Dit was nie die klagtes van die vroue in konsentrasiekampe wat die bittereinders in die Anglo-Boereoorlog uiteindelik tot onderhandeling gedwing het nie, maar eerder die wete dat ‘n hele geslag van die Boerevolk kan uitsterf. Want hierdie merkwaardige vroue het hul lot stil verduur net sodat hul mans kon aanhou veg vir vryheid.
Die Smarte van Oorlog
Dit het ‘n Britse vrou, aangedryf deur ‘n “diep sin van regverdigheid, geloof, barmhartig en patriotisme” gekos om die gruwels van die Anglo-Boereoorlog aan die wêreld uit te basuin.
Lank voor feminisme en vroueregte, en ten spyte daarvan dat haar landgenote haar as “pro-Boer” en ‘n verraaier uitgekryt het, het Emily Hobhouse eers probeer om die naderende oorlog te keer as lid van die South African Conciliation Committee in Brittanje.
Toe die oorlog wel uitbreek, was dit sy wat aangedring het dat ‘n openbare vergadering ‘n verklaring van medelye met die Boerevroue van die OVS en Transvaal uitspreek. “(This meeting) begs them to remember that thousands of English women are filled with profound sorrow at the thought of their sufferings, and with deep regret at the actions of their own Government.”
En dit was dieselfde Emily Hobhouse, of “Ons Miss Hobhouse”, soos die Boerevroue in konsentrasiekampe haar verdoop het, wat self kom kyk het hoe die oorlog geveg word en wat vroue in die kampe kom besoek het. Sy was onverskrokke in haar kritiek en hartstogtelik in haar geveg met owerhede vir reg en regverdigheid vir die Boerevolk – veral vir hulle vroue en kinders wat in haglike omstandighede probeer oorleef het. Sy was, in haar eie woorde, nie oortuig daarvan dat haar vaderland volgens die “highest principles of justice and humanity” opgetree het nie.
Sy het die oorlog ook deeglik uit gedokumenteer met haar boeke, o.m. The Brunt of the War and Where it Fell (waarvan uittreksels verskyn in en wat as inspirasie gedien het vir Die Smarte van Oorlog). Na die oorlog het sy ook gehelp om ‘n “platgeslane volk weer uit die as op te tel.”
Sy is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede, en op haar begrafnis het Genl. J.C. Smuts so verwys na die Engel van Liefde, soos die Afrikanervolk haar beskryf het: “We stood alone in the world, almost friendless against the mightiest Empire on earth. And then, one small hand, the hand of a woman, was stretched out to us. At that darkest hour, when our race almost seemed doomed to extinction, she appeard as an angel…Strangest of all, she was an Englishwoman.”
“This unknown woman appeared from nowhere and pressed the right button and the course of the history of South Africa was permanently altered…she became the great symbol of reconciliation between closely kin peoples who should never have been enemies.”
Die onverskrokke “Englishwoman” se as is op 27 Oktober 1926 aan die voet van die Vrouemonument begrawe – ‘n uitlander tussen Suid-Afrikaanse helde. Want soos Eunice Ferreira, een van vier dogters in ‘n Bloemfonteinse konsentrasiekamp deur Hobhouse gehelp is, in ‘n bedankingsbrief geskryf het: “You live in the heart of the South African women and we will pass it on as an inheritance to our children.”
Hoekom was vroue en kinders ook teikens?
Die Boeremagte se leiers moes hulle na die slag by Paardeberg op 27 Februarie 1900, toe generaal Cronje en sowat 4000 manskappe tot oorgawe gedwing is, tot ander oorlogstaktiek wend. Vir hulle was die oorlog nog lank nie verby nie, al het die Britte reeds die hoofstede ingeneem en geglo die oorlog is gewen.
Guerilla-oorlogvoering is vir die eerste keer in ons geskiedenis ingespan, en onder leiers soos C.R. de Wet het die Boere die vyand meesterlik uitoorlê. Nie eers die oprig van sowat 8 000 blokhuise, met doringdraadlinies verbind, kon hulle keer nie.
Die plase was vir die Boeremagte ‘n voortdurende bron van kos, en het gelei tot die “verskroeide aarde”-beleid waarin plase afgebrand is om die Boeremagte aan te keer en van moontlike voedselbronne en wegkruipplekke af te sny. Toe dít ook nie werk nie, is daar begin om plaashuise (en selfs pastorieë, sendingstasies en kleiner dorpies) af te brand en vroue, kinders en bejaardes na konsentrasiekampe te neem. Soms is die vroue selfs gedwing om self daarvoor te betaal.
Vroue en kinders is, soos dekades later onder Hitler, in vuil veetrokke na kampe aangery. Vroue met babas is kos vir hulle suigelinge geweier, terwyl groter kinders en vroue openlik gehuil het van honger. Ma’s kon niks doen om hulself en hul kinders teen die skroeiende Afrika-son of die striemende winterkoue te beskerm nie. Soms was hulle enigste besittings die dun huisdraklere wat hulle aangehad het voordat hulle huise afgebrand is. Vroue het in die oop trokke tussen die kinders begin kraam. Party het saam met hul babas in kraam gesterf.
By die kampe het tente, en soms sinkhutte gewag vir “hierdie mense wat van die voorste klas boere” was, soos sir David Graaff se suster hulle na ‘n kampbesoek beskryf het. “In die bepertke ruimte wat aan elke familie toegestaan was, was siekes, sterwendes en dooies te sien.”
Selfs vroue wie se mans reeds krygsgevangenes was en wat agtergelaat is om alleen die mas te probeer opkom, is nie gespaar nie. Ook nie eens die vroue van sendelinge en predikante nie, en selfs bejaardes is kampe toe geneem.
Soms het vroue daarin geslaag om met hul swart plaaswerkers en kinders te ontvlug, maar hulle lot was ewe droewig. Hulle moes rondswerf, en was die teiken van besope Britse soldate en rondswerwende swart bendes. Verkragting, erge ontbering en hongersnood was hulle voorland. Met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 het Genl. Louis Botha geskat dat daar ongeveer 10 000 vroue en kinders net in die Transvaal rondgeswerf het.
Die konsentrasiekampe was dalk nie bedoel om plekke van lyding te word nie, maar die infrastruktuur was eenvoudig onvoldoende om soveel mense te hanteer. Daar was 52 konsentrasiekampe vir witmense en 89 kampe vir swartmense, maar daar was nie voldoende sanitasie, brandhout of water nie. Kosvoorsiening was ontoereikend – seker nie verrassend as mens dink 30 000 plase met lande vol oeste afgebrand en duisende vee doodgeskiet of doodgebrand is nie. Sowat 500 000 perde is in die oorlog dood.
In sommige kampe het dit beter gegaan as in ander, maar in die meeste is die verpligte rantsoene van mieliemeel, meel, koffie, suiker, sout, vleis en groente wat drie maal per week verskaf moes word, nie gegee nie, of net gedeeltes daarvan is gegee.
Boonop moes die inwoners in sommige gevalle self vir hul rantsoene betaal! Waar rantsoene wel sporadies uitgedeel is, is die vroue dikwels verneder deur ‘n heen-en-weer stuurdery en beledigings – die trotse vroue het daarom dikwels eerder in stilte gely as om oor hul nood te praat.
Vanweë die opeenhoping van mense het epidemies van masels, witseerkeel, kinkhoes, diarree en ingewandskoors uitgebreek en duisende sterftes veroorsaak. Die sterftesyfer in kampe vol nie-vegtendes was ses, byna sewe maal hoër as onder die vegtende Boeremagte: 3 990 Boerekrygers het gesneuwel op die slagveld, terwyl 27 927 vroue, kinders en nie-vegtende mans in die wit konsentrasiekampe gesterf het. Hieronder was 22 000 jonger as 16, en van die 1676 mans ouer as 16 wat gesterf het, was 1 421 bejaard.
Die lot van swartes
Dit was nie net Afrikaners wat gely het nie, maar ook die swartmense van die land. Sommige het onafhanklik op klein lappies grond op plase geboer – ook hulle oeste en huise is afgebrand, en hulle is saam met die plaasmense konsentrasiekamp toe gestuur. Teen Augustus 1901 was daar net meer as 53 000 swartmense in konsentrasiekampe.
Die wat die konsentrasiekampe vrygespring het en sonder heenkome rondgeswerf het, is na vlugtelingkampe geneem. Sommige is na arbeiderskampe gestuur, en moes hande-arbeid vir die Britte doen.
Nog ander is deur Britse magte gebruik as spioene, bewakers van blokhuise of in operasies teen die Boere, onder meer om huise te plunder en af te brand. Hulle is karige lone betaal, maar is belowe dat hulle na die oorlog die Boere se plase, vroue en kinders as belonging sou kry.
Na raming het 20 000 swart Suid-Afrikaners in die oorlog gesterf.
Wat oor die oorlog gesê is:
• “Mens moes die pen van ‘n Jesaja of ‘n Jeremia hê om hierdie gruwel van verwoesting te kan beskryf.” - Genl. Jan Smuts.
• “O, as God ons nie kom help nie, dan weet ek nie wat van ons sal word nie… Al moet ek nog soveel verduur, sal ek ‘n Afrikaner bly. Bid tog baie vir ons. God alleen weet wat ons te ly het.” - ‘n Vrou in ‘n brief vanuit ‘n Bloemfonteinse konsentrasiekamp.
• “Die moeder en twee dogters het op hulle knieë geval en gebid en gesing onder bitter trane [terwyl hulle huis brand]. Een van die meisies het op ‘n harmonium ‘n paar liedere begin speel. Hulle het gesing Rots der Eeuwen en sy het toe hardop en aanhoudend histeries begin lag en het deurmekaar gepraat. ‘n Dokter wat haar gesien het voor ons die plek verlaat het, het probeer om haar te kalmeer, dog die arme vrou het rasend mal geword.” – Ene Arthur, ‘n Britse soldaat, in ‘n brief aan ‘n Britse koerant waarin hy vertel van die hartverskeurende plundertogte en huisafbrandings waaraan hy moes meedoen.
• “Ons het duisende skape doodgemaak en in elke huis [in Vrede] geplaas. Die reuk sal oor ‘n week ontsettend wees. Dit is om te verhinder dat die Boere terugkom.” – Victor Swift, ‘n soldaat, in ‘n brief aan vriende by sy werk.
• “Die mense lyk verbasend veel na Engelse, veral die meisies en kindertjies – blond en groot en gesond.” Kaptein L. March-Phillips, ‘n Britse offisier.
• “Julle vrouens is die oorsaak van hierdie oorlog; as julle ingee, dan sal julle mans dieselfde doen. Jy moet jou oom Louis Botha aansê om oor te gee.” – ‘n Offisier aan Mev. John Murray, ‘n familielid van Genl. Louis Botha en die vrou van ‘n sendeling, wie se huis op ‘n sendingstasie ook afgebrand is.
• “As julle almal baie arm is, dan kan ons julle plase vir ‘n appel en ‘n ei koop, en dan sal julle mans ons knegte wees en julle vroue sal ons vroue dien.” – ‘n Ander offisier aan mevrou Murray.
• “As iemand moet ly, dan moet dit julle wees.” – Nog ‘n ander soldaat se verduideliking hoekom mevrou Murray-hulle al hulle voorrade, insluitende ‘n melkkoei, moes oorhandig.
• “Ek het een arme vrou gevind met haar aangesig na die muur gekeer, wat bittere trane stort. Toe ek haar vra na die oorsaak van haar smart, toe draai sy om en sê dat sy nou net haar sesde en laaste kind verloor het. Almal is dood in die kamp.”Sir David Graaff se suster, Mev. P. Maritz Botha na ‘n besoek aan Johannesburgse kampe.
• “In ons geval was dit blykbaar ons straf vir die bidure wat ons gehou het, wat in daardie tyd onder ons mense gebruiklik was.” – ‘n Onbekende vrou se verduideliking vir hoekom sy en haar groep na ‘n kamp vir “ongewenstes” oorgeplaas is. (In hierdie kamp is hulle dag en nag deur gewapende wagte bewaak, en was hulle “hutte of afdakke” omring deur ‘n hoë sinkomheining.)
Briewe uit die kampe
Hier is uittreksels uit ‘n brief van Mev. PJ Botha uit die kamp in Bloemfontein aan haar suster in Kaapstad:
“Ek hoef nie te sê wat die kamplewe is nie; om met alle klasse en in alle omstandighede in een plek te wees – dit is byna té erg om te beskryf. Ek wis nooit dat tentlewe so swaar is nie. Ek bly in ‘n beltent met al vyf my kinders. In droë weer is dit vreeslik warm, maar moenie van nat weer praat nie wanneer die water onder ‘n mens inloop en al die beddegoed nat maak en dit van bo af nog lek ook. Dit sal jou laat lag en huil om jou arme ou suster te sien agter die waterkar aan draf om ‘n bietjie water te kry, en dan weer die koppies uitklim om hout te gaan haal; ons moet alles self kry.”
Sy het aansoek gedoen om na Kaapstad te gaan, maar dis geweier. “Maar jy kan my glo, liewe Hessie, ek voel op ‘n manier trots om met my volk te kan ly, want ‘n mens kan nooit waarlik medelye hê voordat jy nie in dieselfde omstandighede geplaas was nie; nou kan ek, ek verseker jou, met almal van harte deel…”
‘n Onbekende jong meisie skryf aan ‘n oud-onderwyseres op Nuwejaarsdag 1901:
“Elkeen probeer om die beste van alles te maak. Ek kan u nie vertel hoe swaar die lewe in die kamp is nie. Verbeel u elf mense in een tent. Dit is baie beknop. Ek dink dit is net wat ons nodig het, want as ons hier sou wees en alles gemaklik en lekker het, sou die lewe ondraaglik wees. Ons het nou skaars tyd om te dink, want ons het nouliks klaar water aangedra of ons moet weer die lyne van die tent gaan styftrek… Daar is altyd iets wat gedoen moet word. En as dit aand word, is ons almal afgemat na die dag se werk.”
Dan vertel sy oor die vorige aand se Nuwejaarsvieringe tussen elfuur en middernag.
“Presies twaalfuur het ons die Nuwejaarsgesang in die middle van die kamp gesing. Dit was ‘n stil aand, en ons kon ‘n kers saamdra. Dit was ‘n nag wat ek nooit sal vergeet nie, want onder al ons droefheid en beproewing het ons Prijs den Heer gesing en baie ander gesange.”
Getuigskrif vir ‘n volk en sy vroue
Hobhouse het na die oorlog in aangrypende woorde geskryf oor die verkeerdelike swartsmeerdery teen die Boere en hul vroue:
“Die Boere is self vroeër wrede struikrowers, plunderaars, diewe, moordenaars en rebelled genoem. Hulle word nou beter begryp as synde dappere en heldhaftige manne, waardig en verstandig, met grondige beskouinge omtrent selfverdediging.”
Sy verdedig ook hul vroue, “daardie vuil, lui, leuenagtige vroue, so onverskillig omtrent hulle kinders wat hulle so verwaarloos en selfs met opset vergiftig het” [soos wat kampowerhede graag beweer het].
“(Hulle is) in werklikheid ‘n beskaafde en hardwerkende klas van mense, so waarheidsliewend… en in staat om hulle groot families met liefde en sorg groot te maak.”
“Dit mag selfs erken word dat hulle nog méér as dit is: dat hulle tot onwankelbare getrouheid, ongeag persoonlike opoffering, in staat is; dat hulle selfbeheer, verdraagsaamheid en ander fynere karaktertrekke wat tot die beste stande behoort, goed verstaan.”
Uit: Die Smarte van Oorlog, saamgestel deur Paul Alberts, Kraal Uitgewers BK, 2005.