28 Mar 2011

Verkenners 21





Op 9 Oktober 2010 het die Verkenners Beweging van Suid-Afrika hulle 21ste verjaarsdag gevier. Hierdie vieringe het saam met die tradisionele Paul Kruger fees geval wat gewoonlik gedurende Oktober deur die Paardekraal verkenners aangebied word.


Dit was voorwaar 'n trotse oomblik vir die Paardekraal Verkenner pos om hierdie geleentheid aan te bied. Verkenners van heinde en verre het al van Vrydag 8 Oktober hulle karavane en tente staan gemaak onder die heerlike koelte bome van die Paardekraal terrein.


Die dag het weer 'n propvol program gebied. Alle aktiwiteite is dan ook deur Verkenners self aangebied.


Die Verkenners het 'n optog vanaf die monument na die Paul Kruger standbeeld onderneem, elk met 'n volksvlag oor die skouer. By die standbeeld is Oom Paul in sy amp serp getooi, nadat hy weer ingehuldig is as President. So kon hy sy verjaarsdag tegemoet gaan in 'n amptelike hoedanigheid.


Ons was bevoorreg om die eerste Verkenner President en stigterslid, Oom Steve Stydom, as spreker vir die geleentheid te he. Hy het die geskiedenis van die ontstaan vertel met 'n traan in die oog. Alle Verkenners het die praatjie interessant gevind.


Daar is ook 'n veiling gehou, en artikels wat onder die hammer gekom het, was 'n Vierkleur koek met die Verkenners se wapen daarop. Daar was ook twee bottels mampoer wat van 'n spesiale uitgawe van die vyfde kongres van die Verkenners oorgebly het. Dit is goedgustiglik geskenk vir hierdie spesiale geleentheid.


Na die feesprogram is daar 'n regte Verkenners Cantus gehou. Dit is ongelukkig kort geknip deur 'n hoeveldse donderstorm.


Die Sondag was dit den einde niet. Daar is 'n kerkdiens gehou vir almal wat gekamp het, of wat die diens wou bywoon. Daarna is daar aan boeretroos en verjaarsdagkoek gesmul.