Geloftefees: Paardekraal 16 Desember 2008
Dr Barry van Wyk
Aanstons sal die ligstraal uit die dakkoepel op die sarkofaag in die Voortrekker Monument in Pretoria skyn. Dit is deur die argitek, Gerhard Moerdyk so ontwerp om elke jaar op 16 Desember, presies om twaalf uur die woorde op die bokant te belig waarop staan: Ons vir jou Suid-Afrika! Die besondere struktuur is die gevolg van die gebeure in die verlede en die implikasies wat dit vir die nageslag inhou. Anders gestel kom dit neer op die mate waarin die verlede vir die nageslag betekenis het en hoe dit hulle dade en optrede beïnvloed.
Daarom is dit waarskynlik dienlik om te probeer vasstel wat die betekenis van die verlede is en hoe dit die huidige geslag raak. Dit is vanselfsprekend dat nie alle gebeure in die verlede noodwendig geskiedenis is nie. Gebeure in die verlede word in die geskiedenisboeke opgeteken wat ‘n verband met die hede het. As ‘n mens soek na ‘n goeie sleutel waarmee die geskiedenis en die gebeurtenisse in die verlede beoordeel kan word kom Paulus se uitspraak in 1 Korintiërs 10: 11 na vore wanneer hy sê:
Hierdie dinge het oor hulle gekom as ‘n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.
Die verlede het die neiging om ons verantwoordelikheid met betrekking tot die toekoms te verswaar. Die gebeure van gister is nie maar net betekenisloos nie. Ons kan vandag alleen maar tot ons eie nadeel die verlede verswyg en ignoreer en die geskiedenis verwaarloos. Daarom sê die psalmdigter (Ps 78: 3) ook:
Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Dit spreek dus vanself dat 16 Desember betekenisloos en niksseggend sal wees as die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie in oënskou geneem word nie. Dit kom noodwendig daarop neer dat vir ‘n oomblik teruggegaan moet word na dit wat op 16 Desember 1838 gebeur het asook die aanleidende oorsake wat die gebeurtenis tot gevolg gehad het.
Die slag van Bloedrivier is die gevolg van die verhuising uit die Kaapkolonie wat al sedert 1834 begin toe Louis Tregard (later Trichardt) die Kolonie verlaat het en hom aan die Wit Kei gevestig het. So verlaat ook die Van Rensburggroep die Kaap in 1835 en sluit by die Tregard trek aan in hulle trek na die Noorde.
Met die trek van Andries Hendrik Potgieter wat die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat word dit duidelik dat ‘n georganiseerde beweging ontstaan het wat later as die Groot Trek bekend sou staan. Die bekende name volg naamlik, Sarel Celliers, Gerhardus Marthinus Maritz, Pieter Lafras Uys, Pieter Retief en uiteindelik Andries Pretorius en andere.
Die vraag kom na vore waarom besluit is om die Kaapkolonie te verlaat. Die redes is tweeledig naamlik, om weg te kom van die Engelse bewind aan die Kaap wat sedert 1806 permanent geword het, en die feit dat die regering algehele gelykstelling toegepas het tussen blank en nie-blank. Die trekkers het hulle in haglike omstandighede bevind aangesien hulle sonder voldoende beskerming uitgelewer was aan herhaalde strooptogte, swak ekonomiese omstandighede en swaar verliese gely het as gevolg van die vrystelling van slawe. Die redes vir die Groot Trek word volledig uiteengesit in die bekende Manifes van Piet Retief wat vir die eerste keer in die Grahams Town Journal op 22 Februarie 1837 gepubliseer word (Oberholzer 1988: 9).
Tyd en ruimte ontbreek om alle gebeurtenisse volledig uiteen te sit en daarom word ‘n keuse gemaak in die gebeurtenisse wat van besondere betekenis is. Die eerste ernstige botsing met nie-blankes was tydens die slag van Vegkop (waarskynlik naby ThabaNchu) op 20 Oktober 1836 waar ongeveer veertig weerbare man weerstand teen drie tof vyf duisend Matebeles moes bied. Dit is belangrik om hier te meld dat Sarel Celliers in die laer ‘n godsdiensoefening gelei het toe die laer reeds omsingel was en die Matebele net buite trefafstand tot stilstand gekom het. Dit het bestaan uit ‘n kort bemoediging en ‘n gebed en is van belang as aanduiding van die godsdienstige klimaat wat onder die Voortrekkers geheers het. Cilliers skryf daaroor in sy Joernaal (Oberholzer 1988: 6) die volgende:
...toe het ek almal bymekaargeroep en ‘n kort rede gehou wat daarop neergekom het dat ons ‘n heilige God het, met almag beklee, in hemel en op aarde, en dat ons ons saam voor Hom moet verootmoedig...,en ek het tot God gebid dat Hy in grondelose genade tog aan ons sal dink in ons groot nood...
‘n Verdere kritiese vraag wat ter sprake gekom het was ‘n eie predikant en tweedens die rigting wat die trek uiteindelik sou volg. Retief het uiteindelik Gerrit Maritz se swaer Erasmus Smit as predikant aangestel wat homself op 21 Mei 1837 bevestig het.
Oor die trekrigting was daar verskil van mening veral tussen Potgieter en Retief wat redelike spanning veroorsaak het en die rede aandui waarom Retief dit goed gedink het om met Dingaan oor grondgebied te gaan onderhandel. Retief het daarin geslaag om ‘n mate van ooreenstemming te bereik en is tydens ‘n volksvergadering gehou op 13 September 1837 aan die Sandrivier naby die huidige Senekal besluit dat Retief met Dingaan sou gaan onderhandel oor grond in Natal.
Retief kom op 5 November 1837 met vier waens, vyftien man vergesel van Thomas Halstead as tolk by Dingaanstat aan. Hy gee toe aan die onredelike eise van Dingaan om die gesteelde beeste by Sikonjella in die omgewing van die huidige Ficksburg te gaan haal. Hy stuur berigte vooruit na sy laers met berigte van die suksesvolle onderhandelinge wat tot gevolg het dat hulle teen die Drakensberge begin aftrek, waar Retief hulle teen 27 November 1837 by die Tugela onderkant die Oliviershoekpas ontmoet het.
Retief vertrek vir die tweede keer na Dingaan nadat hy daarin geslaag het om sonder bloedvergieting die gesteelde beeste van Sikonjella terug te kry. Retief vertrek dus na Dingaanstad vir die tweede keer om die onderhandelinge oor die grond af te handel. Sy vertrek gaan gepaard met bittere meningsverskil aangesien hy twee honderd man saam wil neem as ‘n militêre magsvertoon, terwyl Maritz daarteen gekant was en van mening was dat hy slegs vier of vyf man moes saamneem. Hy skryf op 27 Januarie 1838 van die Tugela af aan sy vrou die volgende waaruit iets van die aard van hulle godsdienstige belewenis geblyk het (Oberholzer 1988: 13):
...maar ek was vol droefheid dat ek weer die vir my ondraaglike tweedrag in ons maatskappy moes belewe, wat my laat vrees dat God sy goedheid in toorn sal verander.
Uiteindelik gaan slegs sestig man waaronder vier seuns en met ongeveer dertig agterryers, almal as vrywilligers saam. Daar het later nog ‘n paar bygekom sodat die totaal 71 was. Die gebeure is bekend. Op 4 Februarie 1838 het Dingaan die grondbrief aan Retief oorhandig waarin hy die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu aan die Voortrekkers afgestaan het en op 6 Februarie is Retief en sy hele geselskap uitgemoor.
Daar was drie blanke ooggetuies, die sendeling Owen, sy diensmeisie Jane Bird en ‘n twaalfjarige seun William Wood. Jane Bird het vertel dat Wood die vorige dag gehoor wat ‘n impi sing en dat hy vir haar en Owen gesê het dat die Boere die volgende dag vermoor sou word. Wood skryf in sy herinnerings in 1840 dat hy die oggend van die derde dag gesien het dat Dingaan iets kwaads beplan maar kon nie uit die gesprekke met sy kapteins agterkom dat hy iets teen die Boere beplan nie. Hy het by geleentheid gewaarsku om op hulle hoede te wees maar hulle het geantwoord dat hulle oortuig is dat die koning se hart reg is en daarom niks het om te vrees nie. Hulle het die Boere uitgesleep en op Hlomo Mabuto begin om hulle met knopkieries dood te slaan. Hulle het Retief vasgehou en hom die dood van sy manskappe laat aanskou voor hulle hom doodgemaak het.
Sarel Cilliers het in sy Joernaal verklaar dat hulle die liggame van Retief en sy manne omtrent 1200 treë van Dingaan se woonplek aangetref het, dat hulle hande en voete nog vasgebind was met rourieme, en dat in byna al die liggame ‘n pen van omtrent ‘n armdikte van agter af ingeslaan was sodat die punt in die bors was. Hulle het daar gelê met hulle klere aan, geen gedierte of roofvoël het hulle verteer nie.
(Die Hervormer 2006: 8)
Dit is begryplik dat die moord op Retief en sy geselskap die Trek in onmiddellike gevaar gestel het en byna laat ontspoor het. Die trekkers het in losstaande groepe verkeer en dit is hierdie onbeskermde groepe by Bloukrans, Moordspruit en Boesmansrivier wat die prooi van die Zoeloemag geword het in die nag van 17 Februarie 1838 waarin 96 volwassenes, 185 kinders en meer as 200 bediendes die lewe gelaat het.
Op Sondag 18 Februarie skryf Erasmus Smit in sy dagboek (Oberholzer 1988: 14):
Alles was in diepe druk. Selfs geen aaneengeskakelde gebed kon ons voortbring nie. Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God! Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is u oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes, en die angs en skrik van ander het ten hemel opgekryt.
Isak Breytenbach skryf die volgende oor die wreedaardige moord: “Vroue het daar oopgesny gelê, kinders met hulle harsings verpletter teen die wawiele, ander aan doringbome opgehang tussen die takke, die manne het hulle doodgeveg, maar is gruwelik vermink”. Ferdinand van Gass skryf: “ ...soos kinders waarvan die skedel teen die wawiele stukkend geslaan is, ander die harsings met kieries ingeslaan, ander lewendig aan stukke geskeur. En al wat afskuwelik is, is op die vroueliggame gepleeg”. J H Hattings skryf: “Die Zoeloes het niks wat lewe verskoon nie, tot honde, hoenders, katte, eende – almal is doodgemaak” (Die Hervormder 2006: 8).
Steeds was dit nie die einde nie. Hierna het die rampspoedige geveg by Italeni gevolg waartydens elf manskappe, onder andere Piet Uys en sy seun Dirkie, omgekom het.
Op 13-15 Augustus het die aanval op die laer (Veglaer) van Stefanus Maritz en Hans de Lange aan die linkeroewer van die Boesmansrivier plaasgevind wat volgens Erasmus Smit se dagboek inskrywing deur 10,000 Zoeloes uitgevoer is. Slegs een voortrekker is gedood (J C Froneman) maar die Zoeloes het in hulle terugtog bykans al die vee gebuit. Kort na die Veglaerslag is die laer verskuif na die van Maritz, en tot na die slag van Bloedrivier sou Sooilaer, ook Saailaer genoem, die hooflaer in Natal wees.
Dit het voor die hand liggend geword om die mag van Dingaan te breek en daarom is hulp uit die Kaapkolonie gevra deur drie afgevaardigdes daarheen te stuur om hulp vir so ‘n kommando te werf. Die aanslag teen Dingaan kry finaal momentum deur die aankoms van Andries Pretorius wat op 22 November 1838 arriveer. Erasmus Smit maak die volgende aantekening: “In die namiddag het weer ‘n baie waardige medereisiger, Andries Pretorius (as ‘n weltoegeruste, gesabelde en gepistoolde dragonder) te perd in ons laer aangekom” (Oberholzer 1988: 17).
Die slag van Bloedrivier word deeglik beplan en uitgevoer op 16 Desember 1838. Pretorius roep op 5 Desember 1838 al die manskappe en offisiere byeen waartydens hy hulle vermaan om die belangrike taak met gebed en smeking aan te pak, standvastig te bly en aan hulle meerderes gehoorsaam te wees. Hy het hulle herinner dat enige onderneming sonder God tot mislukking gedoem is. Die groep van 464 man naas die kommandante het met ongeveer 57 waens getrek waar hulle op 9 Desember by die Wasbankrivier, Suid van Glencoe aangekom het en volgens Jan Bantjes die Gelofte vir die eerste keer afgelê is. In sy Joernaal het Cilliers verklaar dat Andries Pretorius reeds aan die Tugela met hom gepraat het oor die moontlikheid van die aflegging van ‘n gelofte aan die Here. Daar is drie weergawes (Oberholzer 1988: 20-21) van die Gelofte wat behoue gebly het naamlik, die van Jan Bantjes, Andries Pretorius self, asook Sarel Cilliers se weergawe in sy journaal meer as dertig jaar later.
Cilliers noem die oprigting van ‘n huis vir God nie, waarskynlik omdat hy dertig jaar later sy weergawe opstel en onder die indruk verkeer het dat die deel van die Gelofte afgehandel is deur die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Dit waarop hy klem lê is die jaarlikse herdenking asook die oorlewering aan die nageslag. Albei laasgenoemde kom voor in die weergawes van Bantjes en Pretorius, maar Cilliers verleen besondere klem aan die feit dat die dag soos ‘n Sondag, ‘n dankdag soos ‘n Sabbat, deurgebring moes word. Dit is trouens moeilik om te aanvaar dat diegene wat die gelofte afgelê het iets anders daarmee in gedagte gehad het.
Die gelofte van 1838 bring die vraag na vore waarom die maak van ‘n gelofte aan die Here vir hulle ‘n bykans spontane gebeure was en wat die agtergrond van hulle denke gevorm het.
As die saak uit ‘n teologiese hoek bekyk word is dit duidelik dat hulle vanuit die Calvinisties bepaalde teokratiese denke gemotiveer word soos dit teruggevind word in die tyd van die Hervorming in Zürich. Die uitgangspunt wat veral daar gegeld het was dat alle burgers deel was van die genadeverbond op grond van die kinderdoop. Dit het beteken dat almal deel van die volk van God was.
Aangesien deur middel van die doop almal deel het aan die beloftes wat in die verbond aan die lede van die verbond toegesê word, het elke burger van die gemeenskap die plig om die eise wat die verbond stel, na te kom.
(Pont 1988: 39)
Dit het beteken dat die burgerlike samelewing en die kerk saamgeval het want almal was gedoop, en aangesien net een kerklike struktuur toegelaat is was almal deel daarvan. Die volk van God was dus terselfdertyd die kerk en die gemeenskap. In die gemeenskap het die kerk nie apart bestaan nie, maar was dit slegs die kerklike struktuur van die gemeenskap.
Omdat letterlik almal deel van die verbond met God was, was almal daaraan onderworpe om die voorwaardes van die verbond na te kom, naamlik geloof in die drie-enige God en ‘n vrome lewenswandel.
(Pont 1988: 39)
Wanneer die saak op Nederlandse bodem nagegaan word is dit uit en uit ‘n teokratiese bestel wat daarop neerkom dat die Woord van God geldig beskou is vir kerk en owerheid. Dit word duidelik uitgedruk in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), Artikel 36 dat die burgery gedoop is, dus binne die kader van die genadeverbond val, en as sodanig het almal die plig om die voorwaardes van die genadeverbond na te kom. Die teokratiese visie op die owerheid en die verhouding owerheid en kerk kom nie net in die NGB na vore nie maar word ook gevind in die Franse Geloofsbelydenis van 1559 en is daarom gemeengoed van die teologie van Johannes Calvyn.
Die verbondsteologie het ook langs die weg van die Heidelbergse Kategismus (HK) vastrapplek in die Nederlandse samelewing gekry en oefen invloed uit op die beweging van die Nadere Reformasie wat veral aangedring het op die persoonlike ervaring en belewing van die geloof en sy vrugte, die bekering, wedergeboorte en regverdiging. In hierdie tyd het ‘n man soos Johannes Coccejus (1603-1669) ‘n omvangryke verbondsteologie opgebou waarin die verbond die basiese struktuur is waarbinne God die mens opneem. Die verbond is die beskrywing van die wyse waarop God in ‘n besondere verhouding met gelowiges tree, terwyl die begrip koninkryk van God, die omskrywing is van God se regering oor die bondgenote. Die aflê van ‘n gelofte was in hierdie teokratiese struktuur in die sewentiende en agtiende eeu ‘n vanselfsprekend en normale gebeurtenis.
Na afloop van die groot Dordtse Sinode van 1618-1619 en die bekamping van die dwaalleer van die Remonstrante stel vier teoloë van die Universiteit van Leiden ‘n dogmatiekhandboek saam wat as die Synopsis purioris theologiae bekend staan en in 1625 gepubliseer word. In hoofstuk 38 word uitvoerig oor die maak van ‘n gelofte gehandel, trouens dit word as vanselfsprekend beskou. In die Synopsis word dit duidelik gestel dat slegs ‘n gelowige wat in die verbond van die genade opgeneem is, ‘n belofte aan God mag aflê. Die opvatting van die verbond en die gelofte wat daarop rus gaan van die gedagte uit dat die volk van God primêr uit gelowige huisgesinne en families bestaan waarby kinders vanselfsprekend ingesluit is.
Wat die doel van die gelofte betref, word beklemtoon dat dit die eer van God moet bevorder en dat dit in die tweede plek die bedoeling het om diegene wat die gelofte aflê, aan te spoor om die gehoorsaamheid aan God nog sorgvuldiger na te kom.
(Pont 1988: 45)
‘n Verdere en besonder belangrike bron was die dogmatiekhandboek van Wilhelmus A’ Brakel, Redelyke Godtsdienst, wat kom uit die Nadere Reformasie wat nie net in Nederland nie maar ook in Suid-Afrika groot invloed uitgeoefen het. Hy was een van die sogenaamde oude schrijvers wat deur die Voortrekkers en die pioniers in die Oorvaalse gebied geraadpleeg en nagevors is. In sy opstelling is dit duidelik dat hy kennis geneem het van die Synopsis en alhoewel hy niks nuut byvoeg nie slaag hy daarin om die inhoud van die Calvinistiese Ortodoksie op ‘n populêre wyse oor te dra en bekend te stel. Hy behandel die maak van ‘n gelofte in hoofstuk 38 en uit sy geskif is dit ook duidelik dat dit vir hom ‘n normale onderdeel van die godsdienstige lewe van die gelowige mens was. Hy beklemtoon dat die verbond van die genade waarvan die doop ‘n teken is, die moontlikheid van ‘n gelofte skep waar die gelowige homself tot gehoorsaamheid aan God bind. ‘n Gelofte wat eenmaal afgelê is plaas ‘n verpligting op die aflegger wat nie ontduik kan word nie, en beklemtoon ook dat ‘n gelofte niks sal bevat wat buite die gelowige se moontlikhede lê nie. ‘n Gelofte is nie ‘n handelstransaksie waar gegee en gevra word en voorwaardelik gemaak word nie.
Die gelofte verwoord dus ‘n unieke situasie in die lewe van die Afrikaner maar in die lig van die geestelike agtergrond is dit tog nie so vreemd nie. Hulle gedagtes was gevorm uit die teokratiese denke waar die verbond sentraal gestaan het en waar dit na aanleiding van die denke van die Nadere Reformasie vanselfsprekend was om ‘n gelofte te maak wat terselfdertyd ook as bindend op die nageslag beskou is. Hulle het die gelofte nie as enkelinge afgelê nie maar as huisvaders wat die verantwoordelikheid saam met hulle gesinne met gevolge vir die nageslag afgelê het.
Die vanselfsprekende uitvlug om ‘n gelofte aan God af te lê was nie net tot Bloedrivier beperk nie maar kom weer na vore in die geskiedenis van die Afrikaner nadat Brittanje die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 deur sy gevolmagtigde Sir Theophilus Shepstone sonder enige weerstand geannekseer het. Dit loop uiteindelik daarop uit dat ‘n tweede gelofte by Paardekraal op 14 Desember 1880 afgelê word om weerstand teen die Britse besetting te bied.
‘n Vergelyking van die geloftes van 1838 en 1880 toon aan dat eersgenoemde ‘n gelofte aan God was, terwyl die gelofte by Paardekraal ‘n gelofte voor God was. “Dit beteken aan die een kant dat niks wat onwettig of onmoontlik is, beloof mag word nie(vergelyk Joh 14: 7-9 en Hand 23: 12). Aan die ander kant beteken dit ook dat ‘n wettige belofte-eed nie gebreek mag word nie, want dit sou beteken dat God getuie van ‘n leuen gemaak word” (Botha 1988: 75). Dit lyk dus asof die klipstapeling by Paardekraal ‘n hernuwing en bevestiging van die Gelofte was en dat dit juis die basis was waarop die heilige verbond wat by Paardekraal ontstaan het as ‘n eed van trou aan volk en vaderland en ‘n verbintenis om tot die dood toe te stry vir die herstel van die verlore vryheid.
Slotopmerkings
Hier staan ons vandag op die 16 Desember 2008 op hierdie historiese plek om die Gelofte te herdenk wat direk in verband staan met die gebeure van 1838, 170 jaar gelede. Wat maak ons daarmee, hoe raak dit ons?
By die gelofte van 1838 en 1880 was dit duidelik dat die betrokkenes oortuig was dat die oorwinnings in beide gevalle deur God moontlik gemaak is. Hulle geestelike lewe was gedra en gemotiveer deur die teokratiese siening eie aan die Reformasie, naamlik dat God regeer. Verder het dit beteken dat die verbond die manier is waarop God mense aan Hom bind, en dat die gevolge daarvan nie net vir diegene geld wat gedoop is op ‘n bepaalde tydstip nie, maar ook vir die nageslag asook die opkomende geslagte.
Uit die verloop van gebeure moet gestel word dat die Voortrekkers sekerlik met hulleself te rade gegaan het oor die feit dat God by Bloukrans en Italeni anders geantwoord het as by Bloedrivier.
Elkeen wat Afrikaans praat en deel is van die volk wat op die wyse en langs die historiese verloop tot stand gekom het soos aangedui, is deel van die geloftevolk wat die verantwoordelikheid het om die gelofte jaarliks in herinnering te roep, want die verlede verswaar die verantwoordelikheid van die hede vir die toekoms.
Herdenking van die gelofte maak die uitspraak van die skrywer van die Hebreërbrief aktueel wanneer hy stel: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon” (Heb 11: 6).
Daarom spreek dit vanself: geloftefeesgangers is gelowige mense, mense van die Woord wat veel meer luister as wat hulle praat. Gesprek oor God kan nooit God se spreke vooraf gaan nie, maar volg hoogstens nadat noukeurig en biddend geluister is. Om oor God te praat beteken nie om maar net met ‘n harde stem oor jouself te praat nie.
Die inhoud van geloftedagvieringe is by uitstek ‘n dankdag om die groot dade van God in die lewe van mense, van die Afrikaner in besonder te herdenk. Dit is ‘n dankdag wat soos ‘n Sondag gevier moet word, daarom verkondiging van die Woord en nadenke oor die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het.
Bibliografie
Botha, S J 1988. Die Gelofte van 1838 soos dit in 1880 by Paardekraal met 'n belofte bevestig is, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 63-82. Pretoria: Kital.
Oberholzer, J P 1988. 1835-1838. 'n Kort oorsig oor die aanloop tot die Gelofte en die Slag van Bloedrivier, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 1-26. Pretoria: Kital.
Pont, A D 1988. Die Gelofte van 1838 – 'n Poging om die teologiese agtergrond te peil, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 38-53. Pretoria: Kital.