Die Vryheid van die Voortrekkers na die oorwinning van die Zoeloes by die slag van Bloedrivier in 1838 was van korte duur, aangesien dit vervang was deur die vangnet van die Britse Imperialisme in Natal.
Die Voortrekkers wat altyd deur net vryheid gesoek het, het noodgedwonge Natal verlaat en in die Oranje Vrystaat en die Transvaal hul Boere Republieke tot stand gebring. Ook dit was van korte duur, toe die gulsige vergrypende magte van die imperialistiese Brittanje op die toneel verskyn, en dit op ‘n stadium toe die Trekkers reeds ‘n leefbare infrastruktuur in die wildernis geskep het.
Tydens die Sandrivier Verdrag van 1852 en die Bloemfontein Verdrag van 1854, wat plaasgevind het tussen die Twee Boere Republieke en die regering van Koningin Victoria, word die soewereiniteit van die twee state erken en die selfstandigheid van die Boere word eerbiedig.
In hierdie onstuimige tyd van die trek en veg vir vryheid, word die Gelofte van 1838 nooit feestelik herdenk nie. Slegs hier en daar is daar op ‘n klein skaal in klein kringe herdenkings gehou soos byvoorbeeld in Sarel Cillliers se eie huislike kring, waar die gelofte getrou herdenk is.
Op 12 April 1877 annekseer Shepstone en die Britse soldate sonder dat ‘n skoot gevuur is, Pretoria. Hulle haal die Vierkleur af en hys die Union Jack in die naam van Groot Britanje. Hierna begin ernstige spanning tussen die Boere en die Britte. Die Britte benodig die Boere se geld om hul kapitalistiese ideologie uit te voer en begin swaar belastings op die Boere hef.
Vroeg in Oktober 1880 bereik die spanning breekpunt toe ‘n boer van Potchefstroom, Mnr Piet Bezuidenhout gedagvaar word om agterstallige belasting te betaal en hy weier. Die balju lê beslag op sy ossewa, met die bedoeling om dit op die dorpsplein op te veil.
Onder leiding van Kommandant Piet Cronje gooi ‘n klompie boere die balju van die wa af en neem dit onder ‘n groot gejuig terug na Piet Bezuidenhout.
Die Britte was natuurlik nie met die toedrag van sake tevrede nie en hulle wou die “skuldiges” opsluit en verhoor.
Op hierdie tydstip het die Boere Driemanskap, naamlik Paul Kruger, MW Pretorius en Piet Joubert besluit dat die verset aksies nie meer genoeg is nie en hulle het ‘n dringende Boere Volksbyeenkoms belê om herstellende aksies te beplan. Die Volksbyeenkoms was gereël vir 8 Desember 1880, te Paardekraal.
Die volk het gehoor gegee en meer as 6000 gewapende man het by die klipkoppies op Paardekraal saamgetrek. Nadat die Volkskomitee van 32 saamgestel is, het hulle op 11 Desember ‘n proklamasie in die vorm van ‘n Gelofte opgestel.
Op 13 Desember 1880 het Adj. President Paul Kruger die Volk toegespreek om vas te stel of hulle eensgesind was en saamstem dat die Britte se juk afgeskud moes word. Na sy toespraak was die teenswoordige doodstil.
Paul Kruger het die klippe op die koppie waar hy gestaan het tot stil getuies van die “besluit van die volk” geroep. Hierna is krygswet aangekondig met die strydmag onder bevel van Kmdt Genl Piet Joubert.
Die volgende dag het elke burger ‘n klip (of twee) geneem en op die plek waar Paul Kruger gestaan het, ‘n stapel gepak. Martinus Ras het die vierkleur bo-op die klipstapel staan gemaak, hierdie klipstapel of altaar was ‘n teken van die (tweede) gelofte om met die hulp van God, die vryheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek in ere te herstel.
Hierna het verskeie skermutselings en die twee bekende veldslae, naamlik die slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 en die slag van Majuba op 27 Februarie 1881 gevolg.
Groot Britanje het die aftog geblaas en die twee republieke was weer vry, tot en met 1899 toe die Volskaalse Anglo Boereoorlog uitgebreek het.
Op versoek van die Volksraad is die Paardekraal Monument op die koppie op Paardekraal opgerig en President Paul Kruger het dit op 16 Desember 1891 tydens ‘n Gelofte en Verootmoedigingsfees onthul.
Hierdie dag was uiters gedenkwaardig aangesien dit die eerste Volksfees/Paardekraalfees was, waarop die Slag van Bloedrivier weer deur die boerevolk herdenk is.
Van hierdie dag af vorentoe het Paardekraal Monument ‘n dubbele betekenis gekry, naamlik ‘n besonderse verbintenis met die gelofte van 1838. Die stapel van 1880 is gehuisves in sy huis, soos die geskiedenis van 1880 to 1881 ook op die dag in sy ware perspektief aan die volk deur ‘n ware volksleier verkondig is.
Bloedrivier en Paardekraal het alby die Volk bymekaar gebring, trou aan mekaar laat sweer, maar belangrikste van al, die volk ook nader aan God gebring.
Daarom kan Bloedrivier en Paardekraal nooit weer geskei word nie. Op Paardekraal is die ideaal van die Voortrekkers verwesenlik, waar sy vinger wys, het die Volk homself en sy God gevind. Dit is die tradisie van Paardekraal, ‘n feesplek vir Boere Afrikaners wat hulle vereenselwig met die Gelofte van Bloedrivier en Paardekraal en die Feeste/Geloftes getrou onderhou.
Daarom hou ek nou die Gelofte aan u voor sodat ons, dit nooit mag vergeet en ook getrou sal onderhou.
GELOFTE 1838
My broeders en mede-landgenote, hier staan ons voor die Heilige God van hemel en van aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag, soos ‘n sabat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte; want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en eer van die oorwinning aan Hom te gee.
SL Mann - 22 November 2008