selfs hulle gesinslede, synde mense in hulle teenwoordigheid.

Hierdie optrede word gesien as ‘n daad van aggressie deur genl. Opperman na aanleiding van herhaalde meningsverskille oor insidente wat hy of geskep of toegelaat het om plaas te vind, wat na die mening van die Verkenners nie pas by die aard en kultuur van die Voortrekkermonument nie.

In die skrywe van die prokureurs word valse stellings gemaak, soos dat die Verkenners enige optrede by die verrigtinge more sou beplan het, en dat die Verkenners ‘n vergadering sou beplan het. Beide aantygings word kategories ontken, en heel duidelik het die prokureur se kliënt hom of moedswillig onder ‘n verkeerde indruk gebring om sy saak te bewys, of die kliënt gaan ernstig mank aan betroubare informante wat vir hom stories aandra.

Dit is ‘n absolute skande dat juis diegene wat die belang van die Monument op die hart dra en as waghond vir volksvervreemding daarvan optree, en bereid is om daarvoor met welke vreedsame middele ook al standpunt in te neem, toegang tot die Monument verbied word. Tydens die gesprek wat verlede week met genl. Opperman persoonlik plaasgevind het, is dit duidelik gestel dat die Verkenners die monument so heilig beskou, dat hulle geen optrede binne die monument sal doen wat die waardigheid daarvan sal aantas nie: so anders as modeparades, popkonserte en onvanpas geklede vroue wat op die senotaaf vir foto’s poseer, en wat plaasvind onder die bestuur van genl. Opperman.

Dat die musiekkonsert wel uitgesonder word vir toegang, is ‘n klug. Enige Verkenner wat dus oor die piekniekterrein na die amfiteater sou stap, staan die geleentheid om gearresteer te word. In effek kan Verkenners nie die geleentheid bywoon nie.

Verder word die brief van die prokureur as ‘n agteraf daad van genl. Opperman beskou. Verlede week is groter openheid en kommunikasie met mekaar afgespreek. Genl. Opperman het geensins enige moeite gedoen om hom te vergewis van feite nie, en op grond van foutiewe inligting dadelik tot die aggressiewe daad van ‘n prokureursbrief oorgegaan.

Senior regsadvies word tans ingewin. Intussen sal alle gesprekvoering met. genl. Opperman opgeskort word

Henk van de Graaf
President