08 Apr 2008

Danie Theron


Danie Theron



Toe Danie Theron op 5 September 1900 in die Gatsrand tydens 'n skermutseling met die Engelse sterf het die Boere een van hulle knapste verkenners verloor.

Hy is op 9 Mei 1872 in die Kaapkolonie by Tulbagh gebore. Op tienjarige ouderdom verlaat hy sy ouerhuis om sy halfbroer, Johannes Pretorius wat 'n onderwyser was, na Bethlehem in die Vrystaat te vergesel. In 1888 behaal hy sy skooleindsertifikaat en verower 'n beurs van Kaapland om verder te gaan leer. In 1889 behaal hy sy matrikulasie sertifikaat en kwalifiseer as onderwyser. Voordat hy as ingeskrewe klerk by die prokureur CT Rabie op Pietersburgbegin werk, het hy eers skoolgehou in Kroonstad. Na sy deelname aan die Malaboch-oorlog (1894) kry hy volle burgerskap van die ZAR.

Nadat hy in 1897 as prokureur gekwalifiseer het, begin hy 'n praktyk op Krugersdorp. Sy praktyk floreer. Hy ontmoet Hannie Neethling, die meisie met wie hy van voorneme was om te trou. Sy sterf in Augustus 1898 . Dit is 'n verpletterende slag vir Theron en hy bly ongetroud.

Ontsteld oor 'n artikel wat in The Star verskyn gaan hy na Johannesburg waar hy 'n apologie van die redakteur, W F Moneypenny, eis. Toe hy dit nie kry nie slaan hy Moneypenny en breek Moneypenny se bril in die proses. Op 25 April 1898 word hy skuldig bevind aan aanranding en moet óf twee maande tronk toe gaan óf 'n boete van £20 betaal. Sy boete word egter namens hom betaal deur die mense wat in die hof teenwoordig was.

Op die vooraand van die oorlog oorreed hy die Transvaalse regering om die Wielrijders Rapportgangers Corps te stig om as verkenners en rapportryers in die oorlog op te tree. Voor die oorlog het lede van die korps inligting versamel oor die Britse militêre voorbereidings vir die oorlog. Theron besoek self Kimberley, Mafeking en Bulawayo. In sy hoedanigheid as kaptein van die korps dien Theron op generaal Louis Botha se staf in Natal. Die rapportryerskorps toon gou sy waarde: die dapper, gedissiplineerde manier waarop die lede van die korps hulle pligte doen, kry baie lof, selfs van die burgers wat aanvanklik skepties teenoor die skepping van so 'n korps gestaan het. Hy lewer waardevolle diens by die slag van Spioenkop (15.12.1899) en Colenso (24.01.1900)

Op 24 Februarie 1900 sluit hy aan by die krygsmag van generaal CR de Wet waar hy een van die waaghalsigste van al sy kordaatstukke gedurende die oorlog uitvoer deur 'n boodskap na generaal Piet Cronje wat by Paardeberg vasgekeer was, te bring. Hy het deur die Britse linies gekruip.

Op 5 Maart 1900 stig hy die Theron Verkennerskorps (TVK) wat saamgestel is uit ongeveer 'n honderd jong mans uit verskillende nasionaliteite. Die korps het nie net slegs respek aan albei kante, beide Boer en Brit afgedwing nie maar het hoë standaarde gestel aan sy manskappe. Die korps het ook 'n hoë gevegspeil gehandhaaf. Van die manskappe wat later hulle eie korpse gehad het of hulself in die oorlog onderskei het was Manie Maritz, Wynand Malan, Barnie Enslin, Henri Slegtkamp, Walter Mears en Jack Hindon. Die TVK lewer 'n groot bydrae tot die suksesvolle en uiteenlopende optredes van generaal CR de Wet onder wie hulle hoofsaaklik opgetree het. Hulle was byvoorbeeld die generaal se oë en ore tydens die eerste 'dryfjag' op hom. Die TVK verskaf inligting oor Britse troepebewegings, blaas treinspore op, en bevry selfs by geleentheid krygsgevangenes wat deur die Engelse op Vanwyksrust aangehou is.

Na die oorlog word sy oorskot herbegrawe op die plaas Eikenhof, langs die graf van Hannie Neethling.

Vyftig jaar na sy dood word die Danie Theron-monument op Theronskop waar hy gesneuwel het, onthul.