25 Feb 2009

Stephanus Roos - Die held van Majuba


Sondag oggend 27 Februarie 1881 het die Boere die Engelse op Majuba kop gewaar. Dit word vertel dat genl. Piet Joubert agter 'n wa gestaan het en in sy piepstemmetjie aan die burgers in die omgewing geskree het; "Ek het mos vir julle gesê dit sal kom. Daar is die Engelse nou op die kop en julle moet hulle daar gaan afhaal!" Die beskrywing van wat daarna gebeur, laat ons aan veldkornet Stephanus Roos, die held van Majuba oor:

Toe ons die Sondagmôre vroeg gewaar dat die Engelse bo op die kop is, was daar groot opskudding in ons laer. Alles en almal is in rep en roer. Ek voel aan my hart; as ons die Engelse nie dadelik van die kop afhaal nie en vir hulle eers tyd gee om hulself daar te verskans en kanonne daar te bring, dan is ons verlore. Daar was g'n tyd of kans om eers 'n krygsraad te roep nie. Ek gryp sommer my perd en jaag storm teen die voet van die berg uit. Hier en daar sien ek enkele persone van verskillende veldkornetskappe ook te perd jaag. Ek skree en wink vir hulle met my hoed. Ons jaag toe tot onder die eerste afset, want die berg maak verskillende afsette en ons laat ons perde sommer onder in die kloof staan. Ons was maar omtrent twaalf man toe ons daar kom. Maar ek sien toe nog gedurig die manne met tweë en drieë aangejaag kom van verskillende kante af. Ek skree en wink maar gedurig met my hoed dat hulle almal daar onder die rant bymekaar moet kom.

Toe ons omtrent 40 of 50 man bymekaar was, kyk ons hoeveel krygsoffisiere daar was. Toe was dit net komdt. Joachim Ferreira van Nuwe Skotland en ek. Ek ek was maar 'n assistent veldkornet. Ek sê toe vir hulle; "Ek voel aan my hart dat ons die kop moet neem, want as ons die kop nie dadelik neem nie en ons gee die Engelse tyd om hulle te versterk, dan is ons verlore." Hulle sê hulle dink ook so.

Toe sê ek vir hulle: "Maar hier moet ons met mekaar 'n verbond maak om die kop te neem of om almal te val. Want as ons 'n aanval maak en die kop nie neem nie, sal genl. Joubert baie kwaad weesvir Ferreira en vir my, dat ons teen sy bevel die kop bestorm het" (want sy bevel was om nie die kop te bestorm nie). Hulle sê toe almal dat dit goed is; hulle sal my volg en ons sal saam die kop neem, of almal saam val.Ek sê toe vir hulle; "Ons God sal ons help en ons sal die kop neem, want ons kan nie anders nie." Ek sê toe verder vir hulle: " Ek sien maar net een plan om die kop te neem. Ons moet ons in twee klompe verdeel. Die een klomp moet reg teen die kop uit opklim, van die een afset na die ander en die ander klomp moet 'n koppie neem wat eenkant van die groot kop uitsteek. Dan kan ons probeer om oor en weer skuins mekaar los te skiet en so al hoër op te klim." Ek vra toe vir Ferreira watter van die twee klompe hy wil aanvoer. Hy sê hy sal die koppie neem.

Ons deel toe die manskappe, soveel moontlik vrywilligers, tussen ons twee. Hulle was toe al aangegroei tot tussen 70 en 80 man volgens my skatting. Ek sê toe vir my manskappe dat party met my saam moet opkruip tot agter die volgende afset of rant en party moet hier by die eerste afset agterbly om die Engelse terug te skiet as hulle te ver uitkom om ons te belet om die volgende rant te neem, want die Engelse skiet toe al pylskote op ons bo van die kop af. Daar kom toe ook enkele persone agterna, wat party agter Ferreira aangaan en party hulle by my manne voeg. Maar van nou af het ek amper g'n tyd meer gehad vir omkyk nie. Ek was maar altyd besig om my manne aan te moedig en voort te help, sodat hulle g'n tyd kry om moed te verloor nie. En ons manskappe was wel min, maar ons het die dapperste kêrels by ons.

Die tweede rant of afset bereik ons dan ook in taamlik korte tyd en sonder enige nadeel deur die pylskote wat oor ons koppe vlieg en op die manier later een van ons manne gedood het, nl Johannes Bekker en ses gewond het, nie van ons voorste mense nie, maar van die agterste, sodat ons voorste manne nie eens daarvan geweet het nie. (en dit is ons enigste verlies van die dag) (een van die gewondes het later beswyk)

Toe ons agter die tweede afset kom, gaan ons bietjie rus agter 'n krans, sodat ons agterste manne kan bykom. Ons sien toe dat Ferreira en sy manne al aan die veg is, want daar was al Engelse op die koppie wat hy moes neem. Gelukkig kon ons die Engelse wat op die koppie is, skuins van agter beskiet, terwyl hy hulle van voor beskiet. Hulle vlug dan ook gou toe hulle die vuur van twee kante kry, want daar was nie veel skuiling op die koppie nie. Terwyl ons dus vir Ferreira help om die koppie te neem, kom my agterste manne by en dit las nog maar altyd agter aan van die wat nog steeds bykom. Ek gee toe weer dieselfde bevel: dat party van my manskappe agter die middelste rant moet bly om die Engelse terug te skiet agter die boonste rant wat ons nou moet probeer neem. Ek het gesien dat ons daar hard sal moet veg, want daar sal ons bors aan bors met die Engelse kom en daar moes ons wen of verloor.

En so was dit ook. Toe ons agter die middelste rant uitkom, skiet die Engelse net hard op ons. Maar gelukkig kom Ferreira en sy manskappe toe net uit op die koppie en so kon hulle weer ons losskiet soos ons vir hulle los geskied het. So skiet ons skuins oor en weer mekaar los. Ek sien toe dat ons God vir ons help en sê dit vir my manskappe wat by ons was en ons vat nuwe moed.

Maar glo my, van toe af het dit hard gegaan. Ons moes op ons buik die berg opkruip agter die hoe graspolle en van een klip en kliprantjie na die ander. Maar ons kruip al nader en nader, en die geveg word al harder hoe nader ons kom. Maar ons agterste kêrels van die middelste rant af en Ferreira se manne hou die Engelse so warm dat hulle nie durf uitkom om behoorlik korrel te vat op ons nie.

Eiendelik bereik ons die bo-rant, want die kop is bo plat met 'n rant van klippers rondom. Toe veg ons amper bors aan bors met die Engelse, maar amper sonder dat ons mekaar sien. Partykeer is hulle eenkant van 'n klip en van ons mense anderkant; partykeer kan ons die trompe van mekaar se gewere sien; en ek weet nog nie hoe is dit dat daar nie van ons mense geval het nie. Ons liewe Heer moet vir ons bewaar het.

Naderhand wyk die Engelse terug en hulle skiet hou op, maar ek hoor aan die skote dat Ferreira die kop aan die ander kant bestorm en net hard veg. Ek dog; "nou is my tyd". Ek was die voorste van my manskappe en tel my kop op om oor 'n klipkoppie bo op die kop te kyk. Maar ek skrik toe ek die mag van die Engelse bo op die kop sien. Hoewel 'n ent van ons af, was dit 'n digte trop en aan die ander kant veg hulle hard met Ferreira. Ek buk dadelik weer - hulle het my nie gewaar nie - en kyk om. Toe sien ek eers hoe min manskappe by my is en hoe enkeld en uitmekaar my mense aankom.

Ja, ons liewe Heer weet dit, toe sink my moed vir 'n oomblik weg. Ek dag; "Ag, die Engelse kan kom en ons klompie hier vang met die hande en ons almal vasmaak." En dan het ek geweet as dit tot die uiterste kom, die Engelse ons met die bajonette sal storm. En ek wil nie ontken nie, toe het ek gebruik gemaak van 'n leun. Ek hoop ons liewe Heer het my dit vergewe! Ek wink toe met my hoed en ek skree: "Kêrels, kom nou! Kom gou! Die Engelse vlug!" A ja, toe borrel my kêrels agter die klippe uit en die agterstes kom aan dat dit help. Ons storm toe sommer bo op die rant. Ek dink ons was daar 40 of 50 man en die Engelse was 30 of 40 tree van ons af. Ons vuur toe op die Engelse so hard as ons kan, want hulle staan toe oop en bloot en ons het tog 'n bietjie skuiling agter die klippe. Die Engelse wil osn toe storm met die bajonette, maar ons skiet hulle twee maal terug. Net toe die Engelse ons storm, kry Ferreira weer kans, en koeël hulle vuurwarm van die anderkant af. En net op die kritieke oomblik hoor ek van 'n derde kant af ook skiet. Daar kom Stefanus Trichard en D Malan met 'n klompie Utrechtse mense ook uit. Toe kry die Engelse dit van drie kante af gelyk en ek dink dis net toe ook dat Colley geval het. Dit kon die Engelse nie uithou nie. Dit kom toe te hard en hulle bars sommer die berg anderkant af. Ons mense loop toe sommer storm om die Engelse wat vlug van agter af te skiet en ek ook saam. Maar 'n menigte Engelse bly sommer staan en gee hulself oor. Toe ek sien hoe baie Engelse daar nog agter ons staan wat hulle oorgegee het, word ek bang dat as hulle sien hoe min ons is, hulle straks vir ons van agter kan aanval en as die voorste wat vlug dan omspring, dan is ons tussen twee vure. Ek ken geen Engels nie, maar ek kry toe gou een van ons jong kêrels wat Engels ken en ek sê vir hom; "Skree nou hard vir hulle in Engels dat as hulle hulleself wil oorgee, sal hulle niks kwaads oorkom nie; maar dan moet hulle almal gaan plat lê tot die geveg oor is; want as een sy kop optel, dan kan ek nie help as hy 'n koeël kry nie." Hulle gaan toe almal plat lê en so kon ons manskappe die vlugtende Engelse agterna skiet. Party spring sommer die hoë kranse af en party het in die kranse en bosse bly hang.

Daar het die dag van die Engelse geval: vier offisiere, met Colley daarby en 86 man; gewond was daar agt offisiere en 125 man. Ses offisiere, waarby een luitenant-kolonel en 51 man het ons gevange geneem. Ons sien toe dat Colley amper sy hele mag op die kop gehad het en dat hulle neerlaag volkome is, want die wat gevlug het, vlug party sommer verkeerde koers die Drakensberge in. En die wat halfpad na die kamp onder by die kanonne was, vlug ook party die kamp verby.

Toe al ons mense bymekaar was op die kop na afloop van die slag, was ons tussen 180 en 200 man. Ons maak toe plan om 'n klein wag by die krygsgevangenes op die kop te laat en die Engelse kamp te gaan bestorm. Maar terwyl ons nog daaroor planne maak. kom daar 'n digte mis op uit Natal; so skielik en so dig soos ek nog nie gesien het nie. Toe sê ons almal; "Nee, dis die hand van die Here wat sê; so ver, maar nie verder nie."
En ons dank die Here vir sy verlossing die Sondagaand.

Vir vryheid en vir reg.
Generaal J.C.G Kemp

24 Feb 2009

MAJUBA 2009 KONVOOI




*MAJUBA KONVOOI*

Geagte volksgenoot

Die Verkenners Jeug van Pretoria het 'n skedule uitgewerk waarvolgens 'n
konvooi vanaf Pretoria tot by Majuba saam kan ry. U word hartlik uitgenooi
om met u voertuig in die konvooi saam te ry vanaf Pretoria of by een van die
naaste dorpe op die roete aan te sluit. Die konvooi sal om 11 uur Vrydag
oggend 27 Februarie 2009 vertrek vanaf:

Die Fort

Farendenstraat 426

Sunnyside

Pretoria


Vir meer besonderhede in die verband kontak gerus vir

Ruan Combrink: 082 456 4426

of

Cobus Pretorius: 084 554 4770

MAJUBA SE GESKIENDENIS




Op 12 April 1877 annekseer Sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaanse Republiek ten behoewe van Brittanje en verklaar die Boerestaat tot Britse kolonie. Onder leiding van visepresident Paul Kruger vind ‘n lydelike verset plaas wat uitloop op twee deputasies na Brittanje, volgehoue onderhandelinge met die Britse owerhede en verskeie volksvegaderings.

Op 11 November 1880 kom die verset en ontevredenheid van die Transvaalse Boere tot uitbarsting met die Bezuidenhoutwa-episode te Potchefstroom waar die Britse regsprekende gesag openlik uitgedaag word. Bezuidenhout se ossewa word deur die Britse owerheid gekonfiskeer om per openbare veiling verkoop te word om sy belastingskuld te vereffen. ‘n Honderdtal Boere het het die wa met geweld kom terugneemen en aan Bezuidenhout terug gegee. Pogings om geregtelike stappe teen die leiers van die Boereverset te neem slaag nie en die spanning neem toe. ‘n Vervroegde volksvergadering van die Boere word van 8 – 15 Desember 1880 te Paardekraal gehou, waar besluit in om die regering van die ZAR te herstel met die driemanskap Paul Kruger, MW Pretorius en Piet Joubert aan die spits. Die onmiddelike gevolg : ‘ n staat van oorlog tussen die Boere en Brittanje.

Met die eerste veldslag tussen Boer en Brit op 20 Desember 1880 by Bronkhorstspruit word die Britte verpletterend vr\erslaan.

Britse troepe troepe onder Generaal Sir George Pomeroy-Colley ruk vanuit Natal op om die Britse gesag in Transvaal te herstel. Boeremagte o.l.v. Generaal Piet Joubert was vasbeslote om te verhoed dat hulp vanuit Natal aan die Britte in Transvaal verleen word.


Op 28 Januarie 1881 ly die Britte ‘n verdere vernederende neerlaag by Laingsnek. Op hoë regeringsvalk word onderhandelinge om vredesluiting aangeknoop. Op 8 Februarie 1881 vind ‘n volgende botsing plaas met die slag van Schuinshoogte wat nogeens op ‘n oorwinning vir die Boere uitloop. Terwyl die vredesinisiatief begin momentum kry, besluit Colley om ‘n derde aanslag teen die Boere te loods, hierdie keer met Majuba as magsbasis vanwaar Boere bewegings beperk kon word om so ‘n Britse deurgang deur die Drakensberg te vermag. In die nag van 26 Februarie beset hy Majuba met ‘n mag van ongeveer 360 man en verras daarmee die Boeremagte wat hulle in die nabyheid van Majuba ingegrawe het.

Op Sondag 27 Februarie vind die epiese slag van Majuba plaas. ‘n Groep van 150 Boerevrywilligers wat later deur nog ‘n klompie boerekrygers aangevul word bestyg die berg

takties en stelselmatig vanuit drie rigtings. Hulle verras die Britte bo-op die berg en hewige gevegte vind op die kruin plaas met die verwarde Britse troepe wat spoedig die aftog blaas..

Coley en 86 van sy manskappe en 5 offisiere sterf op die berg, 134 Britte word verwond en nog 59 gevange geneem. Aan Boerekant sneuwel een met 5 gewond.

Die slag van Majuba skaad die Britse moraal erg, vanuit Boere oogpunt beskou was Majuba een van die skitterendste veldslae ooit en dit stimuleer Afrikaner nasionalisme geweldig – tot vandag toe.






O’NEILL SE PLAASHUIS

Vredesonderhandelinge op 18 Maart 1881 Paul Kruger sterk en ferm. Laat hom nie deur genl. Evelyn Wood intimideer nie – "As Engelse nie wil luister nie – ons is gereed om verder te veg!"

TELEGRAM VAN Gen Piet Joubert aan Lady Colley, Pietermaritzburg

“Regret extremely sad the fate of Colonel Colley, who fell in action at one ‘o clock, February 27, in attempting to hold mountain fortress forming right of Boer position. Regret he should have fallen in a war, the outcome of a policy which he had not caused; also that he should fall in such an unprovoked and unholy war against the Boer people struggling for freedom. Can only aid you in your sorrow by giving every facility for the removal of the corpse of your gallant husband.

_____________________

Majubafees Lied

(Geskep 1987)

As ek moeg word vir die lewe in die stad roep my Majubaberg. (2x)

Op die berg kyk ons oor wye veld en dink aan dapp’re Boereheld

en sing : “Ken’t gij dat volk” (2x)

27 Jan 2009

Geert Wilders na Suid-Afrika genooi



Die Oostenrykse parlementslid van die Vryheidsparty, Susanne Winter, is skuldig bevind aan beweerde haatspraak teen Moslems.
In Nederland het die nasionale vervolgingsgesag in Amsterdam aangekondig dat die leier van die Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV), mnr. Geert Wilders, ook vervolg gaan word vir sogenaamde anti-Moslem-uitsprake.

Die Verkennersbeweging, wat homself op Christelik-nasionale grondslag stel, is bekommerd oor hierdie tendens, omdat Moslems deur hierdie optrede nog meer radikaal sal word, en dit uiteindelik 'n bedreiging vir die Christendom kan inhou.

Die Verkenners het meegaande brief aan mnr. Wilders gestuur, waarin steun aan hom toegesê word, en waarin hy uitgenooi word om Suid-Afrika te besoek om sy film oor die Islam en die Koran, "Fitna", in Suid-Afrika te kom vertoon, en sy ervaring met betrekking tot die Islam en sy stryd daarteen, te kom deel op openbare vergaderings wat die Verkenners landswyd sal aanlê.

Die volledige brief aan mnr. Wilders lui:


Meneer Geert Wilders

Partij Voor Vrijheid

Nederland



Geagte Meneer Wilders



Ons organisasie staan op ‘n Christelik-Nasionale grondslag, as basis vir ons oortuigings en optrede.



Met dit as uitgangspunt wil ons u verseker van ons ondersteuning in u stryd ter bewusmaking van die gevare van die Moslem-fundamentalisme vir die wêreld.



Daarom het ons met waardering kennis geneem dat u, ten spyte van alle dreigemente en aanslae, steeds voortgegaan het om die film “Fitna” te maak, waarin u uitstekend geslaag het om die werkswyse en die ware Moslem-karakter uit te beeld.



Die laaste dae het ons, saam met ander nasionaliste regoor die wêreld, met groot ontevredenheid kennis geneem van die Nederlandse Vervolgingsowerheid se besluit om u te vervolg vir beweerde anti-Moslem uitsprake. Insgelyks het ons met kommer kennis geneem van die reuse boete wat mev. Susanne Winter van die Oostenrykse Vryheidsparty opgelê is vir soortgelyke aanklagte.



Dit sal waarskynlik net petrol op die Moslem-vuur wees om nog meer radikaal en uitgesproke te wees, en ons glo, ook ter behoud van die Christelike beskawing en leefwyse, dat internasionaal saamgewerk moet word teen die Islamisering van die samelewing. Daarom kan u op ons steun reken.



Ons het egter ook kennis geneem dat u ook in ander lande Fitna vertoon, waartydens u dan ook verdere inligting verskaf. Ons sou u graag wil uitnooi om ook Suid-Afrika te besoek, om Fitna ook hier te vertoon en ons mense verder toe te lig. Ons sal verkeie byeenkomste kan reël regoor die land, terwyl u ook ons mooi land kan besigtig.



Indien u ons uitnodiging sou aanvaar, kan verdere besonderhede uitgewerk word.



Sterkte intussen met u stryd, veral ook met die naderende vervolging en hofsaak.



Ons verneem graag van u.



Vriendelike groete





Henk van de Graaf

PRESIDENT

15 Jan 2009

Geloftefeesrede: Paardekraal 16 Desember 2008


Geloftefees: Paardekraal 16 Desember 2008

Dr Barry van Wyk

Aanstons sal die ligstraal uit die dakkoepel op die sarkofaag in die Voortrekker Monument in Pretoria skyn. Dit is deur die argitek, Gerhard Moerdyk so ontwerp om elke jaar op 16 Desember, presies om twaalf uur die woorde op die bokant te belig waarop staan: Ons vir jou Suid-Afrika! Die besondere struktuur is die gevolg van die gebeure in die verlede en die implikasies wat dit vir die nageslag inhou. Anders gestel kom dit neer op die mate waarin die verlede vir die nageslag betekenis het en hoe dit hulle dade en optrede beïnvloed.

Daarom is dit waarskynlik dienlik om te probeer vasstel wat die betekenis van die verlede is en hoe dit die huidige geslag raak. Dit is vanselfsprekend dat nie alle gebeure in die verlede noodwendig geskiedenis is nie. Gebeure in die verlede word in die geskiedenisboeke opgeteken wat ‘n verband met die hede het. As ‘n mens soek na ‘n goeie sleutel waarmee die geskiedenis en die gebeurtenisse in die verlede beoordeel kan word kom Paulus se uitspraak in 1 Korintiërs 10: 11 na vore wanneer hy sê:

Hierdie dinge het oor hulle gekom as ‘n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.

Die verlede het die neiging om ons verantwoordelikheid met betrekking tot die toekoms te verswaar. Die gebeure van gister is nie maar net betekenisloos nie. Ons kan vandag alleen maar tot ons eie nadeel die verlede verswyg en ignoreer en die geskiedenis verwaarloos. Daarom sê die psalmdigter (Ps 78: 3) ook:

Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.

Dit spreek dus vanself dat 16 Desember betekenisloos en niksseggend sal wees as die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie in oënskou geneem word nie. Dit kom noodwendig daarop neer dat vir ‘n oomblik teruggegaan moet word na dit wat op 16 Desember 1838 gebeur het asook die aanleidende oorsake wat die gebeurtenis tot gevolg gehad het.

Die slag van Bloedrivier is die gevolg van die verhuising uit die Kaapkolonie wat al sedert 1834 begin toe Louis Tregard (later Trichardt) die Kolonie verlaat het en hom aan die Wit Kei gevestig het. So verlaat ook die Van Rensburggroep die Kaap in 1835 en sluit by die Tregard trek aan in hulle trek na die Noorde.

Met die trek van Andries Hendrik Potgieter wat die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat word dit duidelik dat ‘n georganiseerde beweging ontstaan het wat later as die Groot Trek bekend sou staan. Die bekende name volg naamlik, Sarel Celliers, Gerhardus Marthinus Maritz, Pieter Lafras Uys, Pieter Retief en uiteindelik Andries Pretorius en andere.

Die vraag kom na vore waarom besluit is om die Kaapkolonie te verlaat. Die redes is tweeledig naamlik, om weg te kom van die Engelse bewind aan die Kaap wat sedert 1806 permanent geword het, en die feit dat die regering algehele gelykstelling toegepas het tussen blank en nie-blank. Die trekkers het hulle in haglike omstandighede bevind aangesien hulle sonder voldoende beskerming uitgelewer was aan herhaalde strooptogte, swak ekonomiese omstandighede en swaar verliese gely het as gevolg van die vrystelling van slawe. Die redes vir die Groot Trek word volledig uiteengesit in die bekende Manifes van Piet Retief wat vir die eerste keer in die Grahams Town Journal op 22 Februarie 1837 gepubliseer word (Oberholzer 1988: 9).

Tyd en ruimte ontbreek om alle gebeurtenisse volledig uiteen te sit en daarom word ‘n keuse gemaak in die gebeurtenisse wat van besondere betekenis is. Die eerste ernstige botsing met nie-blankes was tydens die slag van Vegkop (waarskynlik naby ThabaNchu) op 20 Oktober 1836 waar ongeveer veertig weerbare man weerstand teen drie tof vyf duisend Matebeles moes bied. Dit is belangrik om hier te meld dat Sarel Celliers in die laer ‘n godsdiensoefening gelei het toe die laer reeds omsingel was en die Matebele net buite trefafstand tot stilstand gekom het. Dit het bestaan uit ‘n kort bemoediging en ‘n gebed en is van belang as aanduiding van die godsdienstige klimaat wat onder die Voortrekkers geheers het. Cilliers skryf daaroor in sy Joernaal (Oberholzer 1988: 6) die volgende:

...toe het ek almal bymekaargeroep en ‘n kort rede gehou wat daarop neergekom het dat ons ‘n heilige God het, met almag beklee, in hemel en op aarde, en dat ons ons saam voor Hom moet verootmoedig...,en ek het tot God gebid dat Hy in grondelose genade tog aan ons sal dink in ons groot nood...

‘n Verdere kritiese vraag wat ter sprake gekom het was ‘n eie predikant en tweedens die rigting wat die trek uiteindelik sou volg. Retief het uiteindelik Gerrit Maritz se swaer Erasmus Smit as predikant aangestel wat homself op 21 Mei 1837 bevestig het.

Oor die trekrigting was daar verskil van mening veral tussen Potgieter en Retief wat redelike spanning veroorsaak het en die rede aandui waarom Retief dit goed gedink het om met Dingaan oor grondgebied te gaan onderhandel. Retief het daarin geslaag om ‘n mate van ooreenstemming te bereik en is tydens ‘n volksvergadering gehou op 13 September 1837 aan die Sandrivier naby die huidige Senekal besluit dat Retief met Dingaan sou gaan onderhandel oor grond in Natal.

Retief kom op 5 November 1837 met vier waens, vyftien man vergesel van Thomas Halstead as tolk by Dingaanstat aan. Hy gee toe aan die onredelike eise van Dingaan om die gesteelde beeste by Sikonjella in die omgewing van die huidige Ficksburg te gaan haal. Hy stuur berigte vooruit na sy laers met berigte van die suksesvolle onderhandelinge wat tot gevolg het dat hulle teen die Drakensberge begin aftrek, waar Retief hulle teen 27 November 1837 by die Tugela onderkant die Oliviershoekpas ontmoet het.

Retief vertrek vir die tweede keer na Dingaan nadat hy daarin geslaag het om sonder bloedvergieting die gesteelde beeste van Sikonjella terug te kry. Retief vertrek dus na Dingaanstad vir die tweede keer om die onderhandelinge oor die grond af te handel. Sy vertrek gaan gepaard met bittere meningsverskil aangesien hy twee honderd man saam wil neem as ‘n militêre magsvertoon, terwyl Maritz daarteen gekant was en van mening was dat hy slegs vier of vyf man moes saamneem. Hy skryf op 27 Januarie 1838 van die Tugela af aan sy vrou die volgende waaruit iets van die aard van hulle godsdienstige belewenis geblyk het (Oberholzer 1988: 13):

...maar ek was vol droefheid dat ek weer die vir my ondraaglike tweedrag in ons maatskappy moes belewe, wat my laat vrees dat God sy goedheid in toorn sal verander.

Uiteindelik gaan slegs sestig man waaronder vier seuns en met ongeveer dertig agterryers, almal as vrywilligers saam. Daar het later nog ‘n paar bygekom sodat die totaal 71 was. Die gebeure is bekend. Op 4 Februarie 1838 het Dingaan die grondbrief aan Retief oorhandig waarin hy die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu aan die Voortrekkers afgestaan het en op 6 Februarie is Retief en sy hele geselskap uitgemoor.

Daar was drie blanke ooggetuies, die sendeling Owen, sy diensmeisie Jane Bird en ‘n twaalfjarige seun William Wood. Jane Bird het vertel dat Wood die vorige dag gehoor wat ‘n impi sing en dat hy vir haar en Owen gesê het dat die Boere die volgende dag vermoor sou word. Wood skryf in sy herinnerings in 1840 dat hy die oggend van die derde dag gesien het dat Dingaan iets kwaads beplan maar kon nie uit die gesprekke met sy kapteins agterkom dat hy iets teen die Boere beplan nie. Hy het by geleentheid gewaarsku om op hulle hoede te wees maar hulle het geantwoord dat hulle oortuig is dat die koning se hart reg is en daarom niks het om te vrees nie. Hulle het die Boere uitgesleep en op Hlomo Mabuto begin om hulle met knopkieries dood te slaan. Hulle het Retief vasgehou en hom die dood van sy manskappe laat aanskou voor hulle hom doodgemaak het.

Sarel Cilliers het in sy Joernaal verklaar dat hulle die liggame van Retief en sy manne omtrent 1200 treë van Dingaan se woonplek aangetref het, dat hulle hande en voete nog vasgebind was met rourieme, en dat in byna al die liggame ‘n pen van omtrent ‘n armdikte van agter af ingeslaan was sodat die punt in die bors was. Hulle het daar gelê met hulle klere aan, geen gedierte of roofvoël het hulle verteer nie.
(Die Hervormer 2006: 8)

Dit is begryplik dat die moord op Retief en sy geselskap die Trek in onmiddellike gevaar gestel het en byna laat ontspoor het. Die trekkers het in losstaande groepe verkeer en dit is hierdie onbeskermde groepe by Bloukrans, Moordspruit en Boesmansrivier wat die prooi van die Zoeloemag geword het in die nag van 17 Februarie 1838 waarin 96 volwassenes, 185 kinders en meer as 200 bediendes die lewe gelaat het.

Op Sondag 18 Februarie skryf Erasmus Smit in sy dagboek (Oberholzer 1988: 14):

Alles was in diepe druk. Selfs geen aaneengeskakelde gebed kon ons voortbring nie. Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God! Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is u oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes, en die angs en skrik van ander het ten hemel opgekryt.

Isak Breytenbach skryf die volgende oor die wreedaardige moord: “Vroue het daar oopgesny gelê, kinders met hulle harsings verpletter teen die wawiele, ander aan doringbome opgehang tussen die takke, die manne het hulle doodgeveg, maar is gruwelik vermink”. Ferdinand van Gass skryf: “ ...soos kinders waarvan die skedel teen die wawiele stukkend geslaan is, ander die harsings met kieries ingeslaan, ander lewendig aan stukke geskeur. En al wat afskuwelik is, is op die vroueliggame gepleeg”. J H Hattings skryf: “Die Zoeloes het niks wat lewe verskoon nie, tot honde, hoenders, katte, eende – almal is doodgemaak” (Die Hervormder 2006: 8).

Steeds was dit nie die einde nie. Hierna het die rampspoedige geveg by Italeni gevolg waartydens elf manskappe, onder andere Piet Uys en sy seun Dirkie, omgekom het.

Op 13-15 Augustus het die aanval op die laer (Veglaer) van Stefanus Maritz en Hans de Lange aan die linkeroewer van die Boesmansrivier plaasgevind wat volgens Erasmus Smit se dagboek inskrywing deur 10,000 Zoeloes uitgevoer is. Slegs een voortrekker is gedood (J C Froneman) maar die Zoeloes het in hulle terugtog bykans al die vee gebuit. Kort na die Veglaerslag is die laer verskuif na die van Maritz, en tot na die slag van Bloedrivier sou Sooilaer, ook Saailaer genoem, die hooflaer in Natal wees.

Dit het voor die hand liggend geword om die mag van Dingaan te breek en daarom is hulp uit die Kaapkolonie gevra deur drie afgevaardigdes daarheen te stuur om hulp vir so ‘n kommando te werf. Die aanslag teen Dingaan kry finaal momentum deur die aankoms van Andries Pretorius wat op 22 November 1838 arriveer. Erasmus Smit maak die volgende aantekening: “In die namiddag het weer ‘n baie waardige medereisiger, Andries Pretorius (as ‘n weltoegeruste, gesabelde en gepistoolde dragonder) te perd in ons laer aangekom” (Oberholzer 1988: 17).

Die slag van Bloedrivier word deeglik beplan en uitgevoer op 16 Desember 1838. Pretorius roep op 5 Desember 1838 al die manskappe en offisiere byeen waartydens hy hulle vermaan om die belangrike taak met gebed en smeking aan te pak, standvastig te bly en aan hulle meerderes gehoorsaam te wees. Hy het hulle herinner dat enige onderneming sonder God tot mislukking gedoem is. Die groep van 464 man naas die kommandante het met ongeveer 57 waens getrek waar hulle op 9 Desember by die Wasbankrivier, Suid van Glencoe aangekom het en volgens Jan Bantjes die Gelofte vir die eerste keer afgelê is. In sy Joernaal het Cilliers verklaar dat Andries Pretorius reeds aan die Tugela met hom gepraat het oor die moontlikheid van die aflegging van ‘n gelofte aan die Here. Daar is drie weergawes (Oberholzer 1988: 20-21) van die Gelofte wat behoue gebly het naamlik, die van Jan Bantjes, Andries Pretorius self, asook Sarel Cilliers se weergawe in sy journaal meer as dertig jaar later.

Cilliers noem die oprigting van ‘n huis vir God nie, waarskynlik omdat hy dertig jaar later sy weergawe opstel en onder die indruk verkeer het dat die deel van die Gelofte afgehandel is deur die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Dit waarop hy klem lê is die jaarlikse herdenking asook die oorlewering aan die nageslag. Albei laasgenoemde kom voor in die weergawes van Bantjes en Pretorius, maar Cilliers verleen besondere klem aan die feit dat die dag soos ‘n Sondag, ‘n dankdag soos ‘n Sabbat, deurgebring moes word. Dit is trouens moeilik om te aanvaar dat diegene wat die gelofte afgelê het iets anders daarmee in gedagte gehad het.

Die gelofte van 1838 bring die vraag na vore waarom die maak van ‘n gelofte aan die Here vir hulle ‘n bykans spontane gebeure was en wat die agtergrond van hulle denke gevorm het.

As die saak uit ‘n teologiese hoek bekyk word is dit duidelik dat hulle vanuit die Calvinisties bepaalde teokratiese denke gemotiveer word soos dit teruggevind word in die tyd van die Hervorming in Zürich. Die uitgangspunt wat veral daar gegeld het was dat alle burgers deel was van die genadeverbond op grond van die kinderdoop. Dit het beteken dat almal deel van die volk van God was.

Aangesien deur middel van die doop almal deel het aan die beloftes wat in die verbond aan die lede van die verbond toegesê word, het elke burger van die gemeenskap die plig om die eise wat die verbond stel, na te kom.
(Pont 1988: 39)

Dit het beteken dat die burgerlike samelewing en die kerk saamgeval het want almal was gedoop, en aangesien net een kerklike struktuur toegelaat is was almal deel daarvan. Die volk van God was dus terselfdertyd die kerk en die gemeenskap. In die gemeenskap het die kerk nie apart bestaan nie, maar was dit slegs die kerklike struktuur van die gemeenskap.

Omdat letterlik almal deel van die verbond met God was, was almal daaraan onderworpe om die voorwaardes van die verbond na te kom, naamlik geloof in die drie-enige God en ‘n vrome lewenswandel.
(Pont 1988: 39)

Wanneer die saak op Nederlandse bodem nagegaan word is dit uit en uit ‘n teokratiese bestel wat daarop neerkom dat die Woord van God geldig beskou is vir kerk en owerheid. Dit word duidelik uitgedruk in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), Artikel 36 dat die burgery gedoop is, dus binne die kader van die genadeverbond val, en as sodanig het almal die plig om die voorwaardes van die genadeverbond na te kom. Die teokratiese visie op die owerheid en die verhouding owerheid en kerk kom nie net in die NGB na vore nie maar word ook gevind in die Franse Geloofsbelydenis van 1559 en is daarom gemeengoed van die teologie van Johannes Calvyn.

Die verbondsteologie het ook langs die weg van die Heidelbergse Kategismus (HK) vastrapplek in die Nederlandse samelewing gekry en oefen invloed uit op die beweging van die Nadere Reformasie wat veral aangedring het op die persoonlike ervaring en belewing van die geloof en sy vrugte, die bekering, wedergeboorte en regverdiging. In hierdie tyd het ‘n man soos Johannes Coccejus (1603-1669) ‘n omvangryke verbondsteologie opgebou waarin die verbond die basiese struktuur is waarbinne God die mens opneem. Die verbond is die beskrywing van die wyse waarop God in ‘n besondere verhouding met gelowiges tree, terwyl die begrip koninkryk van God, die omskrywing is van God se regering oor die bondgenote. Die aflê van ‘n gelofte was in hierdie teokratiese struktuur in die sewentiende en agtiende eeu ‘n vanselfsprekend en normale gebeurtenis.

Na afloop van die groot Dordtse Sinode van 1618-1619 en die bekamping van die dwaalleer van die Remonstrante stel vier teoloë van die Universiteit van Leiden ‘n dogmatiekhandboek saam wat as die Synopsis purioris theologiae bekend staan en in 1625 gepubliseer word. In hoofstuk 38 word uitvoerig oor die maak van ‘n gelofte gehandel, trouens dit word as vanselfsprekend beskou. In die Synopsis word dit duidelik gestel dat slegs ‘n gelowige wat in die verbond van die genade opgeneem is, ‘n belofte aan God mag aflê. Die opvatting van die verbond en die gelofte wat daarop rus gaan van die gedagte uit dat die volk van God primêr uit gelowige huisgesinne en families bestaan waarby kinders vanselfsprekend ingesluit is.

Wat die doel van die gelofte betref, word beklemtoon dat dit die eer van God moet bevorder en dat dit in die tweede plek die bedoeling het om diegene wat die gelofte aflê, aan te spoor om die gehoorsaamheid aan God nog sorgvuldiger na te kom.
(Pont 1988: 45)

‘n Verdere en besonder belangrike bron was die dogmatiekhandboek van Wilhelmus A’ Brakel, Redelyke Godtsdienst, wat kom uit die Nadere Reformasie wat nie net in Nederland nie maar ook in Suid-Afrika groot invloed uitgeoefen het. Hy was een van die sogenaamde oude schrijvers wat deur die Voortrekkers en die pioniers in die Oorvaalse gebied geraadpleeg en nagevors is. In sy opstelling is dit duidelik dat hy kennis geneem het van die Synopsis en alhoewel hy niks nuut byvoeg nie slaag hy daarin om die inhoud van die Calvinistiese Ortodoksie op ‘n populêre wyse oor te dra en bekend te stel. Hy behandel die maak van ‘n gelofte in hoofstuk 38 en uit sy geskif is dit ook duidelik dat dit vir hom ‘n normale onderdeel van die godsdienstige lewe van die gelowige mens was. Hy beklemtoon dat die verbond van die genade waarvan die doop ‘n teken is, die moontlikheid van ‘n gelofte skep waar die gelowige homself tot gehoorsaamheid aan God bind. ‘n Gelofte wat eenmaal afgelê is plaas ‘n verpligting op die aflegger wat nie ontduik kan word nie, en beklemtoon ook dat ‘n gelofte niks sal bevat wat buite die gelowige se moontlikhede lê nie. ‘n Gelofte is nie ‘n handelstransaksie waar gegee en gevra word en voorwaardelik gemaak word nie.

Die gelofte verwoord dus ‘n unieke situasie in die lewe van die Afrikaner maar in die lig van die geestelike agtergrond is dit tog nie so vreemd nie. Hulle gedagtes was gevorm uit die teokratiese denke waar die verbond sentraal gestaan het en waar dit na aanleiding van die denke van die Nadere Reformasie vanselfsprekend was om ‘n gelofte te maak wat terselfdertyd ook as bindend op die nageslag beskou is. Hulle het die gelofte nie as enkelinge afgelê nie maar as huisvaders wat die verantwoordelikheid saam met hulle gesinne met gevolge vir die nageslag afgelê het.

Die vanselfsprekende uitvlug om ‘n gelofte aan God af te lê was nie net tot Bloedrivier beperk nie maar kom weer na vore in die geskiedenis van die Afrikaner nadat Brittanje die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 deur sy gevolmagtigde Sir Theophilus Shepstone sonder enige weerstand geannekseer het. Dit loop uiteindelik daarop uit dat ‘n tweede gelofte by Paardekraal op 14 Desember 1880 afgelê word om weerstand teen die Britse besetting te bied.

‘n Vergelyking van die geloftes van 1838 en 1880 toon aan dat eersgenoemde ‘n gelofte aan God was, terwyl die gelofte by Paardekraal ‘n gelofte voor God was. “Dit beteken aan die een kant dat niks wat onwettig of onmoontlik is, beloof mag word nie(vergelyk Joh 14: 7-9 en Hand 23: 12). Aan die ander kant beteken dit ook dat ‘n wettige belofte-eed nie gebreek mag word nie, want dit sou beteken dat God getuie van ‘n leuen gemaak word” (Botha 1988: 75). Dit lyk dus asof die klipstapeling by Paardekraal ‘n hernuwing en bevestiging van die Gelofte was en dat dit juis die basis was waarop die heilige verbond wat by Paardekraal ontstaan het as ‘n eed van trou aan volk en vaderland en ‘n verbintenis om tot die dood toe te stry vir die herstel van die verlore vryheid.

Slotopmerkings

Hier staan ons vandag op die 16 Desember 2008 op hierdie historiese plek om die Gelofte te herdenk wat direk in verband staan met die gebeure van 1838, 170 jaar gelede. Wat maak ons daarmee, hoe raak dit ons?

By die gelofte van 1838 en 1880 was dit duidelik dat die betrokkenes oortuig was dat die oorwinnings in beide gevalle deur God moontlik gemaak is. Hulle geestelike lewe was gedra en gemotiveer deur die teokratiese siening eie aan die Reformasie, naamlik dat God regeer. Verder het dit beteken dat die verbond die manier is waarop God mense aan Hom bind, en dat die gevolge daarvan nie net vir diegene geld wat gedoop is op ‘n bepaalde tydstip nie, maar ook vir die nageslag asook die opkomende geslagte.

Uit die verloop van gebeure moet gestel word dat die Voortrekkers sekerlik met hulleself te rade gegaan het oor die feit dat God by Bloukrans en Italeni anders geantwoord het as by Bloedrivier.

Elkeen wat Afrikaans praat en deel is van die volk wat op die wyse en langs die historiese verloop tot stand gekom het soos aangedui, is deel van die geloftevolk wat die verantwoordelikheid het om die gelofte jaarliks in herinnering te roep, want die verlede verswaar die verantwoordelikheid van die hede vir die toekoms.

Herdenking van die gelofte maak die uitspraak van die skrywer van die Hebreërbrief aktueel wanneer hy stel: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon” (Heb 11: 6).

Daarom spreek dit vanself: geloftefeesgangers is gelowige mense, mense van die Woord wat veel meer luister as wat hulle praat. Gesprek oor God kan nooit God se spreke vooraf gaan nie, maar volg hoogstens nadat noukeurig en biddend geluister is. Om oor God te praat beteken nie om maar net met ‘n harde stem oor jouself te praat nie.

Die inhoud van geloftedagvieringe is by uitstek ‘n dankdag om die groot dade van God in die lewe van mense, van die Afrikaner in besonder te herdenk. Dit is ‘n dankdag wat soos ‘n Sondag gevier moet word, daarom verkondiging van die Woord en nadenke oor die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het.

Bibliografie

Botha, S J 1988. Die Gelofte van 1838 soos dit in 1880 by Paardekraal met 'n belofte bevestig is, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 63-82. Pretoria: Kital.

Oberholzer, J P 1988. 1835-1838. 'n Kort oorsig oor die aanloop tot die Gelofte en die Slag van Bloedrivier, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 1-26. Pretoria: Kital.

Pont, A D 1988. Die Gelofte van 1838 – 'n Poging om die teologiese agtergrond te peil, in Pont A D (red), Die Gelofte van 1838, 38-53. Pretoria: Kital.

07 Jan 2009

Paardekraal en Bloedrivier - 'n besondere verbintenis


Die Vryheid van die Voortrekkers na die oorwinning van die Zoeloes by die slag van Bloedrivier in 1838 was van korte duur, aangesien dit vervang was deur die vangnet van die Britse Imperialisme in Natal.

Die Voortrekkers wat altyd deur net vryheid gesoek het, het noodgedwonge Natal verlaat en in die Oranje Vrystaat en die Transvaal hul Boere Republieke tot stand gebring. Ook dit was van korte duur, toe die gulsige vergrypende magte van die imperialistiese Brittanje op die toneel verskyn, en dit op ‘n stadium toe die Trekkers reeds ‘n leefbare infrastruktuur in die wildernis geskep het.

Tydens die Sandrivier Verdrag van 1852 en die Bloemfontein Verdrag van 1854, wat plaasgevind het tussen die Twee Boere Republieke en die regering van Koningin Victoria, word die soewereiniteit van die twee state erken en die selfstandigheid van die Boere word eerbiedig.

In hierdie onstuimige tyd van die trek en veg vir vryheid, word die Gelofte van 1838 nooit feestelik herdenk nie. Slegs hier en daar is daar op ‘n klein skaal in klein kringe herdenkings gehou soos byvoorbeeld in Sarel Cillliers se eie huislike kring, waar die gelofte getrou herdenk is.

Op 12 April 1877 annekseer Shepstone en die Britse soldate sonder dat ‘n skoot gevuur is, Pretoria. Hulle haal die Vierkleur af en hys die Union Jack in die naam van Groot Britanje. Hierna begin ernstige spanning tussen die Boere en die Britte. Die Britte benodig die Boere se geld om hul kapitalistiese ideologie uit te voer en begin swaar belastings op die Boere hef.

Vroeg in Oktober 1880 bereik die spanning breekpunt toe ‘n boer van Potchefstroom, Mnr Piet Bezuidenhout gedagvaar word om agterstallige belasting te betaal en hy weier. Die balju lê beslag op sy ossewa, met die bedoeling om dit op die dorpsplein op te veil.

Onder leiding van Kommandant Piet Cronje gooi ‘n klompie boere die balju van die wa af en neem dit onder ‘n groot gejuig terug na Piet Bezuidenhout.

Die Britte was natuurlik nie met die toedrag van sake tevrede nie en hulle wou die “skuldiges” opsluit en verhoor.

Op hierdie tydstip het die Boere Driemanskap, naamlik Paul Kruger, MW Pretorius en Piet Joubert besluit dat die verset aksies nie meer genoeg is nie en hulle het ‘n dringende Boere Volksbyeenkoms belê om herstellende aksies te beplan. Die Volksbyeenkoms was gereël vir 8 Desember 1880, te Paardekraal.

Die volk het gehoor gegee en meer as 6000 gewapende man het by die klipkoppies op Paardekraal saamgetrek. Nadat die Volkskomitee van 32 saamgestel is, het hulle op 11 Desember ‘n proklamasie in die vorm van ‘n Gelofte opgestel.

Op 13 Desember 1880 het Adj. President Paul Kruger die Volk toegespreek om vas te stel of hulle eensgesind was en saamstem dat die Britte se juk afgeskud moes word. Na sy toespraak was die teenswoordige doodstil.

Paul Kruger het die klippe op die koppie waar hy gestaan het tot stil getuies van die “besluit van die volk” geroep. Hierna is krygswet aangekondig met die strydmag onder bevel van Kmdt Genl Piet Joubert.

Die volgende dag het elke burger ‘n klip (of twee) geneem en op die plek waar Paul Kruger gestaan het, ‘n stapel gepak. Martinus Ras het die vierkleur bo-op die klipstapel staan gemaak, hierdie klipstapel of altaar was ‘n teken van die (tweede) gelofte om met die hulp van God, die vryheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek in ere te herstel.

Hierna het verskeie skermutselings en die twee bekende veldslae, naamlik die slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 en die slag van Majuba op 27 Februarie 1881 gevolg.

Groot Britanje het die aftog geblaas en die twee republieke was weer vry, tot en met 1899 toe die Volskaalse Anglo Boereoorlog uitgebreek het.

Op versoek van die Volksraad is die Paardekraal Monument op die koppie op Paardekraal opgerig en President Paul Kruger het dit op 16 Desember 1891 tydens ‘n Gelofte en Verootmoedigingsfees onthul.

Hierdie dag was uiters gedenkwaardig aangesien dit die eerste Volksfees/Paardekraalfees was, waarop die Slag van Bloedrivier weer deur die boerevolk herdenk is.

Van hierdie dag af vorentoe het Paardekraal Monument ‘n dubbele betekenis gekry, naamlik ‘n besonderse verbintenis met die gelofte van 1838. Die stapel van 1880 is gehuisves in sy huis, soos die geskiedenis van 1880 to 1881 ook op die dag in sy ware perspektief aan die volk deur ‘n ware volksleier verkondig is.

Bloedrivier en Paardekraal het alby die Volk bymekaar gebring, trou aan mekaar laat sweer, maar belangrikste van al, die volk ook nader aan God gebring.

Daarom kan Bloedrivier en Paardekraal nooit weer geskei word nie. Op Paardekraal is die ideaal van die Voortrekkers verwesenlik, waar sy vinger wys, het die Volk homself en sy God gevind. Dit is die tradisie van Paardekraal, ‘n feesplek vir Boere Afrikaners wat hulle vereenselwig met die Gelofte van Bloedrivier en Paardekraal en die Feeste/Geloftes getrou onderhou.
Daarom hou ek nou die Gelofte aan u voor sodat ons, dit nooit mag vergeet en ook getrou sal onderhou.

GELOFTE 1838

My broeders en mede-landgenote, hier staan ons voor die Heilige God van hemel en van aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag, soos ‘n sabat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte; want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en eer van die oorwinning aan Hom te gee.


SL Mann - 22 November 2008

05 Dec 2008

Die DA kaap my kultuurerfenis




Media Verklaring
Paardekraal Verkenners
5 Desember 2008

Die DA kaap my kultuurerfenis



Na aanleiding van die berig wat in die 5de Desember 2008 se uitgawe van die Krugersdorp nuus verskyn het; "Kakebeenwa kom in Krugersdorp aan", net die volgende regstelling.

Die DA het NIE die Bloedrivier 170 herdenking by Paardekraal gereël nie. Hulle het ook nie die kakebeenwa "begelei" nie. Inteendeel, het hulle niks daarmee te doen gehad nie, die lede van die DA wat wel daar was, was daar in hulle persoonlike hoedanighede en het aan geen van die organiseerders te kenne gegee dat hulle DA raadslede is nie. Die persepsie wat die DA met die berug geskep het, dat hulle betrokke was by die dag of dat hulle die dag gereël het of die kakebeenwa "begelei" het, is van alle waarheid ontneem en is opsetlike agteraf misleiding. Die Feit dat die DA elders in die land die kultuur erfenis van die Afrikaner vertrap, soos die straatname wat hulle in die Kaap verander het, maar nou hierdie Afrikaner kultuur-dag wil kaap vir hulle eie gewin, laat 'n wrang smaak in die mond en is soos 'n dolk in enige Afrikaner hart. Dit is duidelik dat hulle geen amptelike beleid het oor kultuur sake nie en maar in elke stad of dorp vir die gehoor speel. Die Paardekraal Verkenners gaan egter nie toelaat dat die DA die Afrikaner se kultuur erfenis as 'n politieke speelbal gebruik nie, veral nie in Krugersdorp nie en veral nie as dit aksies is wat gereël en gefinansier is deur die Paardekraal Verkenners nie!

Dennis Pretorius van die DA wat klaarblyklik ook die oggend voor die optog by Paardekraal was, het blykbaar ook vinnig verdwyn toe die volks-vlae wat in die optog gebruik is te voorskyn gebring is. Dit is dieselfde Dennis Pretorius wat betrokke is by die publisiteit vereniging en tien teen een betrokke was by die verandering van die naam van Krugersdorp publisiteit vereniging na Mogale tourism. Is dit hoeveel die DA omgee vir die kultuurerfenis van Krugersdorp? Is dit hoeveel die DA omgee vir die kultuurerfenis van die Afrikaner? Weereens 'n bewys dat hulle vir die gehoor speel, behalwe as hulle toere doen binne die stadsraad. Dit is tog immers die stadsraad se naam wat na die mitiese figuur Mogale vernoem is, nie die dorp nie. Krugersdorp bly Krugersdorp! Indien Mogale tourism dan wel toere doen binne die stadsraad, dan stel ek voor dat hulle sommer die mense wat by die stadsraad werk ook op daardie toer neem en hulle wys waar die telefone is, sodat die belastingbetalers van Krugersdorp se oproepe beantwoord kan word.

Dit is ook nie die eerste keer dat raadslede van die DA kultuur-aksies in Krugersdorp kaap nie. Verlede jaar was daar 'n aksie om die konsentrasiekamp-kerkhof skoon te maak en het 'n DA raadslid ook in die media voorgegee of dit 'n DA aksie was. Laakbaar!

Ek rig 'n vriendelike waarskuwing aan die DA om nie verder die Afrikaner se kultuurerfenis te misbruik vir goedkoop politiek nie. Ek besef daar is 'n verkiesing binnekort, maar dit is oneties om in die media die persepsie te skep dat die DA hierdie kultuurdae reël wanneer die waarheid is, dat die DA niks met die reëlings te doen gehad het nie en bloot op die spreekwoordelike wa gespring het toe hy verby gekom het. As die DA dan werklik iets gevoel het vir die Afrikaner se kultuurerfenis, dan sou hulle al lankal self 'n kultuurdag of iets dergeliks gereël het. Maar hulle het nie en sal seker ook nooit nie. Dit is mos makliker om by die agterdeur in te glip van iemand anders se reëlings en dan in die media in die kollig te dans.

Die arrogansie en agterbaksheid van hierdie DA raadslede is verstommend en aangesien hulle nie vertrou kan word met die waarheid nie, het die Paardekraal Verkenners geen ander keuse as om enige DA raadslid as persona non grata te verklaar, by ENIGE kultuur byeenkoms gereël deur die Paardekraal Verkenners.

Verder verwag die Paardekraal Verkenners 'n amptelike publieke verskoning van die DA, om te verskyn in dieselfde koerante waarin die DA die leuens verkondig het. Dit word verder verwag dat hierdie verskoning sal verskyn binne 30 dae vanaf datum van hierdie skrywe.

Die uwe,

Ben Geldenhuys
Paardekraal Verkenners

29 Nov 2008

Paardekraal Geloftefees 2008


25 Nov 2008

Bloedrivier 170 - Die Afrikaner


23 Nov 2008

Bloedrivier 170 te Paardekraal


08 Nov 2008

Bloedrivier 170 by Paardekraal


04 Nov 2008

Artikel in Krugersdorp Nuus


03 Nov 2008

Berigte in "Op jou Voorstoep"



Berig in 'Op jou Voorstoep"


28 Oct 2008

Bloedrivier 170




Dit is vanjaar die 170ste herdenking van die slag van Bloedrivier. Belangriker nog, dit is die 170ste herdenking van ons volks se Gelofte wat by Bloedrivier gemaak is.

Om hierdie geleentheid te herdenk, het die Bloedrivier Geloftefees 'n kakebeenwa gebou wat vanaf die 21ste November 2008 van Pretoria na Bloedrivier sal reis.

Hierdie Kakebeenwa sal op Saterdag 22 November 2008 in Krugersdorp aankom. Die wa sal vanaf 10h00 deur die strate van Krugersdorp getrek word to by die Paardekraalmonument waar 'n feestelike program aangebied sal word.

27 Oct 2008

Openbare Verhore oor Naamsveranderings


Sekere sake moet in perspektief geplaas word rondom die gebeure by die sogenaamde openbare konsultasies oor Pretoria se straatnaamsveranderings.



Dit was veral jongmense, en spesifiek lede van die Verkenners se Jeugbeweging, wat betrokke was by die openbare “verhore”. Dit was een van die lede van die Verkenners wat deur die polisie weggevoer was, en wat later maar weer laat gaan is toe dit blyk dat hier sprake was van magsvergryp deur lede van die SAPD, en dat dit neerkom op ‘n onwettige arrestasie.



Die Dagbestuur van die Verkennersbeweging stel dit onomwonde dat hy nie gaan optree teen enige lid van die Verkenners se Jeugbeweging nie. Hulle het in hulle jeugdigheid, aangevoer deur erge frustrasie, sake dalk op ‘n ander wyse benader as wat ouer mense dit moontlik sou doen. Dit is egter so dat hulle nog meer die slagoffer is van ‘n bestel en omgewing wat Afrikaner-onvriendelik is. Hulle kry slegs met uiterste inspanning werk, want affirmative action tel teen hulle. As hulle ‘n eie onderneming wil begin, is SEB daar om ‘n deel van hulle onderneming van hulle af te vat. Op universiteite word hulle gedwing om te integreer, en die reg tot assosiasie en disassosiasie word hulle ontneem, onder die valse beskuldiging dat hulle dan rassisties is. Ook hulle wil die bietjie erfenis wat hulle vadere aan hulle oorgedra het, in die vorm van ‘n ontwikkelde stad met historiese name, sien behoue bly – iets wat lynreg bots met die sinnelose naamsveranderings.



Bowendien is dit duidelik dat die openbare verhore ‘n klug is en net bedoel is om te dien as rubberstempel op ‘n besluit wat reeds geneem is.



Die ANC-bestel lok sodanige optrede uit, en as iemand te blameer is, is dit die ANC self. Die ANC moet dalk kennis neem dat optredes van dié aard, in die toekoms eerder sal toeneem as afneem, as die ANC voortgaan met sy Afrikaner- en Boere-vervolging.



Die Verkennersbeweging is trots op hierdie lede van hom, wat nie skroom om standpunt in te neem nie, en selfs bereid is om daarvoor opgesluit te word in omstandighede wat bekend is as haglik. Dit is wonderlik om te sien dat seuns mannemoed openbaar oor iets waaroor hulle sterk voel. Ons kan hulle net gelukwens met hulle optrede.



Ons doen ook ‘n beroep op elkeen van hulle wat ook maar net gedreig is met geweld deur arrogante polisielede wat skynbaar nie weet waar hulle bevoegdhede eindig nie, om aanrandingsklagtes teen dié polisielede aanhangig te maak nie, ongeag of hulle wit of swart is. Die Verkennersbeweging sal help met regshulp indien nodig.



Henk van de Graaf

President