18 Dec 2007

Plakkershut voor Rustenburgse munisipale kantore gebou uit protes teen die uitsetting van armes




Die Verkenners het op die 18de Desember 2007 vir AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur Solidariteit gestig is, en ʼn groep inwoners van Rustenburg, gehelp om ʼn plakkershut voor die Rustenburgse munisipale kantore te bou, uit protes teen die Rustenburgse munisipaliteit se uitsetting van behoeftige gesinne uit munisipale huurhuise in die Rustenburgse woonbuurt Geelhoutpark.





Drie-en-twintig gesinne is reeds die afgelope twee maande uit hulle huise gesit, sonder dat die munisipaliteit sy belofte nagekom het dat alternatiewe behuising aan hierdie gesinne beskikbaar gestel sou word. Die munisipaliteit het ten tye van die aansoek om ʼn uitsettingsbevel teen die inwoners te bekom, in die hof onderneem om alternatiewe bekostigbare behuising te verskaf aan almal wat uitgesit sou word omdat hulle nie die huurgeld kon bekostig nie.





Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ʼn nasionale skande dat terwyl die owerheid die landbougemeenskap op ʼn deurlopende basis valslik van onwettige en onmenslike uitsettings beskuldig, ʼn owerheidsinstelling homself nou skuldig maak aan die grofste moontlike skending van behoeftige mense se verblyfreg en menswaardigheid. Dit is volgens Kriel onverskoonbaar dat die Rustenburgse munisipaliteit so kort voor die Kersseisoen geen empatie toon vir weerlose vroue en kinders wat geen ander heenkome het nie. “Om ʼn uitsettingsbevel te bekom onder die valse voorwendsel dat alternatiewe behuising beskikbaar gestel sou word, is nie net oneties nie, maar ook onwettig,” het Kriel bygevoeg.





Tien van die uitgesette gesinne is slegs een uur tyd gegun om die munisipale huise te ontruim. Van hulle meubels is beskadig toe dit op die sypaadjie gegooi is. Verdere skade is kort na die uitsetting aangerig toe dié meubels, asook die weerlose vroue en kinders wat uit hulle woonplek gegooi is, op die sypaadjie aan reën en hael blootgestel is. Die Pretorius-gesin is byvoorbeeld uit hulle huis gesit op die dag voor hulle seun ʼn eksamenvraestel by sy skool geskryf het. Die Pheko-egpaar was die enigste egpaar aan wie alternatiewe behuising gegee is, maar toe hulle by hulle nuwe huis opdaag, was dit reeds bewoon.





ʼn Memorandum is ook tydens die protesaksie aan die munisipaliteit oorhandig, waarin geëis word dat die munisipaliteit sy belofte nakom deur bekostigbare behuising aan die uitgesette inwoners te verskaf.





Die Verkenners wens Afriforum geluk met die initiatief wat geneem is met hierdie aksie en bedank hulle ook vir dit wat hulle vir die Volk doen.