12 Feb 2008

Getrouheidseed vir Skole


Die Verkenners het met absolute weersin kennis geneem van die sogenaamde getrouheidseed wat deur die ANC se Minister van Onderwys, Naledi Pandor, bekend gestel is.

Vae beloftes dat die eed nog vir openbare kommentaar oopgestel gaan word, of dat die eed dalk net op ‘n vrywillige basis afgelê gaan word, stel ons geensins gerus nie. Dit is tog bekend dat kinders moeilik groepsdruk kan weerstaan, wat beteken dat in multikulturele skole, Afrikanerkinders waarskynlik geïsoleer sal word as hulle dit nie aflê nie. Druk van onderwysers sal hulle selfs glad nie kan weerstaan nie.

Die naamsveranderings wat in die land plaasvind, het al geleer dat openbare kommentaar, nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie. Ons daag die ANC trouens om te bewys dat hulle hul al ooit aan die openbare kommentaar van Afrikaners gesteur het. Dit is niks anders as ‘n nuttelose fopspeen nie.

Die trant van die eed, toon duidelik dat dit ‘n politieke trant het. Om kinders nou ‘n eed te wil laat aflê waarin die sogenaamde ongeregtighede van die verlede aangespreek word, is onverdunde ANC-propaganda, en sal Boere- en Afrikanerkinders van kleins af op skolle etiketteer as die sondebokke van die verlede. Netso is die verwysing na diegene wat kwansuis swaar gekry het vir vryheid, ‘n polities aanvegbare stelling vanuit die ANC-kamp. Die belofte van die handhawing van die regte van die Grondwet, is ‘n leuen, aangesien die ANC hom self nie eens steur aan die regte wat in die Grondwet uitgestippel is en waarvan die Afrikaner net mooi niks merk nie.

Die Verkenners verwerp nie net die inhoud van die eed nie. Ons verwerp die beginsel van ‘n eed as geheel. ‘n Kind wat nog nie toerekeningsvatbaar is nie, kan nie in ‘n hof onder eed geplaas word nie, en behoort dus ook nie onder druk op skool onder ‘n eed geplaas te word nie.

‘n Beskaafde volk soos die Boere- of Afrikanervolk, het geen eed nodig nie, want hy weet wat is moreel toelaatbaar en wat nie. En ‘n eed van getrouheid aan ‘n bewind wat nie sy mense teen moord, verkragting en roof kan beskerm nie, en wat ons volk se kultuurgoedere die een na die ander vernietig, en boonop nie eens voldoende elektrisiteit kan opwek of water kan suiwer nie, grens aan die belaglike.


Henk van de Graaf

President

12 Februarie 2008