25 Feb 2009

Stephanus Roos - Die held van Majuba


Sondag oggend 27 Februarie 1881 het die Boere die Engelse op Majuba kop gewaar. Dit word vertel dat genl. Piet Joubert agter 'n wa gestaan het en in sy piepstemmetjie aan die burgers in die omgewing geskree het; "Ek het mos vir julle gesê dit sal kom. Daar is die Engelse nou op die kop en julle moet hulle daar gaan afhaal!" Die beskrywing van wat daarna gebeur, laat ons aan veldkornet Stephanus Roos, die held van Majuba oor:

Toe ons die Sondagmôre vroeg gewaar dat die Engelse bo op die kop is, was daar groot opskudding in ons laer. Alles en almal is in rep en roer. Ek voel aan my hart; as ons die Engelse nie dadelik van die kop afhaal nie en vir hulle eers tyd gee om hulself daar te verskans en kanonne daar te bring, dan is ons verlore. Daar was g'n tyd of kans om eers 'n krygsraad te roep nie. Ek gryp sommer my perd en jaag storm teen die voet van die berg uit. Hier en daar sien ek enkele persone van verskillende veldkornetskappe ook te perd jaag. Ek skree en wink vir hulle met my hoed. Ons jaag toe tot onder die eerste afset, want die berg maak verskillende afsette en ons laat ons perde sommer onder in die kloof staan. Ons was maar omtrent twaalf man toe ons daar kom. Maar ek sien toe nog gedurig die manne met tweë en drieë aangejaag kom van verskillende kante af. Ek skree en wink maar gedurig met my hoed dat hulle almal daar onder die rant bymekaar moet kom.

Toe ons omtrent 40 of 50 man bymekaar was, kyk ons hoeveel krygsoffisiere daar was. Toe was dit net komdt. Joachim Ferreira van Nuwe Skotland en ek. Ek ek was maar 'n assistent veldkornet. Ek sê toe vir hulle; "Ek voel aan my hart dat ons die kop moet neem, want as ons die kop nie dadelik neem nie en ons gee die Engelse tyd om hulle te versterk, dan is ons verlore." Hulle sê hulle dink ook so.

Toe sê ek vir hulle: "Maar hier moet ons met mekaar 'n verbond maak om die kop te neem of om almal te val. Want as ons 'n aanval maak en die kop nie neem nie, sal genl. Joubert baie kwaad weesvir Ferreira en vir my, dat ons teen sy bevel die kop bestorm het" (want sy bevel was om nie die kop te bestorm nie). Hulle sê toe almal dat dit goed is; hulle sal my volg en ons sal saam die kop neem, of almal saam val.Ek sê toe vir hulle; "Ons God sal ons help en ons sal die kop neem, want ons kan nie anders nie." Ek sê toe verder vir hulle: " Ek sien maar net een plan om die kop te neem. Ons moet ons in twee klompe verdeel. Die een klomp moet reg teen die kop uit opklim, van die een afset na die ander en die ander klomp moet 'n koppie neem wat eenkant van die groot kop uitsteek. Dan kan ons probeer om oor en weer skuins mekaar los te skiet en so al hoër op te klim." Ek vra toe vir Ferreira watter van die twee klompe hy wil aanvoer. Hy sê hy sal die koppie neem.

Ons deel toe die manskappe, soveel moontlik vrywilligers, tussen ons twee. Hulle was toe al aangegroei tot tussen 70 en 80 man volgens my skatting. Ek sê toe vir my manskappe dat party met my saam moet opkruip tot agter die volgende afset of rant en party moet hier by die eerste afset agterbly om die Engelse terug te skiet as hulle te ver uitkom om ons te belet om die volgende rant te neem, want die Engelse skiet toe al pylskote op ons bo van die kop af. Daar kom toe ook enkele persone agterna, wat party agter Ferreira aangaan en party hulle by my manne voeg. Maar van nou af het ek amper g'n tyd meer gehad vir omkyk nie. Ek was maar altyd besig om my manne aan te moedig en voort te help, sodat hulle g'n tyd kry om moed te verloor nie. En ons manskappe was wel min, maar ons het die dapperste kêrels by ons.

Die tweede rant of afset bereik ons dan ook in taamlik korte tyd en sonder enige nadeel deur die pylskote wat oor ons koppe vlieg en op die manier later een van ons manne gedood het, nl Johannes Bekker en ses gewond het, nie van ons voorste mense nie, maar van die agterste, sodat ons voorste manne nie eens daarvan geweet het nie. (en dit is ons enigste verlies van die dag) (een van die gewondes het later beswyk)

Toe ons agter die tweede afset kom, gaan ons bietjie rus agter 'n krans, sodat ons agterste manne kan bykom. Ons sien toe dat Ferreira en sy manne al aan die veg is, want daar was al Engelse op die koppie wat hy moes neem. Gelukkig kon ons die Engelse wat op die koppie is, skuins van agter beskiet, terwyl hy hulle van voor beskiet. Hulle vlug dan ook gou toe hulle die vuur van twee kante kry, want daar was nie veel skuiling op die koppie nie. Terwyl ons dus vir Ferreira help om die koppie te neem, kom my agterste manne by en dit las nog maar altyd agter aan van die wat nog steeds bykom. Ek gee toe weer dieselfde bevel: dat party van my manskappe agter die middelste rant moet bly om die Engelse terug te skiet agter die boonste rant wat ons nou moet probeer neem. Ek het gesien dat ons daar hard sal moet veg, want daar sal ons bors aan bors met die Engelse kom en daar moes ons wen of verloor.

En so was dit ook. Toe ons agter die middelste rant uitkom, skiet die Engelse net hard op ons. Maar gelukkig kom Ferreira en sy manskappe toe net uit op die koppie en so kon hulle weer ons losskiet soos ons vir hulle los geskied het. So skiet ons skuins oor en weer mekaar los. Ek sien toe dat ons God vir ons help en sê dit vir my manskappe wat by ons was en ons vat nuwe moed.

Maar glo my, van toe af het dit hard gegaan. Ons moes op ons buik die berg opkruip agter die hoe graspolle en van een klip en kliprantjie na die ander. Maar ons kruip al nader en nader, en die geveg word al harder hoe nader ons kom. Maar ons agterste kêrels van die middelste rant af en Ferreira se manne hou die Engelse so warm dat hulle nie durf uitkom om behoorlik korrel te vat op ons nie.

Eiendelik bereik ons die bo-rant, want die kop is bo plat met 'n rant van klippers rondom. Toe veg ons amper bors aan bors met die Engelse, maar amper sonder dat ons mekaar sien. Partykeer is hulle eenkant van 'n klip en van ons mense anderkant; partykeer kan ons die trompe van mekaar se gewere sien; en ek weet nog nie hoe is dit dat daar nie van ons mense geval het nie. Ons liewe Heer moet vir ons bewaar het.

Naderhand wyk die Engelse terug en hulle skiet hou op, maar ek hoor aan die skote dat Ferreira die kop aan die ander kant bestorm en net hard veg. Ek dog; "nou is my tyd". Ek was die voorste van my manskappe en tel my kop op om oor 'n klipkoppie bo op die kop te kyk. Maar ek skrik toe ek die mag van die Engelse bo op die kop sien. Hoewel 'n ent van ons af, was dit 'n digte trop en aan die ander kant veg hulle hard met Ferreira. Ek buk dadelik weer - hulle het my nie gewaar nie - en kyk om. Toe sien ek eers hoe min manskappe by my is en hoe enkeld en uitmekaar my mense aankom.

Ja, ons liewe Heer weet dit, toe sink my moed vir 'n oomblik weg. Ek dag; "Ag, die Engelse kan kom en ons klompie hier vang met die hande en ons almal vasmaak." En dan het ek geweet as dit tot die uiterste kom, die Engelse ons met die bajonette sal storm. En ek wil nie ontken nie, toe het ek gebruik gemaak van 'n leun. Ek hoop ons liewe Heer het my dit vergewe! Ek wink toe met my hoed en ek skree: "Kêrels, kom nou! Kom gou! Die Engelse vlug!" A ja, toe borrel my kêrels agter die klippe uit en die agterstes kom aan dat dit help. Ons storm toe sommer bo op die rant. Ek dink ons was daar 40 of 50 man en die Engelse was 30 of 40 tree van ons af. Ons vuur toe op die Engelse so hard as ons kan, want hulle staan toe oop en bloot en ons het tog 'n bietjie skuiling agter die klippe. Die Engelse wil osn toe storm met die bajonette, maar ons skiet hulle twee maal terug. Net toe die Engelse ons storm, kry Ferreira weer kans, en koeël hulle vuurwarm van die anderkant af. En net op die kritieke oomblik hoor ek van 'n derde kant af ook skiet. Daar kom Stefanus Trichard en D Malan met 'n klompie Utrechtse mense ook uit. Toe kry die Engelse dit van drie kante af gelyk en ek dink dis net toe ook dat Colley geval het. Dit kon die Engelse nie uithou nie. Dit kom toe te hard en hulle bars sommer die berg anderkant af. Ons mense loop toe sommer storm om die Engelse wat vlug van agter af te skiet en ek ook saam. Maar 'n menigte Engelse bly sommer staan en gee hulself oor. Toe ek sien hoe baie Engelse daar nog agter ons staan wat hulle oorgegee het, word ek bang dat as hulle sien hoe min ons is, hulle straks vir ons van agter kan aanval en as die voorste wat vlug dan omspring, dan is ons tussen twee vure. Ek ken geen Engels nie, maar ek kry toe gou een van ons jong kêrels wat Engels ken en ek sê vir hom; "Skree nou hard vir hulle in Engels dat as hulle hulleself wil oorgee, sal hulle niks kwaads oorkom nie; maar dan moet hulle almal gaan plat lê tot die geveg oor is; want as een sy kop optel, dan kan ek nie help as hy 'n koeël kry nie." Hulle gaan toe almal plat lê en so kon ons manskappe die vlugtende Engelse agterna skiet. Party spring sommer die hoë kranse af en party het in die kranse en bosse bly hang.

Daar het die dag van die Engelse geval: vier offisiere, met Colley daarby en 86 man; gewond was daar agt offisiere en 125 man. Ses offisiere, waarby een luitenant-kolonel en 51 man het ons gevange geneem. Ons sien toe dat Colley amper sy hele mag op die kop gehad het en dat hulle neerlaag volkome is, want die wat gevlug het, vlug party sommer verkeerde koers die Drakensberge in. En die wat halfpad na die kamp onder by die kanonne was, vlug ook party die kamp verby.

Toe al ons mense bymekaar was op die kop na afloop van die slag, was ons tussen 180 en 200 man. Ons maak toe plan om 'n klein wag by die krygsgevangenes op die kop te laat en die Engelse kamp te gaan bestorm. Maar terwyl ons nog daaroor planne maak. kom daar 'n digte mis op uit Natal; so skielik en so dig soos ek nog nie gesien het nie. Toe sê ons almal; "Nee, dis die hand van die Here wat sê; so ver, maar nie verder nie."
En ons dank die Here vir sy verlossing die Sondagaand.

Vir vryheid en vir reg.
Generaal J.C.G Kemp