Reeds voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Danie Theron en sy vriend Koos Jooste,, wat 'n ywerige fietsryer was, die regering van die ZAR versoek om 'n fietsryerskorps op die been te bring. Na 'n resies tussen Pretoria en Krokodilbrug tussen Jooste en ene Martiens wat te perd was, wat Jooste dan ook wen, gee die kommandant-generaal van die ZAR, Piet Joubert toestemming dat die Wielrijders Corps gestig kan word.
Die korps het bestaan uit 100 jong mans wat deur Theron en 'n paar van sy helpers uit die geledere van die burgerlike bevolking asook die van goedgesinde vreemdelinge wat in die Republiek gewoon het, gekies is.
Die doel van die korps was om 'n vinnige rapportdiens tussen die verskillende seksies van die Boere se leërafdelings daar te stel. Theron was oortuig dat die fietsryers vinniger as perderuiters kon beweeg en ook nie so maklik in die veld deur die vyand opgemerk sou word nie. Die korps sou uiteindelik ook dien as 'n inligtingsdiens vir die Boere.
Aan die hoof van die korps het Danie Theron gestaan wat op 13 September 1899 formeel duer die kommandant-generaal in die posisie aangestel is. Theron is bygestaan deur luitenante wat in bevel van elke seksie was. Hy het elkeen persoonlik uitgesoek en aangestel en hulle was aan hom persoonlik verantwoordelik. J P (Koos) Jooste is later bevorder tot onderkaptein van die hele korps.
Elkeen van die manskappe is voorsien met 'n fiets, 'n rewolwer en waar nodig met 'n karabyn. Slegs die betroubaarste manne is tot die korps toegelaat. Die Wielrijders Corps het byvoorbeeld waardevolle werk aan die Swazilandgrens verrig waar hulle die grens gepatrolleer het. Die Engelse se fietsryerkorpse het weer die spoorlyn in die Noordwes-Kaap gepatrolleer.
Reeds voor die oorlog het kolonel George Knox die eerste fietsryerskorpse in Engeland in die leër op die been gebring. Toe die oorlog uitbreek was die City of London Imperial Volunteers en twee bataljons van die Royal Dublin Fusiliers toegerus met fietse. Van die plaaslike regimente het ook van fietse gebruik gemaak byvoorbeeld die Rand Rifles en die Cape Cyclist Corps
Die fietsryers aan Britse kant het ook as skakel tussen die infanterie en die ruitery opgetree. Hulle het telegramme, geld, verslae, rapporte asook die posduiwe vervoer. Majoor BFS Baden-Powell het tot 'n opvoubare fiets gebruik terwyl agt soldate die sogenaamde "War Cycle" beman het. Hulle het 'n spoed van 48 km per uur behaal .
Die fiets het egter nooit die perd as vervoermiddel gedurende die oorlog vervang nie.