14 Oct 2008

Mediaverklaring Verkennersjeug – en hoor jy die magtige dreuning?


Dit is die liedere van 'n jeug se ontwaking wat weerklink het in die Pretoria-noord-stadsaal by 'n vergadering oor naamsveranderings, wat harte laat sidder en beef het. Dit volg nadat die Verkennersjeug besluit het om na hierdie vergadering te gaan om te hoor waaroor gaan die beplande naamsveranderings. As kultuurorganisasie ag die Verkenners die straatname wat na ons volkshelde vernoem is, as deel van ons kultuurerfenis.



Die vergadering is geadverteer vir 19:00, maar teen 19:20 het die vergadering nog nie begin nie, die verskoning wat gebruik is, was dat die klankman laat was. Die Verkennersjeug het dus maar volksliedjies gesing om die tyd om te kry. Liedjies soos: "Vat jou goed en trek Ferreira", "Bobejaan klim die berg" en "Sarie Marais". Die DA se hoofsweep van Pretoria het die jongmanne berispe dat hulle die vergadering (wat nog nie begin het nie) ontwrig. Die Zuma-ondersteuners het losgebars en "bring my masjiengeweer" en "slaan die boere" gesing. Die DA het blykbaar nie probleme met daardie liedere nie, aangesien geen DA-sweep daaroor geklap het nie.



Die DA het ook die Verkennersjeug laat verstaan dat die Verkennersjeug asb. nie verder die vergadering moet ontwrig nie, want hulle wat die DA is wil onderhandel en hierdie optrede van die Verkenners gaan niks help nie.



Wat uit die oog verloor word deur die sweep, is dat die lede van die Verkennersjeug groot waarde heg aan hul kultuurerfenis en dit nie ook soos die land wil laat weg-onderhandel nie. Die VF+ het na die mense as terroriste verwys en is daarom uit die stadsraad se raadsvergadering gejaag. Nêrens in die wêreld onderhandel beskaafde mense met terroriste nie, aangesien hulle weet terroriste kan nie vertrou word nie.



Verder word daar ook uit die oog verloor dat daar vir een of ander rede op hierdie kontinent geglo word dat 'n kultuurerfenis maar gesteel mag word. Dat die geskiedenis verdraai mag word om die propagandamasjien van die regeerder van die dag te pas.



'n Beskaafde persoon besef dat as jy iets gebou het, gekoop het of geboorte geskenk het daaraan, dan het jy die reg om dit 'n naam te gee. Die DA en die ANC het dit blykbaar nog nie besef nie. Die DA was self betrokke by naamsveranderings in die Kaap, maar nou in Pretoria is hulle blykbaar teen dit. Dit klink maar redelik beginselloos, want mens is of vír kulturele diefstal, of jy is daarteen.



Die Verkennersjeug se lede beleef daagliks die nagevolge van onderhandelings. Die nagevolge van gedwonge integrasie, die nagevolge van Affirmative action en die nagevolge van kwotasport is alles deur politikuste onderhandel op wie dit geen effek het nie.



Die Verkennersjeug gaan nie toelaat dat hulle toekoms in die land van hulle vaders, verder belemmer word deur onderhandelings nie. Net soos president Paul Kruger, glo die Verkennersjeug "Ons weerstand sal die wêreld verstom". Daarom is die Verkennersjeug trots daarop dat die vergadering verdaag moes word, dat hulle die proses van onderhandeling oor kulturele diefstal kon stuit.