01 Feb 2008

DIE GRONDBESETTINGSPATROON IN SUID-AFRIKA


Saamgestel deur Werner Weber

Om Dr. JSM Matsebula se boek A History of Swaziland na behore te verstaan, moet daar in breër perspektief na die geskiedenis, en meer spesifiek na die grondbesettingspatroon in Suid-Afrika gekyk word.

Volgens Dr. Matsebula het die swart mense die Limpoporivier in ca. 1400 A.D. oorgesteek en geleidelik suidwaarts getrek. Hulle het die inheemse bevolking, die San (Boesmans) en die Khoi (Hottentotte) bloot uitgewis.

Dr. Matsebula gaan voort en dui aan dat daar twee hoofstrome was, te wete die Sotho, en die Nguni, wat weereens verdeel het in die Tswana en verskeie Sothogroepe, en die Nguni wat weereens verdeel het in twee strome, te wete die Tekela-Nguni, en die Ntunga-Nguni wat geleidelik Suidwaarts beweeg het. ʼn Gedeelte van die Embo Nguni, het hulle in Swaziland gevestig. (Sien Kaart 1.) (Hierdie kaart is aangesuiwer met datums soos weergegee in AT Bryant se gesaghebbende werk Olden Times in Zululand and Natal 1929 : 16, waarna Dr. Matsebula gereeld in sy boek verwys).

Hierdie groepe swart mense wat geleidelik Suidwaarts getrek het, het die Blankes, wat na 1652 met die koms van Jan van Riebeek, geleidelik Noordwaarts getrek het, in ongeveer 1750 in die Omgewing van die Keiskammarivier ontmoet. Altesame nege grensoorloë het gevolg tussen die Noordwaartstrekkende Boere (en ook die Britte), en die Xhosastamme. Daarna het die Groot Trek begin in ongeveer 1836.

Die Noordwaartstrekkende Boere het ʼn land aangetref wat grootliks leeg en onbewoon was, as gevolg van die uitwissingsoorloë (Difiqane) tussen swart stamme.

Dit is belangrik om die volgende in hierdie verband te identifiseer:

1. Die San (Boesmans) en die KhoiKhoi (Hottentotte), was die eerste generasie( of orde) bewoners van Suid Afrika. Dit is die inheemse bevolking. Daar is tekens, soos rotskuns, wat aandui dat hierdie groepe dalk reeds 2000 jaar gelede hier aangetref is.
2. Die groepe Suidwaartstrekkende swart mense, en die Noordwaartstrekkende wit mense, kan gekatagoriseer word as die tweede generasie ( of orde) bevolking.
3. Die Indiers en die Maleise bevolking is die derde generasie ( of orde) bevolking.

Na die Groot Trek wat in 1836 begin het, het daar verskeie ooreenkomste tussen die Boere (die Voortrekkers) en verskeie swart stamme plaasgevind, waardeur ʼn vestigingspatroon in Suid Afrika totstand gekom het. In die artikel in Excelsior Nuus van 15 Julie 2005, (The History of Swaziland), is aangetoon dat daar verskeie ooreenkomste tussen die Boere en die Swazi’s gesluit is. Daar was egter ook ooreenkomste met ander stamme.


NATAL

Die Piet Retief-Dingaan Traktaat

Volgens die ooreenkoms tussen Piet Retief en Dingane, die Zoeloe opperhoof, is die gebied tussen die Tugela en die Umzimvuburivier as ʼn ewigdurende eiendom aan die Trekkers gegee, in ruil vir die terugbring van vee wat Sekonyela van die Zoeloe’s geroof het (dit was etlike duisend stuks) deur die Trekkers. Hierdie ooreenkoms is by wyse van ʼn Traktaat gefinaliseer aan die begin van 1838. Die gebied Suid van die Umzimkulurivier, was in elk geval bykans onbewoon as gevolg van Shaka se uitwissingstrooptogte.

Die Republiek van Utrecht

In 1840 is Mpande, ʼn halfbroer van Shaka en Dingane deur ene Cornelius van Rooyen, ʼn Voortrekker, tot opperhoof van die Zoeloes, Noord van die Tugela en Umzinyathirivier, gesalf. Van Rooyen het daarna in 1852, saam met Johannes Christiaan Klopper, en Andries Theodorus Spies, ʼn stuk grond Oos van die Buffelsrivier, vir 300 beeste van Mpande geruil. Die ooreenkoms was mondelings. Daarna het van Rooyen, Spies en Klopper op 8 September, grond vir 100 beeste gekoop, en die koop is per traktaat gefinaliseer en op Doemasoeloe onderteken en kan in die Transvaalse Argief onder die verwysingsnommer EVR 260 gevind word. Die Noordelike grens van die gebied het gegrens aan die Suidelike grens van die grondgebied wat die ZAR in 1860 van die Swazi opperhoof per traktaat bekom het.

Op 12 September 1854 het van Rooyen, Spies en Klopper die grense van die gebied saam met Mpande se hoofmanne, Koengeen, Kaboel en Stuurman uitgemeet. Daarna kon Boere wat die gebied binnegekom het, plase koop, op voorwaarde dat hulle die plase moes bewoon.
Die grense van die gebied was as volg vasgelê:
Van waar die Bloedrivier in die Buffelsrivier invloei, tot aan Lynspruit, oor Kambule met die Pivaanrivier langs, tot waar die Pivaanrivier in die Pongolarivier invloei, en dan met die Pongolarivier op, tot waar die water in die huidige Wakkerstroom gebied skei. Van daar tot aan die Buffelsrivier en afwaarts tot waar die Buffelsrivier in die Bloedrivier invloei. Hierdie gebied het bekend gestaaan as die Republiek van Utrecht.

Die Kliprivier Afrikaners

Toe die Britte Natal in 1842 beset het, het die Afrikaners wat in die driehoek wat gevorm word deur die Tugela in die Suide, die Drakensberge in die Weste, en die Buffelsrivier in die Ooste, gehoop om hulle as ʼn onafhanklike gemeenskap te handhaaf. Hulle wou hulle daarna met die Transvalers verenig. Die Natalse (Britse) bewindhebbers was egter nie hiertoe bereid nie, en het ʼn Magistraat op ʼn plek wat later as Ladysmith bekend sou staan, geplaas. Hierdie Afrikaners het gevoel dat hulle godsdienstig en kultureel by die Transvalers ingepas het.

Die Nieuwe Republiek van Lucas Meyer (Republiek Vrijheid)

In 1873 word Mpande se seun Cetshwayo, formeel as opperhoof van die Zoeloes deur die Britte gekroon. Na Cetshwayo se dood in 1884 volg ʼn opvolgingstryd tussen Dinizulu en Zebhebhu, wat eersgenoemde met die hulp van 115 Boere wen. As beloning vir die hulp, gee Dinizulu in 1884 ʼn verdere ongeveer 1168000 ha grond aan die Boere. Op hierdie grond ontstaan die “Nieuwe Republiek“, waarvan die grootste deel in 1888 by die Zuid-Afrikaanse Republiek as die distrik Vryheid ingelyf word. Die Britte het hierteen beswaar gehad, en die res van Zululand formeel in 1887 geannekseer.

St Luciabaai

Met die oog op die steeds toenemende Britse druk op Transvaal, is daar in Pretoria gedink aan ʼn sterk moondheid wat as ʼn bondgenoot kon dien. Slegs Duitsland sou so ʼn rol kon vervul. Die Transvalers wou graag hulle groot ideaal, naamlik om hulle gesag tot aan die see uit te brei, in vervulling laat gaan, deur van die Zoeloes besitreg oor St. Lucia te verkry. Na 1881 sou hierdie strewe hervat word. Dit het gebeur teen die agtergrond van die “scramble for Africa“. Duitsland sou as gevolg van die suksesse van Adolf Lüderitz in 1884 in Suidwes-Afrika, so ʼn poging loods. A Einwald en A Schiel, het toe op 13 November 1884 ʼn ooreenskoms met Dinizulu bereik en St Lucia is aan Schiel afgestaan. Op 18 Desember 1884 (dieselfde jaar) het die Britse regering St Luciabaaai egter geannekseer, teen hewige protes van Berlyn sowel as Pretoria. Ook van die Nuwe Republiek, het op 30 April 1885 ʼn protes gekom omdat St Lucia volgens hulle wette aan die Nuwe Republiek behoort het.

NOORD-KAAPLAND

Republiek Stellaland (1882 – 1885)

In 1881 het daar konflik ussen die Batlapinkaptein en die Koranas ontstaan. Die Koranahoofman het Boerevrywilligers om hulp genader waarvoor hulle plase in ruil sou kry.

Die Batlapin is in Julie 1882 verslaan en Gerrit Jacobus van Niekerk is aangestel as Administrateur van die gebied onder die naam of titel van die Land van die Ster, Stellaland. Vryburg was die hoofstad. Hierdie republiek se vlag het bestaan uit vertikale groen en rooi bane met ʼn wit ster in die middel.

Net soos Goosen, was hierdie republiek Wes van die Transvaalse grens geleë. ʼn Krygsmag onder Sir Charles Warren het in Februarie 1885 ʼn einde aan dié republiek gemaak. Stellaland het tot 1895 deel van die Koonkolonie van Betsjoeanaland gebly, toe dit by die Kaapkolonie ingelyf is.

Die Republiek Goosen (1882 – 1885)

In die vroeë 1880’s het sekere Barolongkapteins suid van die Moloporivier die hulp van Boerevrywilligers van Wes-Transvaal ingeroep om onderlinge geskille op te los. In ruil daarvoor is hulle met plase en beeste vergoed.

In Januarie 1882 het die vrywilligers ʼn volksraad gekies met N.C. Gey van Pittius as leier, en die Republiek Goosen gestig. Dié Republiek was ten Weste van die Transvaalgrens geleë.

Die hoofstad is uiteindelik (1884) Heliopolis genoem. Hulle vlag was die Vierkleur waarin die horisontale rooi, wit en blou strepe deur swart, wit en rooi (die ou imperiale kleure van Duitsland) vervang is.

In 1885 het sir Charles Warren ook ʼn einde aan dié republiek gemaak. Daarna het Goosen deel van die Kroonkolonie Betsjoeanaland geword, totdat dit in 1895 deur die Kaapkolonie geannekseer is.

Die rede vir die Britse ingryping was om te verseker dat die handelsweg na die Noorde vir die Kaapkolonie oopgehou moes word. Hulle het ʼn verbintenis tussen die Transvaal en Suidwes Afrika gevrees, en het derhalwe ook Betsjoeanaland as Britse gebied annekseer, om te verhinder dat die Duitsers en die Transvalers mekaar in die binneland van Suid-Afrika die hand sou reik.


DIE VRYSTAAT EN TRANSVAAL

Gedurende die jare 1822 tot 1836 het die uitwissingsoorloë (Difiqane) plaasgevind. Noord van die Vaalrivier voer die Matabele’s van Mzilikazi ʼn skrikbewind, en verjaag die Tswanavolke na die Suid-weste en Weswaarts tot in die Kalahari. Tot die verdrywing van Mzilikazi deur die Voortrekkers in Oktober 1836 by Vegkop, voer Mzilikazi een strooptog na die ander in die Vrystaat uit. Die Franse Sendeling Ellenberger, het bereken dat die vlugtendes in die Vrystaat gedurende die jare 1822 en 1828 ruim 288 000 van hulle volksgenote opgeët het as gevolg van hongersnood. By hierdie syfers moet nog bygetel word diegene wat as gevolg van hongersnood en oorlogsgeweld gesterf het. Die Vrystaat was amper algeheel onbevolk met die koms van die Voortrekkers.

Interessant is dat die Voortrekkers na Vegkop geen trekvee gehad het nie. Stamhoof Moroka van die Barolong, wat by ThabaNchu gebly het sedert 1830, het toe trekosse aan die Voortrekkers geleen.

Na die oorwinning oor Mzilikazi en hy Noordwaards tot in Zimbabwe verdryf is, het Potgieter aanspraak gemaak op die hele gebied wat vroeër deur die Amandebele beheer is. Dit het ʼn gebied omvat vanaf die Vaalrivier Noordwaarts ongeveer 50 km Oos van Bronkhorstspruit, tot ongeveer by Potgietersrus. Van daar Noordwaarts tot by Soshongheuwels in Botswana en dan Suidwaarts tot by Kanye en daarvandaan Suid tot aan die Moloporivier. Hierdie gebied was ook as gevolg van die skrikbewind en strooptogte van Mzilikazi feitlik onbewoon.


OOS-TRANSVAAL

Die grondbesetting in Oos-Transvaal (Mpumalanga) word in verbasende fyn besonderhede behandel, en kan in kort soos volg saamgevat word:

Die Swazi Koning Sobhuza 1 en daarna Koning Mswati se domain, het gestrek vanaf die Limpopo in die noorde en die Pongolorivier in die Suide, tot by die see in die Ooste en in die Weste feitlik tot aan die Vrystaatse grens. Die Swazi’s het hierdie gebied bekom by wyse van verowering en die uitwissing van die ander stamme.

Toe Andries Potgieter en sy Boere in 1845 in die omgewing van Lydenburg aangekom het, was die gebied algeheel onbewoon [1] Koning Mswati het groot waardering gehad vir die gevegsvermoëns van die Boere, en was ook bewus van ʼn visioen van sy vader, Koning Mswati 1 (Somhlolo) kort voor sy dood, dat mense met wit velle en lang hare na die gebied sou kom, en dat dit die einde van die Swazivolk sou wees as hulle die bloed van hierdie mense (die Blanke Boere) sou vergiet.
Toe Andries Potgieter Koning Mswati versoek het om hom in die gebied te vestig, het Mswati toegestem om strategiese oorwegings, naamlik om te dien as ʼn buffer tussen die Swazivolk en sy swart vyande vanaf die Noorde, te wete die Pedi’s.

• Die gebied wat aan Andries Potgieter toegeken is, het gestrek vanaf die monding van die Limpopo rivier in die Indiese Oseaan, strekkende tot waar die Limpopo die Olifantsrivier ontmoet, dan tot by die ontstaan van die Elandspruit naby Pretoria, dan reguit tot by die Krokodilrivier, dan tot by die samevloeiing van die Krokodilrivier en die Komatierivier en dan reguit na die Indiese Oseaan. Die Boere het 100 beeste vir die gebied betaal en die beeste is in twee aflewerings aan Koning Mswati voorsien. Dit was in 1846. Die transaksie is by wyse van ʼn getekende traktaat gefinaliseer. Die dorp Ohrigstad is toe deur Potgieter gestig.

• Daarna in 1855, het ʼn ander groep Boere Koning Mswati by sy Hoofstat Hhohho besoek, en ook grond vir vestiging versoek. Koning Mswati het weereens toegestem en weereens by wyse van ʼn getekende traktaat die volgende gebied aan die Boere toegeken teen die betaling van 70 beeste, wat ook in twee besendings afgelewer is: Die gebied het gestrek vanaf Komatiepoort Suidwaarts al langs die Lebomboreeks tot by die Pongolorivier, dan afwaarts tot by die samevloeiing van die Pongolorivier en die Usuturivier, dan tot by die monding van die Pongolo-Usuturiviere en dan langs die kus Noordwaarts tot by die 1846 grens.

• In 1860 het Koning Mswati die wens uitgespreek om Blanke Boere in die Weste en Suidweste van sy koninkryk te vestig, weereens om strategiese redes. Op 12 Junie 1860 het die Kommandant-Generaal van die Zuid-Afrikaanse Republiek, ʼn groep Swazihoofmanne ontmoet, wat aan hom die gebied uitgewys het waar Mswati die Blanke Boere gevestig wou sien. Hierdie ooreenkoms is weereens per traktaat gefinaliseer. Die hoofmanne het namens die Koning geteken. Die gebied het gestrek vanaf die Steelpoort tot by die oorsprong van die Komatie- en Vaalriviere, van daar tot by die Majubaberg, en dan tot waar die Pongolorivier ontspring, dan af, tot by die Pongolopoort by Lubombo, waar dit die 1855-lyn kruis.
• Dit was die uitdruklike ooreenkoms, dat hierdie Boere die Swazi’s moes beskerm teen Zoeloe-strooptogte. Die Zuid-Afrikaanse Republiek het hierdie gebied in plase opgedeel en aan individuele Blanke Boere verkoop. Baie van die Boere was van Brittanje, veral van Scotland. Ongeveer 80 plase van 6000 'acre' elk is verkoop aan die Glasgow en Suid Afrikaanse Kompanie. Hierdie plase is bestuur deur Alexander McCorkindale. Hierdie nedersetting is egter later terugverkoop aan die Transvaal regering.

• Daarna, weereens in 1860, is ʼn gebied van 500 000 ‘acre’ in die Suid-Ooste van Swaziland aan Coenraad Vermaak verhuur teen ʼn betaling van ₤5 en 30 beeste per jaar, as ʼn verdere buffer teen die strooptogte van die Zoeloes.

• In 1875 toe President Burgers die President van die Zuid-Afrikaanse Republiek was, tydens die kroning van Koning Mbandizeni, het Mbandizeni die wens uitgespreek, dat betroubare manne aan die Suidwestelike grens van Swaziland geplaas word om ʼn ogie oor ʼn sekere Mbilini te hou, wat strooptogte in daardie gebied uitgevoer het. Ignatious Maritz en drie swaers, die Ferreira’s het hulle toe in die gebied gevestig. Toe daar later ʼn dispuut oor die gebied ontstaan het, het die Boere (72 manne) hierdie gebied onafhanklik verklaar onder die presidentskap van J Bezuidenhout, as Voorsitter van ʼn driemanskap regering. Die gebied het ongeveer 36000 ‚acre’ beslaan en is toe die “Klein Vrystaat“ genoem. As rede vir hierdie optrede is genoem dat geen Swazi nog ooit in daardie gebied geleef het nie. Die gebied is naby Piet Retief geleë.

• Mbilini was ʼn baie gewilde Swazi-prins en hoof van die Nyati (Buffel) Regiment. Hy het gehoop om sy vader, Mswati op te volg as koning, maar is as gevolg van Swazi tradisie oor die hoof gesien. Hy het derhalwe uitgewyk, en het ʼn skrikbewind gevoer langs die bolope van die Pongolorivier en het in die grotte, in die berge gewoon. Volgens Matsebula is Mbilini toe deur ʼn Brittse soldaat doodgeskiet [2] .


• In 1866 het die Zuid-Afrikaanse Republiek ʼn versoek aan die Regente Koningin gerig vir die grond aan die Westekant van die 1860 toekenning. Die Regente Koningin het ʼn man by name Magwazidili Dladla gestuur om saam met ʼn kaptein van daardie gebied, Mavela Shabalala se seun, die grense van daardie gebied uit te wys.
• Die gebied het gestrek vanaf Majubaberg tot waar Vrede, Frankfort, Vereeniging en Rustenburg vandag staan, en feitlik tot aan die Vrystaatse grens. ʼn Traktaat is aan Magwazidili gegee vir ondertekening, maar die Traktaat is egter nooit terug ontvang nie. As betaling het die Zuid Afrikaanse Republiek onderneem om 110 beeste en 40 komberse te oorhandig.

• In 1868 het President Pretoruius aanspraak gemaak op grondgebied by die monding van die Maputa rivier. Hierdie optrede het skerp reaksie van beide Portugal en Brittanje ontlok. Brittanje het ʼn oorlogskip na Delagoabaai gestuur en die Britse vlag gehys.
Daarna in 1869 het die Portugese konsul in Kaapstad, na Pretoria gereis, en die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Portugese het toe ooreengekom om die grens tussen die Portugese en die Zuid-Afrikaanse Republiek by die Lebomboberge te vestig, op voorwaarde dat die Zuid-Afrikaanse Republiek ʼn spoorlyn na Delagoabaai sou bou en dat die Zuid-Afrikaanse Republiek Delagoabaai as sy hawe sou gebruik. Brittanje het hierdie traktaat betwis, op sterkte van beweerde konsessies van die Swazi’s in 1823. Die Portugese het van hulle kant aanspraak gemaak op ander konsessies wat hulle van die Swazi’s gekry het. Uiteindelik is die aangeleentheid in 1872 aan arbitrasie onderwerp met President Mac Mahon van Frankryk as arbiter. Op 24 Julie 1875 het Mac Mahon Delagoabaai aan Portugal toegeken.

• Koning Mswati is in 1865 oorlede en as gevolg daarvan het daar ʼn ongemaklikheid by die Zuid Afrikaanse Republiek ontstaan oor die presiese grens tussen die Zuid-Afrikaanse Republiek en Swaziland. President Pretorius het in 1866 ʼn kommissie onder Voorsitterskap van C Potgieter saamgestel om die grenslyn in oorleg met persone, deur die Regentekoningin aangewys, vas te stel, en te finaliseer. Daarna het die sogenaamde Rudolph Kommissie in 1875 hom verder met die grensvasstelling bemoei. Daar is uiteindelik wel konsensus bereik oor die grenslyn en spesifieke bakens wat as grenslyn sou dien, is op ooreengekom.

• Op 3 Augustus 1881 is ʼn dokument deur die Transvaalse regering en Brittanje onderteken, wat die grenslyn gefinaliseer het. Hierdie dokument is genoem die Pretoria Konvensie. Slegs twee gebiede is deur die Swazi’s betwis, en die ongelukkigheid het voortgeduur vir ongeveer ʼn honderd jaar. Dit is die Ngwavuma gebied en die Hhohho Vallei.

• Die Suid-Afrikaanse regering was meer as begerig om die gebiede aan Swaziland toe te ken. Hierdie pogings is egter deur die Hoofminister van Kangwane Enos J Mabusa en daarna ʼn suksesvolle hofaansoek deur Kwazulu op 25 Junie 1982 verongeluk.